Kassie-kuiers met Renaldo Schwarp is ’n opwindende vermaakprogram wat weekliks op kykNET se digitale platforms uitgesaai word. Buiten nuus oor storielyne, word daar ook dieper gedelf in brandende gesprekspunte. Renaldo voer ook onderhoude met akteurs, aanbieders, asook die agter-die-skerms-helde wat help om ons plaaslike stories te skep en op die lug te kry.
Nuwe episodes – in video- en podcast-formaat – word op Woensdae op kykNET se YouTube-kanaal, en ander sosiale media platforms gedeel, asook hier op terloops.
Kyk hiernaas na al die beskikbare episodes – die nuutste episode word eerste gelys, met die res in chronologiese volgorde.
Episode 55: Puik TV tydens 2022
Kassie-kuiers sluit die jaar af deur terug te kyk na die grootste TV-oomblikke van 2022: Drama, komedies, realiteitsprogramme en telenovella’s – puik TV-vermaak was inderdaad volop.
Argief-episodes
Episode 1: kykNET se mees gehate TV-feekse: Margit, Marion en Rehane
In die eerste episode is daar reeds met ’n rits TV-feekse gesels – Binnelanders se Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm van Suidooster en Rehane Abrahams van Arendsvlei.
Episode 2: “Daar is nie ’n mooi manier om hierdie stories te vertel nie”
*Trigger warning* – Hierdie episode handel oor verkragting en geslagsgeweld.
In die tweede episode val die soeklig op geslagsgeweld en verkragting. Storielyne rondom geslagsgeweld is nie ’n nuwe verskynsel nie. Sepies het al oor die jare hierdie euwel uit verskillende invalshoeke ontbloot. Renaldo gesels in die episode met Soné Comrinck, uitvoerende vervaardiger van Getroud met Rugby, wat meer uitbrei oor hul onlangse geslagsgeweld storielyn. Ernusta Maralack, aanbieder van kykNET&kie se Op Seer Se Spoor, gesels ook saam oor haar ervarings met misdaadsake rondom geslagsgeweld.
Episode 3: Familie-tyd: Die goed en die sleg daarvan
Die gewilde kykNET-familiedrama Alles Malan is terug op die kassie vir die tweede seisoen. Renaldo gesels in die derde episode van Kassie-Kuiers met die akteurs Nadia Valvekens en Greteli Fincham oor familie, ma- én vrouwees. Renaldo deel ook watter reekse op jou vakansie binge-lys moet wees.
Episode 4: Die grootste sepie-storielyne – deel 1
Manna uit die sepie-hemel! Liefdesdriehoeke, moord, onverwagse swangerskappe en pragtige troues… In die vierde episode van Kassie-Kuiers gesels Renaldo Schwarp met Craig Adriaanse van Arendsvlei en Melissa Massyn van Getroud van Rugby oor vanjaar se grootste storielyn-skokke wat kykers onkant gevang het.
Episode 5: Die grootste sepie-storielyne van 2021 – deel 2
Nes die vorige episode, kyk ons terug na die grooste storielyne van die jaar. Die week val die soeklig op #Binnelanders en #Suidooster.
Episode 6: Die soeke na liefde duur voort in Boer soek ’n Vrou S14
In hierdie week se episode van Kassie-Kuiers gesels die aanbieder van Boer soek ’n Vrou, Marciel Hopkins, oor die nuwe seisoen van dié gewilde plaaslike realiteitsreeks. Marciel verklap ’n paar dinge oor die liefdesdrama wat oor die nuwe seisoen gaan uitspeel. Die 14de seisoen begin 13 Januarie. Kyk dit ook op DStv Catch Up!
Episode 7: Hotel kielie die bielie nog ’n laaste maal
Die vyfde en finale seisoen van die gewilde komedie, Hotel, het pas afgeskop met tonne kinkels en kwinkslae wat kykers behoorlik laat skaterlag. In dié episode van Kassie Kuiers kyk Renaldo Schwarp en die aktrises Simoné Pretorius en Mila Guy terug na die vorige seisoene.
Episode 8: Die Byl is terug!
Die gewilde speurdrama, Die Byl, het sy welkome terugkeer op kykNET gemaak. Renaldo Schwarp gesels met die akteurs Waldemar Schultz en Lika Berning oor die vierde seisoen en waarna kykers alles kan uitsien.
Episode 9: Die kuns van drag
“Dis outfits. Dis make-up. Dis stockings…” Die kuns van drag word onder die vergrootglas geplaas as die akteur en drag-kunstenaar, Phillip Schnetler, en Wat Dit Vat-sanger, Edó Mostert, met Renaldo Schwarp oor hierdie kleurvolle persoonlikhede, voorbereidings en die geskiedenis daaromtrent gesels.
Episode 10: Kunstenaars met vele talente
Televisiesterre skitter soms ook op die musiekverhoog. Kassie-Kuiers se Renaldo gesels met Jawaahier Pietersen, Kaashifa in die immergewilde sepie Suidooster, asook die Koortjies-aanbieder, Jonathan Rubain, oor hul musiekloopbane en debuutalbums. Hulle praat ook oor hoe om ’n balans tussen hul TV- en musiekloopbane te vind, en verklap hul guilty pleasures.
Episode 11: Die maand van liefde
Dis die maand van liefde en dís waaroor ons gesels met plaaslike sterre in hierdie episode van #KassieKuiers. Renaldo Schwarp gesels met Denise Newman van Suidooster-faam asook die Getroud met Rugby-akteurspaar, Werner en Marijke Coetser, wat meer verklap oor verliefdheid, verhoudings en vennote!
Episode 12: Met nuwe sepie-karakters kom nuwe moeilikheid
Nuwe karakters – veral in sepies – veroorsaak gewoonlik een of ander tipe moeilikheid met hul aankoms. In #KassieKuiers gesels Renaldo Schwarp juis met twee nuwe sepie-karakters: Hannah Borthwick, wat die rol van Samantha in Suidooster vertolk; en Boudine Ballem, wat die rol van Ruby in Arendsvlei speel. Ons het reeds meer oor Ruby se geheime geleer (lees meer daaroor hier), maar watter ander geraamtes is in Ruby en Samantha se kaste te vinde?
Episode 13: Als het ’n begin én ’n einde
Ná die aankondiging oor die einde van Getroud Met Rugby, gesels Kassie-Kuiers se Renaldo Schwarp met Waldimar Pelser, direkteur van kykNET-kanale, oor die redes vir dié besluit. Getroud Met Rugby-akteurs, Natasja Jacobs en Adrian Steyn, vertel ook hoe hulle oor die einde van hierdie hoofstuk voel.
Episode 14: 4000 episodes propvol drama
Die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, vier sy 4000ste episode – ’n ongelooflike prestasie in die plaaslike vermaakbedryf. Renaldo Schwarp gesels met die akteurs Hykie Berg en Cindy Swanepoel oor dié mylpaal. En daar’s ’n nuwe gesig! Mila Guy is binnekort ook deel van die Binnelanders-rolverdeling.
Episode 15: Sex in Afrikaans nie bloot oor stoutigheid op TV nie
Dié episode fokus op Showmax se opspraakwekkende dokumentêre reeks, Sex in Afrikaans. Renaldo Schwarp gesels met die reeks se vervaardiger, Rian van Heerden, asook die toesigvervaardiger Marguerite Albrecht, oor hoekom hierdie reeks nie poog om nét te skok nie – dit bied ook ’n geleentheid vir mense om oor seks en seksualiteit te leer.
Lees meer oor Sex in Afrikaans
Episode 16: Nuus in Afrikaans
Die gedugte eNuus-span lewer elke dag regstreekse nuus in Afrikaans op die kykNET-kanale. #KassieKuiers se Renaldo Schwarp gesels met aanbieders, Daniëlla van Heerden, Percivale Young en Barron Hufkie, oor hoekom TV-nuus steeds só relevant en belangrik in 2022 is.
Episode 17: Hoe om die bielie op TV te kielie
Komedie op die kassie is nie ’n maklike taak nie. Wat maak van dit ’n hit or miss? Renaldo Schwarp gesels met Bennie Fourie (Hotel) en komedie-doyenne Lizz Meiring (Molly & Wors, Huis Lelieveld, Hester en Ester Bester) hieroor. Hulle verklap ook meer oor wat agter die skerms gebeur en wat hul gunsteling TV-komedies is.
Episode 18: Silwerskermfees terug met glitter en talent
“Glitter…het ons nodig!” Só sê die aktrise Ilse Roos op die 2022 Silwerskermfees se blou tapyt. Renaldo Schwarp het in Kampsbaai met flieksterre soos Roos, Ivan Botha, Jarrid Geduld, Nicole Fortuin en Cintaine Schutte oor hul nuwe rolprente gesels.
Episode 19: Liefdesreis voor die kamera
Kassie-kuiers is in Mbombela en gesels met die akteur en sanger Francois Jacobs oor sy soeke na liefde wat tans in die tweede seisoen van die realiteitsprogram, Op my Eish!, uitspeel. Renaldo Schwarp vind meer uit oor dié persoonlike reis en wat als gebeur as die kameras nié rol nie…
Episode 20: Bravo! se aanbieders vier program se dekade op die kassie
Die gewilde kykNET-leefstylprogram Bravo! is vanjaar ’n dekade op die kassie! Renaldo Schwarp gesels met twee van die aanbieders, Tracey Lange en Reynardt Slabbert, oor hul gaste-hoogtepunte, episodes wat hul bybly, en al die dinge wat ons nie op die skerm sien nie. Ja, daar word ook ’n paar geheime verklap!
Episode 21: Tim Theron gesels oor Projek Dina
Die tweede seisoen van die speurdrama, Projek Dina, laat kykers behoorlik gons. Renaldo Schwarp gesels met die akteur, Tim Theron, oor die reeks én oor hoe groot die euwel van mensehandel in Suid-Afrika is.
Nog stories oor Projek Dina
Episode 22: Silwerskermfees 2022
Fliekvlooie was vanjaar weer bederf met nuwe opwindende Afrikaanse rolprente by die jaarlikse Silwerskermfees. Renaldo Schwarp gesels met die akteurs Donna-lee Roberts en Ivan Botha oor Beurtkrag terwyl Paul du Toit en Etienne Fourie meer oor Stiekyt vertel.
Episode 23: Ma-wees op TV
Dié week vier ons die wonderlike moeders in ons lewens! Renaldo Schwarp hou ’n virtuele koek-en-tee met Susanne Beyers, en gesels oor ma-wees en haar TV-karakters. Sy verklap ook meer oor haar nuwe rol in Dinge van ’n kind. Therese Bam en Schalk Bezuidenhout loer ook in.
Episode 24: Dinge van ’n Kind
Dié week bekyk ons die temas van die nuwe opwindende drama, Dinge van ’n kind. Renaldo Schwarp gesels met die aktrise, Melissa Myburgh, wat die rol van jonger Mart vertolk. En ons vra die vraag: Is kykers gereed vir dié drama?
Episode 25: Koffie en beskuit voor die kassie…
Daar is niks lekkerder as ’n koffie met ’n stukkie beskuit in die oggend terwyl jy jou gunsteling-ontbytprogram kyk nie. Renaldo Schwarp gesels hierdie week met die aanbieders van gewilde plaaslike ontbytprogramme, Jenna-Leigh Bilong en Jennifer Myburgh van Die Groot Ontbyt, en Eloise Cupido van Ontbytsake.
Episode 26: Programme wat al langste op kykNET boer
Kwêla en Toks & Tjops is twee programme wat al die langste op kykNET is. Renaldo Schwarp gesels met aanbieders, Janina Oberholzer en Hannesv an Wyk, oor wat dit vat om ’n program vir só lank op die lug te hou.
Episode 27: Laat die potte (en panne) prut
Televisieliefhebbers smul al vir jare na die heerlike disse op kosprogramme. Renaldo Schwarp gesels met gewilde TV-sjefs, asook Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van In die Sop en MasterChef SA.
Lees ook Tarren-Lee Habelgaarn se onderhoud met Errieda oor MasterChef SA.
Episode 28: Jeugdag!
Jong akteurs op die kassie gesels oor hul rol en verantwoordelikheid in die samelewing. Renaldo Schwarp hoor by Marco Spaumer, Mienke Ehlers, Lisa-Maree Bruiners en Chanté Graigners oor hoekom Jeugdag nog belangrik is.
Episode 29: Pa. Pappa. Daddy.
Ons vier Vadersdag met die Binnelanders-span. Renaldo Schwarp gesels met Bradley Olivier en Cobus Rossouw oor die druk van pa-wees en watter lesse hulle vir hul kinders wil leer. Mila Guy, Germandt Geldenhuys en Antoinette Modise deel ook hul Vadersdag-wense.
Episode 30: OppieStoep bring stories met spice
Renaldo Schwarp het spesiaal op stel gaan kuier by aanbieders Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars soos hul gereed maak vir nog ’n splinternuwe seisoen van OppieStoep! Dis ’n voorsmakie met dié gesoute storievertellers en grapmakers.
Episode 31: Real. Real. Real.
Francois het sy keuse gemaak! In ’n eksklusiewe episode met Renaldo Schwarp, kyk Francois Jacobs en Schalk Bezuidenhout terug op die tweede seisoen van Op my eish!
Episode 32: Spoorloos en sy legkaarte
Bobby van Jaarsveld vertolk een van sy grootste rolle nóg in Spoorloos: Die Eiland. Renaldo Schwarp gesels met dié sanger en akteur, asook skrywer-regisseur Christo Davids oor die nuutste seisoen se spanning en intriges wat op kykers wag.
Episode 33: Trends en toekennings met Lisa met die Rooi Hare
Renaldo gesels hierdie week met Lisa Van Rooyen oor haar nuwe leefstylprogram, Trend, en bespreek ook hierdie jaar se SAFTA-benoemings! Trend word Donderdae om 18:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai en is ook op Catch Up op DStv Online beskikbaar.
Episode 34: Die perfekte 10!
Vandeesweek in #KassieKuiers vier ons Suidooster se 10 SAFTA-benoemings met een van die sepie wereld se most talked about TV-paartjies, AB (Cedwyn Joel) en Mymoena Samsodien (Jill Levenberg).
Episode 35: Vroue op die kassie
Ons skop vrouemaand met aanbieders, Mia Spies en Kabous Meiring, af. Renaldo Schwarp gesels met dié twee oor die nuus, die TV-landskap vir vroue en hoekom dié medium so belangrik vir Afrikaanse kykers is.
Episode 36: Die mag van vroue se stories op die kassie
#KassieKuiers vier steeds vrouemaand hierdie week saam met die talentvolle vroue van Arendsvlei! Renaldo Schwarp gesels met die aktrises Crystal-Donna Roberts en Devonecia Schwartz oor die uitbeelding en krag van ander vroue se stories.
Episode 37: Vier jouself elke dag!
Ons vier steeds talentvolle vroue op die kassie: Renaldo Schwarp gesels met Odelle de Wet van Binnelanders, en Stephanie Baartman van Getroud met Rugby en die oorgeklankte Turkse telenovelas op kykNET.
Episode 38: Die kuns van oorklankings vir die kassie
Ons bekyk die kuns agter oorklankings van nader. Renaldo Schwarp maak ’n draai op die stel van kykNET&kie se gewilde oorgeklankte Turkse telenovelas en gesels met twee van die stemakteurs, Gustav Gerdener en Stephanie Baartman.
Episode 39: Wat kykers van ‘Diepe Waters’ kan verwag
Ná die bekendmaking van die rolverdeling van kykNET se nuwe telenovela, Diepe Waters, wat 3 Oktober 18:00 op kykNET begin, maak Renaldo Schwarp ’n draai op stel vir ’n eerste en eksklusiewe kykie. Hy gesels ook met van die akteurs wat in Diepe Waters te sien is oor wat kykers kan verwag.
Episode 40: Liefde voor – en agter – die skerms
Die liefde blom behoorlik voor – en agter – die skerms! Renaldo Schwarp gesels met akteurspaartjies, Cintaine Schutte en Carel Nel, asook Cindy Swanepoel en Craig Urbani, oor liefde en verhoudings in die publieke oog.
Episode 41: Totsiens aan ’n bakker en ’n feeks
Twee Arendsvlei-akteurs het onlangs dié gewilde telenovela verlaat. Renaldo Schwarp gesels met Dean-Richard Olivier oor sy karakter Anton se noodlottige sterfte en ons kyk ook terug na superfeeks Wendy, vertolk deur Rehane Abrahams, se skokkendste oomblikke.
Episode 42: Erfenis deur storie en narratief
kykNET vier Erfenisdag met sy TV-film, Die Vredesduiwe. Renaldo Schwarp gesels met Jacques Bessenger en Amalia Uys oor die film, asook die rol wat films speel om dit te vier.
Episode 43: Meer as ’n Fraksie van drama
In kykNET se nuwe drama, Fraksie, is karakters só kompleks! Renaldo Schwarp kuier op stel en vind uit by akteurs Marlo Minnaar, Roeline Daneel, Brendon Daniels, Duane Williams asook by regisseur Nina Swart oor karakters, stories, en verfilming.
Lees nog oor Fraksie
Episode 44: Leefstyl in lente
Ons kuier in Franschoek by ’n beeldskone huis! Renaldo Schwarp gesels met Hennie en Nicole Bosman oor die nuwe seisoen van Wanderlus en Leon Kluge deel meer oor Die Groenste Vingers se tweede seisoen!
Episode 45: Geluk met 17 jaar, ‘Binnelanders’!
kykNET se Binnelanders vier vanjaar 17 jaar op die kassie. Renaldo Schwarp gesels met Reynardt Hugo, Bradley Olivier, Cindy Swanepoel en Odelle de Wet oor hul gunsteling – én uitdagendste – storielyne.
Episode 46: Regte, egte Housewives
Die tonge klap steeds oor die eerste episode van kykNET se Die Real Housewives van Pretoria! Renaldo Schwarp gesels met vervaardiger Rian van Heerden en M-Net se direkteur van kykNET-kanale, Waldimar Pelser, oor die formaat en waarna kykers kan uitsien. En die vroue kom sê ook húl sê!
Episode 47: Afrikaanse Jerry Springer? Hokaai!
Kom praat prontuit saam! Renaldo Schwarp gesels met bekende Kaapse radio-omroeper Aden Thomas oor sy kykNET&kie-geselsprogram, Sê Jou Sê, en dié program se interaktiewe gehoor!
Episode 48: Ouerskap in die kollig
Ouerskap is nie ’n maklike taak nie. Renaldo Schwarp gesels met die Arendsvlei-akteurs Jody Abrahams en Carmen Maarman oor hul karakters en onderskeie storielyne rondom dié onderwerp.
Episode 49: Topgehalte aktuele aanbod
“Soms is daar ’n duidelike reg en ’n duidelike verkeerd.” Renaldo Schwarp kuier saam met kykNET-aktualiteitsaanbieders, Lourensa Eckard van In gesprek, en Divan Botha van Winslyn.
Episode 50:
Waar trek jy die lyn tussen gesonde debat en sensasie in televisieprogramme wat hedendaagse kwessies onder die loep bring? Renaldo Schwarp gesels met inhoudsvervaardiger, Kaylee Kruser, en leefstylredakteur by Channel 24, Herman Eloff.
Episode 51: Magda Louw
Ouderdom is iets waarmee ons almal kan vereenselwig. Renaldo Schwarp gesels met die aktrise en skrywer Desiré Gardner oor haar titelrol in kykNET se splinternuwe komedie, Magda Louw, en hoe dié komedie van teaterstuk, na ’n TV-film en toe in ’n vollengte TV-reeks ontwikkel het.
Episode 52: Ma en kind in die kombuis
“My ma kook baie lekke, hoor!” Renaldo Schwarp gesels met Afrikaanse rapper, Early B, oor sy splinternuwe kykNET&kie-program, My Ma Kook Beter As Joune, wat in Januarie 2023 begin uitsaai.
Episode 53: Desemberdiewe
“Dis ’n goed-voel fliek!” Renaldo Schwarp gesels oor die storie, temas en McGregor saam met die jong akteurs van kykNET se Kersfeesfilm, Desemberdiewe, asook die skrywer en regisseur, Carla Smith.
Episode 54: Kersfees op kykNET
Jou gunsteling plaaslike bekendes deel hul kersfeesboodskappe en Renaldo Schwarp vind meer uit oor kykNET se spesiale Kersfeesblyspel wat 24 Desember uitsaai.