Menu terloops
In Onderhoude [12 Jan 2022]

Ons gesels met Bennie Fourie en Beer Adriaanse oor ‘Hotel’ se laaste seisoen


…Maar daar is perdalks ’n “Hotel”-fliek in die toekoms ná hierdie bittersoet afskeid.

Deur Watkykjy

Kyk nou

Ons gesels met Bennie Fourie en Beer Adriaanse oor ‘Hotel’ se laaste seisoen
Kyk lokprent

Die vyfde en finale seisoen van die skreeusnaakse Afrikaanse sitkom, Hotel, is tans op kykNET (DStv-kanaal 144) en ek sou jou aanraai om gou die eerste vier seisoene op Showmax kaf te draf indien jy nog nie op dié TV-juweel afgekom het nie.

In ’n onderhoud met akteurs Schalk Bezuidenhout (Danny) en Mila Guy (Malanie) het een ding baie duidelik geword: daar was eindelose pret op stel wat dan ook bygedra het om die storielyn en karakters te versterk en ons al laggende voor die kassie vasgenael te hou. 

Bennie Fourie, mede-skepper van Hotel, asook die akteur Beer Adriaanse, wat die rol van Thomas, die hoteleienaar, vertolk, vertel ons meer van hul ervaring as deel van dié eiesoortige komediereeks. 

Wat was vir jou ’n snaakse oomblik wat uitgestaan het tydens verfilming oor die afgelope vyf seisoene? 

Bennie: Hierdie vraag is amper onmoontlik om te antwoord! Daar was amazing stuff en 99% van dit gebeur behind-the-scenes. Soms goeters wat letterlik net nie die cut kon maak nie. Ek kan wel een uitlig: in die derde seisoen, het Danny gedink hy het vir Jaap (De Klerk Oelofse) doodgemaak en dan probeer hy hom op verskillende maniere wakker maak. Ons moes stop en uit die vertrek uit gaan dat almal net kon ophou lag! In die nuwe seisoen is daar ’n toneel wat ons by Getroud Met Rugby geskiet het waar Thomas sy hemp moes uittrek om vir ’n ou wat met Joanie flankeer, te wys dat hy sterker as hy is. De Klerk (Jaap) het so gelag elke keer wanneer Thomas sy hemp moes uittrek, dat hy uit die shot uit moes loop. Ons het onsself dood gelag!         

Beer: Ek het soveel gelag oor die afgelope ses jaar dat ek bang is my maagspiere gaan nou ophou werk en dat ek spontaan ’n boep gaan ontwikkel! Ek weet nie hoekom dit vir my so snaaks was nie, maar daar was ’n oomblik in die vierde seisoen waar iemand ’n bewysstuk vir die res van ons wil wys en dan wiel Jaap ’n groot ou 80’s buistelevisie in – presies soos ’n cliché uit ’n polisiereeks! Maar dan, in plaas van om die televisie aan te sit, slaan hy ’n moderne laptop oop wat bo-op die televisie lê en dan kyk ons die video daarop. Ek het my pap gelag daarvoor! 

Kom ons veronderstel Hotel kry ’n spin-off – wat sal die reeks se naam wees en hoe sou jou karakter se nuwe lewe daarna uitsien?

Beer: Ek dink die hele span sal ’n work-away tipe ding aanpak en in ’n Italiaanse herehuis in Toskana gaan werk. Die reeks se naam is Villa en Thomas dra uitsluitlik polonek-truie en neem gaste op fietsrytoere om olywe te proe.

Bennie: Ag man, dis so lekker, want jy het hierdie wêreld en hierdie karakters geskep en jy kry weer die geleentheid om met hulle te jol, maar dis dalk ’n goeie tyd om hulle daar te los en nuwe goed te probeer. Ek twyfel of daar ooit enigsins ’n spin-off sou wees vir enige van die karakters, maar ek sluit nie die moontlikheid uit dat daar eendag dalk ’n Hotel-movie kan wees nie. Dalk ’n road trip-fliek waar ons die gang terugkry vir een laaste keer.    

Beer Adriaanse as Thomas in die komediereeks, Hotel. Foto: Skermgreep

Wat gaan jy die meeste van Hotel mis?

Bennie: Die mense! 100% net die geleentheid om saam met ongelooflike, talentvolle mense op stel te wees en te speel. Ons noem dit ‘speel’ want dis al wat ons doen. Ons ‘jol’. Dit is obviously baie profesioneel en daar is baie druk, maar as ons nie daardie speel-element het nie, dan lees dit nie lekker nie. Dis ook baie lekker om die storielyne te ontwikkel en om die geleentheid te kry om weer te kan skryf. Dis hartseer dat dit moet stop, want die gehoor wil nog hê. Dis vir my ’n massiewe roeping om mense te laat lag en hopelik kry ons weer ’n soortgelyke geleentheid.        

Beer: Ek besef dit nou, eers nadat dit klaar is, maar Hotel was ’n tipe hoeksteen vir elke jaar. Al was daar geen ander werk nie en onsekerheid oor hoe de hel ek sou oorleef, het ek geweet ek gaan episodes kon help skryf en uiteindelik met hierdie familie van my op stel bymekaar gaan kom vir vyf weke om pret te hê. Ek gaan daai hoeksteen mis, maar ook net die mense. Behalwe vir my mede-akteurs, wat almal ongelooflike mense is, was die tegniese span en vervaardigers ook ongelooflik! Hotel was ’n reuse deel van my lewe en ons almal het deur baie dinge gegaan oor die afgelope ses jaar. Ek weet nie of ek ooit weer vir vyf seisoene lank toegelaat gaan word om ’n karakter te speel nie. Behalwe as Villa gemaak word…

Hoe lyk 2022 se planne? Waar gaan ons jou orals hierdie jaar te siene kan kry?

Beer: Sover lê 2022 oop voor my. Ek skryf aan ’n paar dinge en gaan seker maak ek kry weer ’n bietjie regiewerk gedoen hierdie jaar. Tussendeur werk ek aan my nie-bestaande sespak sodat ek hopelik Nico Panagio kan speel in die 10-episode reeks oor sy lewe: Nico Panagio: Surviving Survivor.

(Redakteursnota: Nico Panagio is die aanbieder van Survivor South Africa en was ’n spesiale gas-akteur op episode 10 in Hotel se vierde seisoen.)


Bennie: Ek is tans besig om ’n lekker familiekomediefliek te skryf en dan is ek ook besig om te ’n komediereeks vir TV te ontwikkel. Ek is bly ek kry die geleenthed om weer so iets aan te pak. Die lekker ding van Hotel is dat ons dit op ons eie terme kon eindig, sodat ons weer iets anders kon probeer met ’n nuwe invalshoek, en ek is baie opgewonde daaroor! Met ’n lekker skryfspan en lekker mense rondom my, is dit hopelik weer moontlik. Daar is ook ’n nuwe M-Net-reeks wat in Maart uitkom waarin ek ’n rowwe rol vir ’n bietjie afwisseling speel.             

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies