Menu terloops
In Onderhoude [4 Jan 2022]

Ons gesels met akteurs Mila Guy en Schalk Bezuidenhout oor ‘Hotel’ se laaste seisoen


Die laaste *SNIK* seisoen van ‘Hotel’ het pas op DStv begin. Ons gaan al die karakters mis, maar daar is ’n spesiale plekkie in ons hart vir verliefde duifies Malanie en Danny, vertolk deur Mila Guy en Schalk Bezuidenhout.

Deur Watkykjy

Kyk nou

Ons gesels met akteurs Mila Guy en Schalk Bezuidenhout oor ‘Hotel’ se laaste seisoen
Kyk lokprent

Daar was sedert Orkney Snork Nie in die laat tagtigs weinig Afrikaanse komediereeks met karakters wat Suid-Afrikaners so laat skater én so diep in ons harte gekruip het – dis nou totdat Hotel sowat vyf jaar terug sy buiging op die kassie gemaak het. 

Alle goeie dinge moet egter mos op een of ander tydstip tot ’n einde kom, maar dit maak effens seer wanneer die beste dinge tot ’n einde kom – en hierdie gesogte Afrikaanse mockumentary-komediereeks is van daai tipe klas beste dinge wat die Suid-Afrikaanse TV-landkap betref. 

As jy vir een of ander onverklaarbare rede nie weet waarvan ek praat nie, moet jy dalk eers gou die eerste vier seisoene van Hotel op Showmax deurdraf. Kortom, speel die gebeure van Hotel by die fiktiewe Fransen Hotel in die ewe fiktiewe dorpie van Fransenberg in Mpumalanga af. Hier probeer die onbekwame personeel hul bes om dié substandaard hotel se deure oop te hou midde allerlei komiese krisisse, wanbestuur, en dan sélfs onse nimmereindige pandemie in die finale seisoen wat vandeesweek op kykNET (DStv kanaal 144) begin uitsaai het. Dink aan Hotel as The Office wat so paar kopieë van Pharos se Afrikaanse Verklarende Woordeboek ingesluk het.   

Ons het met die akteurs Schalk Bezuidenhout en Mila Guy, wat as Danny en Malanie ’n effe awkward paartjie uitmaak, gesels oor hul wedervaringe op die stel van dié besonderse reeks deur die TV-skeppers Bennie Fourie en Stiaan Smith.

Is daar ’n spesifieke eienskap van jou karakter uit Hotel wat nou deel van jou fabric in die “regte” lewe geword het?

Schalk: Ek dink Danny se positiwiteit in ’n bose, wrede wêreld is aansteeklik. Veral met die lockdown, het ek begin videos maak op sosiale media wat begin het met ‘feeling good, feeling positive!’ 

Mila: Definitief! Ek dink ek het baie by Malanie geleer. Sy is vir my ’n baie sterk karakter en weet wat sy wil hê. Sy sê ’n ding soos dit is. Sy is die eerste bad ass-karakter wat ek speel en oor wie ek dink dat “o, ja, ek het baie respek vir hierdie meisie.” Sy kan sag en mooi wees op tye, maar sy draai nie doekies om nie. Ek sal haar bad ass-ness vir die res van my lewe saam met my dra.    

Wat was vir jou ’n snaakse oomblik wat uitgestaan het tydens verfilming oor die afgelope vyf seisoene? 

Mila: Dis vir my ’n baie moeilike vraag om te antwoord omdat my karakter so baie werk met Danny se karakter wat deur Schalk Bezuidenhout vertolk word en hy is ongelooflik snaaks! Ek dink byvoorbeeld aan die keer wat Danny gemaak het of hy ’n meisie was (ek dink in seisoen 3) en panties dra en met sy oupa terugpraat. Om Schalk te sien net go for it, maak nie saak wat nie, is so beautiful om na te kyk. Maar ek moet sê elke oomblik is vir my snaaks. Baie keer dink ek ‘wat gaan aan? Het ek hierdie gelees?’ Baie keer twyfel ek in myself of ek dit in die script gelees het, want dit kan tog nie so snaaks wees nie! Elke oomblik is pret, en veral saam met Schalk omdat hy net ongelooflik snaaks is en altyd improviseer. 

Schalk: Daar was ’n toneel waar Danny gedink het dat hy vir Jaap doodgemaak het en dan probeer om hom weer wakker te maak. Ek en De Klerk Oelofse (Jaap) kon net nie ophou lag tydens die verfilming van daardie toneel nie. Ek dink nie dat hulle ons op die ou einde betaal het vir daardie dag nie.

Daar kom gereeld spin-offs van hoogs suksesvolle shows, veral oorsese komediereekse. Plaaslik dink ek byvoorbeeld aan Willie Esterhuizen se Ouboet & Wors en Molly & Wors. Kom ons veronderstel Hotel kry ’n spin-off – wat sal die reeks se naam wees en hoe sal jou karakter se nuwe lewe daarna uitsien?

Schalk: Jaap se Plaas – indien die Fransen Hotel eendag toemaak, sal Jaap sekerlik vir die personeel kan werk gee op sy plaas. Ek dink Danny sal seker die diere kos gee en op die ou einde klein toneelstukkies met hulle opvoer.

Mila: Oooe! Spin-offs! Shikkels! Hmm…ek dink nogals met Dodgy Mike en Malanie omdat sy hom baie keer help met goed. Ek dink hulle kan nogals cool goed aanpak omdat hy dodgy is en sy nie omgee nie. ’n Danny en Malanie –show sal boring wees want dit sal net te oulik wees. Ja, ek dink definitief ’n tipe dodgy Mike en Malanie-spin-off. Ek weet nou wel nie wat nie naam sou wees nie…Dodgy Melaans

Wat gaan jy die meeste van Hotel mis?

Mila: Definitief die mense! Die vriendskappe en die feit dat ons ’n omgewing geskep het waar ons kan speel. Ons ken ons karakters en kan regtig net improviseer. Bennie vertrou ons, ons vertrou mekaar en dís skaars omdat ons vyf seisoene kon doen (plaaslike reekse se rakleeftyd is oor die algemeen heelwat korter) wat meegebring het dat ons as ’n ‘familie’ saamgegroei het, asook as vriende en as akteurs. Dit sal ek beslis die meeste mis, daai omgewing waarin ons net kon speel. 

Schalk: Die mense (karakters) is wat Hotel so spesiaal maak, so die mense is wat ek die meeste sal mis. En die buffet breakfast by Kleinkaap Boutique Hotel waar ons geskiet het!

Hoe lyk 2022 se planne? Waar gaan ons jou orals hierdie jaar te siene kan kry?

Schalk: 2022 se planne kom stadig maar seker aan, maar dinge is nog onseker, al voel dit asof Covid op pad uit is. Die beste is maar vir mense om my op sosiale media te volg en daar te kyk waarmee ek besig is.

Mila: 2022 lyk baie lekker en belowend en mooi en ek sien verskriklik baie daarna uit! Ek is natuurlik in Hotel se vyfde seisoen wat pas begin het (3 Januarie) en dan is ek ook op ’n VIA-reeks wat ek aanbied. En dan nog twee ander shows wat ek nog nie mag noem nie maar ek is baie opgewonde daaroor. Dan het ek ook ’n Silwerskermfees-fliek wat uitkom wat ek verlede jaar regisseer het. Hopelik is daar nog baie ander cool geleenthede. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies