Ons het dit gemaak! Na nog ’n jaar van self-isolasie en inperkings en allerlei beperkings, het ons uiteindelik die einde van die jaar bereik – en nes verlede jaar het TV en film tot ons redding gekom.
Die wêreld se realiteit is stresvol, in sommige plekke meer as ander, maar deur die bank spandeer mense meer tyd by die huis én binnenshuis, of dit nou is weens aandklokreëls, kwarantyn, of net omdat jy jou blootstelling aan die infamous Rona probeer beperk. Só is TV wéér dan die amper onmoontlike taak opgelê om bykans al die drama, romanse en komedie in mense se lewens te voorsien. Terwyl skrywers en produksiespanne gewoeker het om aangrypende en opbouende stories te vertel, het kykers hulself in dié wêrelde ingeleef om só te ontsnap van ’n nagmerrie wat blyk om geen einde te hê nie.
2021 se televisiereekse het ons laat skater vir karakters soos die momfluencer Tali in Showmax se gewilde mockumentary Tali’s Baby Diary; dit het ons saam laat huil oor ons eie hartseer en geliefdes wat ons aan die dood moes afstaan toe geskokte kykers vir dr. Elana Bester op Binnelanders met ’n hartverskeurende toneel moes groet; dit het ons op die punt van ons stoele gehou toe ons in die briljante kop van Reyka Gama moes klim in die sterbelaaide misdaaddrama, Reyka. Maar plaaslike vermaak was nie net vir ons die vriend waarop ons kon staatmaak nie – óns reekse en flieks het oor die wêreld heen kykers aangegryp.
So, ja. Dankie aan televisie en al ons uitstekende skrywers, produksiespanne en akteurs vir al die verrassings, drama en liefde, veral in ’n jaar wat ’n aand voor die TV telkens vir ’n road trip saam met vriende, of ’n wilde aand op die dansvloer moes instaan. En vir hierdie nege plaaslike flieks en reekse was ons veral dankbaar.
DIY – because anybody can. As jy al vantevore hierdie frase gehoor het, ken jy waarskynlik die bekende Youtube-persoonlikheid Suzelle DIY, wat al sedert 2014 gehore vermaak met haar komiese do-it-yourself-videos.
Maar Julia Anastasopoulos, is nie net bekend vir die vertolking van Suzelle DIY nie, sy het vanjaar teruggekeer as die geliefde karakter, Tali Babes, in die Showmax-treffer, Tali’s Baby Diary. Dit is die langverwagte opvolgreeks van die skreeusnaakse en bekroonde reeks Tali’s Wedding Diary.
Dit volg die daaglikse uitdagings van momfluencers en haar karakter maak lig van werklike oomblikke wat Julia beleef het terwyl sy swanger was met haar eersteling. Dit is in hierdie oomblikke, gegrond in waarheid, wat die komedie tot sy reg kom.
Hierdie pret en charismatiese moet-kyk-program was net so gewild soos die eerste seisoen toe dit vroeër vanjaar vrygestel is en was die perfekte komiese verligting wat mense gedurende hierdie jaar nodig gehad het. Dit het alledaagse onderwerpe, maar met ’n Suid-Afrikaanse twist, wat dit ’n gewilde reeks vir beide plaaslike en internasionale aanhangers maak.
Beide Tali’s Wedding Diary en Tali’s Baby Diary is op Showmax beskikbaar.
Legacy
Waar begin ’n mens!? Die stryd om die hoekkantoor te kry, duur voort. Hierdie ongelooflike telenovela, nou in sy tweede en finale seisoen (ons probeer nog die nuus van die kansellasie verwerk), het met ’n (letterlike) bang begin en sedert die eerste episode hang ons monde oop. Legacy is beslis the gift that keeps on giving, want net wanneer jy dink die drama en moorde is verby, is daar nog ’n kinkel in die Price-gesin se wêreld. Om van geboue te abseil, om uit te vind jou pa het geraamtes in sy kas, om te besef jou suster is jou ma en om een moord ná die ander te pleeg, is alles deel van dié beleggingsmiljardêrs se wêreld. Tussen die vuurwarm romanse, leuens en verraad, hou hierdie familie en vriendekring jou op jou tone.
Legacy het ook vanjaar groot gewen by die Suid-Afrikaanse Film-en Televisie-toekennings (SAFTAS) en is as die beste telenovela aangewys, met veteraan-aktrise Michelle Botes (Angelique Price in Legacy) wat haar eerste SAFTA as beste ondersteunende aktrise in ‘n telenovela gewen het. Legacy het ook die SAFTA’s vir beste kostuumontwerp, beste grimering en haarstilering, beste produksie-ontwerp en beste kinematografie in die kategorie vir TV-sepie/telenovela gewen.
Nuwe episodes van Legacy is van Maandag tot Donderdag op M-Net en stroom gelykertyd op DStv en is dan binne 24 uur op Showmax beskikbaar. Moenie hierdie skitterreeks met sy sterbelaaide rolverdeling misloop nie – al kom dié skatkis van TV-drama tot ’n einde, is dit nog tot September 2022 op die kassie. Propvol wenkbrou-liggende oomblikke.
Kykers is mal oor misdaaddramas en raaisels oplos en gelukkig is daar meer as genoeg briljante plaaslike kykstof. Spoorloos, Die Byl en Skemerdans is drie van die beste misdaaddramas wat ons geduld en eie speurtalente getoets het met angsaanjaende storielyne en raaisels. Maar die reeks wat regtig vir kykers in sy greep gehad het, is M-Net se Reyka, wat die lewe van die briljante misdaad-profiler, Reyka Gama (vertolk deur Kim Engelbrecht) volg.
Nadat sy as kind deur ’n boer genaamd Speelman (Iain Glen van Game of Thrones en Downton Abbey) ontvoer is, is Reyka getraumatiseer deur die ervaring, maar help dit haar nou om die denkwyses van Afrika se bekendste misdadigers te verstaan. Sy ondersoek ’n reeks wrede moorde wat deur ’n reeksmoordenaar in die suikerrietlande van KwaZulu-Natal gepleeg is en terwyl sy dit doen, ontbloot sy geheime, leuens en die waarheid. Sy vind ook genesing en vergifnis, maar sy word ook steeds deur haar ontvoerder gemanipuleer. Jy kan nie anders as om hierdie reeks te binge nie, want as jy eers begin, sal jy nie kan stop nie.
M-Net het onlangs aangekondig dat Reyka binnekort in meer as 80 lande beskikbaar sal wees nadat die reeks se uitsaairegte deur verskeie internasionale TV-kanale gekoop is. Hierdie lande sluit Amerika, Brittanje, Nieu-Seeland, Australië, Kanada, Pole, Duitsland, Frankryk, Griekeland, en Italië in.
Jy kan die eerste seisoen op DStv Catch Up kyk.
Kom vat ’n klassieke en nostalgiese reis na die middel van Nêrens. Daar waar mense hulself en die mense rondom hulle regtig leer ken. Daar waar woorde ’n kuns is en die landskap en lewe van die mense soos ’n potlood in kleur en lewe gee. Die teks is rou, uniek en asemrowend in sy moeitelose eenvoudigheid. Dieselfde kan gesê word oor die omgewing wat eenvoudig en sonder fieterjasies is, maar tog die perfekte leë doek vir al die storielyne en karakters.
Drie vervreemde broers vind die kronkelpad terug na hul ouerplaas, Nêrens, waar geheime, hartseer en die waarheid oor hul ma se dood in die pad van verlossing staan. En tussen die stofpaaie, mense en plaaslewe vind hierdie plaaslike reeks die pad na jou hart met sy poëtiese teks en die diepte waarmee elke storielyn vertel word. Van die verhoog af tot op die kleinskerm, bly hierdie ’n juweel wat daarin slaag om mense op ’n emosionele vlak te raak. Dié reeks is klassiek en die stel, kostuumontwerp, asook taalgebruik bring ’n gevoel van nostalgie mee.
Dit is tans op DStv Catch Up beskikbaar.
Die eerste seisoen eindig op ’n klassieke cliffhanger as Phuleng uiteindelik vir Fikile vertel dat sy dalk haar vermiste suster, Phumelele, is. Aanhangers het heel seisoen geweet dít is waarheen die storielyn mik, maar dit was steeds ’n groot skok toe Fikile dit uitvind. En toe moes ons tot seisoen twee vir haar reaksie wag! Natuurlik wou sy aan die begin van seisoen twee niks daarvan weet nie en die nuus het Fikile se hele lewe omgekeer. Tog besluit sy om saam met Phuleng antwoorde te probeer kry en net wanneer jy dink jy weet wat gaan gebeur, word nog ’n skokkende stukkie inligting deel van die legkaart.
Dié Netflix-treffer is beslis nie jou gemiddelde tienerdrama nie. Dit het al die elemente van ’n tienerdrama, soos ’n gewildheidstryd, verhoudingsdrama, partytjies, aantreklike manne en beeldskone meisies, maar dan is daar ook misdaad, leuens en raaisels. Ja die storielyn draai om ’n groep tieners wat by ’n baie fancy skool vol ryk kinders en hul invloedryke ouers is, maar daar is ’n volwassenheid aan die teks en storielyn.
Seisoen 1 en 2 van Blood and Water is op Netflix beskikbaar.
Hierdie is Suid-Afrika se eie weergawe van dokumentêre programme soos True Crime, Killer Instinct, American Murder en The Disappearance of Madeleine McCann, en is verpak in halfuur lange episodes wat jou van begin tot einde laat kopskud. As ’n storielyn eintlik realiteit is, voel dit net anders en dra die storie soveel meer krag omdat die slagoffers jou aan jou eie familie, kinders, vriende en bure laat dink.
Op Seer se Spoor volg die reis van Kuier-tydskrif se artikel-redakteur en SAFTA-bekroonde joernalis/ aanbieder, Ernusta Maralack. In dié reeks gaan Ernusta terug na die tonele van die wreedste moorde in Suid-Afrika om met die gemeenskappe en families wat deur hierdie tragedies geraak is te praat.
Dit is uitstekende joernalistiek, met briljante onderhoude met kenners wat vir jou meer insig oor die gebeure gee – ook oor wat in die kop van ’n moordenaar aangaan.
In elke episode word ’n nuwe saak ondersoek. Die hartseer deel is dat sommige moorde en dade net nie antwoorde het nie.
Seisoen 3 is op DStv Catch Up beskikbaar en die eerste twee seisoene op Showmax.
Swirl: A Letter to Hair on the Cape Flats
Swirl maak lig van die belangrike verhouding tussen ’n vrou en haar hare en hoe almal altyd ’n opinie oor iemand se hare het. Hierdie komedie is nie net skreeusnaaks nie, maar het die baie belangrike boodskap dat hare in baie gemeenskappe, maar veral op die Kaapse Vlakte, baie meer as net hare is.
Aktrise Quanita Adams, wat die regisseur en skrywer van die fliek is, beskryf haar eie hare as haar politiek, feminisme, mode, identiteit, verdediging, haar alles en haar niks.
Dit is ingewikkeld en baie vroue, veral in die bruin gemeenskappe sou baie aanklank vind by hierdie fliek, nes ek.
Vir jare sukkel baie van ons met die love-hate verhouding tussen ons en ons hare, omdat mense altyd iets te sê het oor hare en jou hare baie vir ander kan vertel. As jy jou hare laat doen by die haarsalon, voel jy sommer beter as dit sleg gaan. As jy wil feesvier, maak jy jou hare mooi, en as jy omgekrap is, het ons almal al minstens een keer ons hare laat kleur of knip vir ’n drastiese verandering. Die fliek het ongelooflike teks wat kleurvol, snaaks en catchy is.
Chanelle Davids, Vinette Ebrahim, Ilse Klink en Shaleen Surtie-Richards lewer uitstekende toneelspel. Dit is ’n komedie met diepte oor familie, gemeenskap en die feit dat mense daarop geregtig is om hul hare te dra nes hulle kies, sonder enige judgement. This movie is about being unapologetically you!
Kaalgat Karel
Kaalgat Karel, vertel die verhaal van Karel Venter (vertolk deur skreeusnaakse Francois Jacobs), ’n kaalnaeler, wat verlief raak op die sagte en beeldskone paramedikus, Rita (vertolk deur Christia Visser) nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop. Maar daar is een probleem: sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.
Dis ’n fliek met sjarme, romanse, onverwagse vriendskap en baie pret. Dit het ’n eenvoudige storielyn met een doelwit: om gehore te laat lag. Met al die moeilike tye wat mense tans beleef en die pandemie wat swaar op mense se harte lê, is hierdie net ’n klassieke komedie wat tussen die wêrelde van Leon Schuster en Adam Sandler sy plekkie vind.
Familie, gemeenskap, opoffering, kos en komedie. Dié Suid-Afrikaanse fliek het al die regte bestanddele vir ’n outentieke Suid-Afrikaanse storie wat met hart, passie en humor vertel word.
Die rolverdeling het ’n paar van Suid-Afrika se grootste en bekendste akteurs en speel op die Kaapse Vlakte af. Hierdie fliek, geskryf en vervaardig deur twee van Suid-Afrika se bekende filmtalente Amy Jephta (Ellen: The Ellen Pakkies Story) en Ephraim Gordon (Skemerdans en Meisies wat fluit), is Suid-Afrika se eerste Moslem-rolprent in Afrikaans en is ook gekies om Suid-Afrika by die Oscar-toekennings te verteenwoordig.
Amy en Ephraim vertel die storie van ’n weduwee, gespeel deur veteraan-aktrise Vinette Ebrahim, wat die vrede tussen haar vier seuns Zunaid (Joey Rasdien), Zaid (Mortimer Williams), Yaseen (Keeno Lee Hector) en Nur (Danny Ross) moet bewaar as hulle terugkeer na hul gesinshuis vir Eid-ul-Fitr. Hul tuiskoms vind twee jaar ná die dood van hul pa plaas en met groot verandering in haar lewe, is dit meer as net ’n gesellige kuier met haar seuns.
Eervolle vermelding
Ander reekse wat ons met drama, romanse en diverse storielyne vermaak het, is sepies soos die bekroonde Suidooster en Binnelanders en die SABC-treffer 7de Laan. Dan was daar ook natuurlik reekse soos Survivor SA, Hoor my Sien my Soen my, Arendsvlei, Tydelik Terminaal, Onthou my, Wie Word ’n Miljoenêr?, Spoorloos, Die Byl en Skemerdans – almal beslis in ons lys van dié jaar se beste plaaslike kykstof.