Vir ses jaar al waai die Suidooster-wind woes op televisie. Sedert 16 November 2015 pluk die sepie se diverse storielyne aan kykers se hartsnare – van dramatiese smartsagas en vurige romanse en affairs tot big reveals en kinkels wat niemand sien kom het nie.
Verpletterde aanhangers van dié kykNET-sepie het lang trane saam met die inwoners van Ruiterbosch gehuil toe die geliefde karakter Jerome October, vertolk deur Danny Ross, gesterf het. Só ook het kykers al baie saam feesgevier, soos met Carmen (vertolk deur Desiré Gardner) en Rhafiek (vertolk deur Irshaad Ally) se geskiedkundige troue. Dit is juis oor dié sprokiesmooi troue en verhouding dat kykers so hartseer was toe dié paartjie se paaie skei ná hul seun, Mikhail, se vroeggeboorte en dood. Hierdie storielyn het ook diep getref omdat die onderwerp van aborsie, asook die moeilike besluite rondom dit, so outentiek uitgebeeld is.
Maar week ná week is daar nog storielyne wat lojale kykers se tonge laat klap. Die span by Suidooster weet presies hoe om mense op te sweep en jou kwaad te maak oor wat voor jou oë uitspeel. Om die sepie se sesde verjaardag te vier, kyk ons terug na die ses grootste storielyn-skokke.
Bridgette (Denise Newman) en Ian October (Abudraghmaan Adams) se enigste seun, Jerome, word ná ’n motorongeluk breindood verklaar. Hy het twee episodes later gesterf.
Jerome was omring deur sy familielede en dr. Siya Thuli (vertolk deur Gantane Kusch), toe die masjiene afgeskakel is. Aanvanklik het Jerome met net ’n paar skrapies van die ongeluk af weggeloop, maar hy het later voor sy ouers ineengestort.
Van die eerste episode af het Jerome, of Rompie soos ons hom leer ken het, in kykers se harte met sy humor, sêgoed en sjarme ingekruip. Dit is juis daardie sjarme wat hom en sy eerste groot liefde, Carmen, bymekaar gebring het…al was hulle nie heeltemal bewus van hul troue toe hulle een aand ná ’n bootpartytjie saam – en getroud – wakker geskrik het nie. Maar soos dit soms met die sepieliefde gaan, het Jerome op Carmen se halfsuster Bianca, (vertolk deur Simone Biscombe) verlief geraak en vir haar en haar ongebore baba, Stella, gekies kort voordat hy ineengestort het. Hy het ons lekker laat lag en lekker laat voel en die noue band tussen hom en sy familie en vriende was hartverwarmend om te aanskou. Kykers het nie die tragiese einde van só ’n geliefde karakter verwag nie – nou nog praat mense daaroor! Selfs Danny was destyds verbaas oor die reaksie wat sy karakter se dood veroorsaak het.
Die waarheid oor Henry Jacobs se dood het in 2017 op die lappe gekom en Chris se aandeel daarin is ontbloot. Lee-Ann is later ontvoer deur haar pa se moordenaar, Charlie.
Mrs. J (vertolk deur Theresa Sedras) se verlore dogter, Lee-Ann Jacobs (Portia Joel), daag by haar sewentigste verjaardagpartytjie op. Lee-Anne se opwagting het vir baie konflik tussen haar en Mrs. J se ander dogter, Bridgette, gesorg – ’n drastiese verskil van die verhouding wat ons tans op TV tussen die twee gehegte susters sien uitspeel. Lee-Ann se pragtroue is selfs by haar suster se huis gehou – wie sou kon raai ná hoe rof dinge aanvanklik tussen dié twee gegaan het?
Almal in die Jacobs- en October-gesin was maar omgekrap toe hulle hoor dat Charlie (vertolk deur Sean Brebnor) vrygelaat is ná die moord op Mrs. J se man, Henry. Lee-Ann, wie se dwelmverlede glo iets met haar pa se dood te doen gehad het, wou die verlede aanspreek en het besluit om met Charlie te praat. Die familie was kwaad, maar Lee-Ann het probeer om Charlie te help terwyl hy agter haar rug met Ian (Abduraghmaan Adams) en Chris (Marcel van Heerden) gekonkel het. Ons almal weet Ian het altyd ’n duistere plan om ’n voetjie voor almal te wees en hierdie keer was geensins anders nie. Mettertyd het Charlie dus uitgevind dat dit te danke aan Ian is dat hy langer as wat hy moes in die tronk gesit het. Hy word toe met geld omgekoop en verdwyn vir ’n rukkie, maar kort voor lank ontvoer hy vir Lee-Ann en pers vir Chris en Ian af met sy kennis van Lee-Ann en Chris se verhouding. (Ja, julle het seker al daarvan vergeet.) Charlie wou egter hê die waarheid moet uit en nes Ian en Chris gedink het hul geheim is nog veilig, vertel Charlie vir ’n geskokte Lee-Ann dat hulle haar pa se ware moordenaars is. Dié storielyn het kykers in spanning laat wag vir die waarheid om uit te kom en mens kon nie ’n episode misloop om hierdie drama te sien ontvou nie. Dit was maar een van baie geheime tussen Ian en Chris, maar uiteindelik is Chris nou op die regte pad – sonder Ian.
Bridgette stop uiteindelik vir Ian toe sy hom per ongeluk…stamp
Niemand kon voorspel dat die magtige Ian October se reign of terror in Ruiterbosch tot ’n einde sou kom met ’n eenvoudige stamp nie. As almal wat hy al seergemaak het, belieg het of bedrieg het, maar dit geweet het, dink ek sou iemand hom al lankal omgetik het. Maar in 2019 kom Ian October, na jare se manipulering van sy vrou, Bridgette en eintlik almal om hom, tot ’n val. Letterlik! Vir jare het inwoners van Ruiterbosch hom gevrees en wou niemand aan sy verkeerde kant kom nie. Soos die Stefano DiMera en Gita McGregor’s van die sepiewêreld, het hy ’n houvas op die gemeenskap gehad. Maar elke hond kry sy dag en vir Ian was dit die dag toe hy ’n onderonsie met Bridgette gehad het en van die trap afgestamp is. Ná die ongeluk is hy heeltemal verlam en sonder kommunikasievermoëns gelaat. Bridgette het sy sakeryk oorgeneem en haar nooiensvan teruggevat. Sy is steeds die hoof van die October/Jacobs-sakeryk en hou maar vir kykers op hul tone…minstens is sy nie so sleg soos haar man nie. Kykers was natuurlik so bly toe Ian uiteindelik sy dag kry.
Hier kom Nazeem!
Die bom het behoorlik gebars – en kykers heeltemal omkant gevang – toe AB (vertolk deur Cedwyn Joel) se jonger broer Nazeem (vertolk deur Irvine van der Merwe) in 2019 in Ruitersbosch opgedaag het. Van dag een af kon ’n mens sien hier kom moeilikheid. Nazeem mag dalk onskuldig soos sy boeta lyk, maar moenie dat dit jou flous nie. Die hele Ruiterbosch-gemeenskap was geskok toe hy ’n jare lange geheim ontbloot het…HY IS LEE-ANN EN BRIDGETTE SE BROER. En daar begin nog drama! En natuurlik Nazeem en Bridgette se groot oorlog. Hy is immers ’n sukkelaar wat ook graag ’n stukkie van die familie se rykdom wil hê. Vandat Nazeem opgedaag het, laat hy die hare op mense se arms opstaan, nes sy skoonbroer Ian, en kykers is mal daaroor om hom te haat. Nazeem is altyd besig met ’n plan of iets wat jou gaan kwaad maak, so kom ons kyk wat hy volgende gaan doen.
Wat gaan met AB en Farah aan?
Jy kan nie oor ses van die grootste storielyne praat, sonder om AB en Farah te noem nie. Toe die gentleman van Ruiterbosch, AB Samsodien, die pa, man en oupa, besluit om ’n tweede vrou te vat en die geliefde Mymoena (Jill Levenberg) heeltemal te verraai, was dit net te veel vir kykers. Nooit was iemand so gehaat soos sy tweede vrou, Farah (vertolk deur Lee-Ann van Rooi) nie. Farah het AB betower en hom laat glo dat hulle verlief is. Met elke episode het sy die Samsodiens verder uitmekaar gedryf en kyker so ontstel dat Lee-Ann ná ’n rukkie nie eens winkels toe kon gaan nie (ons almal weet hoe invested Suid-Afrikaners in ons sepies is). Hoewel poligamie glad nie vreemd is nie en in baie gelowe en lande beoefen word, was dit die eerste keer dat dit so op ons televisies uitgebeeld is. Die storielyn het die tonge week ná week laat klap met duisende boodskappe op sosiale media van mense wat hulle gevoelens teenoor Farah uitspreek. Maar nadat dit amper vir Mymoena heeltemal verpletter het, het ware liefde gewen en is AB en Farah uiteindelik geskei nadat hy uitgevind het sy is nie wie sy voorgee nie. So kwaad as wat dit vir mense gemaak het, was dit ook baie opvoedkundig om die tradisionele aspekte van ’n Moslem-egskeiding en ander tradisies te sien.
AB kort ’n nier
Die Samsodien-familie kom voor hul grootste krisis nog te staan met AB wat nierversaking kry en Nazeem wat enigiets sal doen om sy lewe te red. Hierdie is ’n onderwerp wat mense diep raak, omdat dit wêreldwyd so ’n groot gesondheidsprobleem is en op daardie ongemaklike knoppies druk tussen die regte ding doen en jou geliefde red. Niemand wil sien hoe jou geliefde sterf nie en dit is die dilemma wat Mymoena en Nazeem in die gesig staar. Hul liefde vir AB dryf hulle na die swartmark vir ’n nier. Wanneer AB hiervan uitvind – en boonop agterkom Mymoena het geweet van Nazeem se duistere planne – dreig dit opnuut tot tweespalt in die familie en ’n moontlike egskeiding.
Nog sepie-stories
Maande se sweet in die bokskryt vir dáái uitklophou
Akteurs van die gewilde kykNET&Kie-telenovela, ‘Arendsvlei’, het maande lank vir die groot boksgeveg-storielyn voorberei. Hulle vertel meer oor die sweet en swoeg.
Meer‘’n Hele gay troue!’: Liefde wen op ‘Arendsvlei’
Dié Arendsvlei-troue is een van die eerstes van sy soort op Afrikaanse TV.
MeerVinette Ebrahim oor ouer word, ‘Legacy’ en f-bombs
Ná 19 jaar as die fronsende moederfiguur Charmaine in ‘7de Laan’ vul dié veelsydige aktrise nou haar repertoire met bont rolle en nuwe uitdagings.
Meer