Menu terloops
In Lekker mense [10 Nov 2021]

Maande se sweet in die bokskryt vir dáái uitklophou


Akteurs van die gewilde kykNET&Kie-telenovela, ‘Arendsvlei’, het maande lank vir die groot boksgeveg-storielyn voorberei. Hulle vertel meer oor die sweet en swoeg.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

Maande se sweet in die bokskryt vir dáái uitklophou

As dit kom by toewyding tot ’n rol, is daar ’n klompie akteurs wat die ekstra myl loop om die karakter en storielyn so outentiek moontlik te vertolk. Die Australiese akteur Chris Hemsworth het op ’n streng dieët gegaan (net 500 kalorieë per dag!) om vir sy rol as Owen Chase in die Hollywood-fliek, Heart of the Sea, voor te berei. Die Oscar-wenner Halle Berry het vir twee weke nie gestort het nie om in karakter te kom as die dwelmverslaafde prostituut, Vivian, in die 1991-fliek, Jungle Fever.  

Wie kan Natalie Portman se ontnugterende, en briljante toneelspel as ’n ballerina in Black Swan vergeet? Om haar lyf en kop vir die rol reg te kry, het dié bekroonde ster ’n uitmergelende agt ure per dag  ballet geoefen. En dan is daar natuurlik ons eie golden girl Charlize Theron wat die Oscar in 2004 vir haar ikoniese rol as reeksmoordenaar Aileen Wuornos in die fliek Monster gewen het. Vir dié rol moes sy 10kg se liggaamsgewig optel en haar wenkbroue afskeer. Sy was amper onherkenbaar soos sy haar in dié rol ingeleef het..

Maar dit is nie net in Hollywood waar akteurs hul toewyding wys nie. Ook op eie bodem sit akteurs die ekstra werk en ure in om hul karakters en storielyne op die skerm te laat leef. Onlangs het kykers van die gewilde kykNET&Kie-telenovela, Arendsvlei, die langverwagte groot boksgeveg tussen Bennie “Die Breker” Bekker (Ashley Kamfer) en Lennie “Lightweight” Engelbrecht gesien, waarin Lennie (Dann-Jacques Mouton) uiteindelik die uitklophou gelewer het. Maar die boksstorielyn was beslis nie net rolspel nie.

Al die akteurs wat deel van dié storielyn uitmaak, het immers sowat twee maande voor dié geveg geskiet is as voorbereiding begin oefen.

En daar het jy dit, Lennie (Dann-Jacques) lewer die uitklophou! Foto: Verskaf
En daar het jy dit! Lennie (Dann-Jacques Mouton) se opstoppers het Bennie (Ashley Kamfer, links) in die bokskryt laat sneuwel. Foto: Verskaf

Dann-Jacques, wat die boksklub-eienaar, Lennie, in dié telenovela speel sê hy het geen vorige ondervinding gehad nie, maar was nog altyd nuuskierig oor dié sport en het dit vreeslik geniet om al die tegnieke aan te leer – al het hy nie aanvanklik besef waarvoor hy hom inlaat nie. Hy het vinnig besef hoe fiks ’n mens moet wees om te kan byhou. Ná agt weke se bokslesse, twee keer ’n week, kon hy uiteindelik met daai wen-opstopper laat waai.

“Die opleiding was aan die begin regtig taai, maar dit het met tyd beter geword en toe was dit pret. Ek hou daarvan om navorsing te doen wanneer ek vir ’n rol voorberei en vir hierdie een het ek baie MMA-gevegte (mixed martial arts) gekyk en musiek geluister om in die regte mindset te kom.”

Clayton Evertson moes hard voorberei vir die groot boksgeveg in Arendsvlei. Foto: Verskaf
Clayton Evertson het hard voorberei vir die groot boksgeveg-storielyn in Arendsvlei. Foto: Verskaf

Vir Dann-Jacques was dit belangrik om soos ’n bokser te voel én te beweeg, veral omdat daar van sy karakter verwag is om lig op sy voete en ’n kranige bokser te wees. Die opleiding het nie net met sy tegniek gehelp nie, maar dit het hom ook gemaklik laat voel en selfvertroue gegee. Dít was juis iets wat vir hom belangrik was om die storielyn vir die kykers so eg as moontlik te maak.

Maar Dann-Jacques is nie die enigste een wat sy bokshandskoene moes aantrek nie. Arendsvlei-vyande Beatrice Abrahams (vertolk deur Jolene Martin) en Wendy Newman (vertolk deur Rehane Abrahams) het ook ’n paar vuishoue ingekry. Clayton Evertson, wat die rol van Beatrice se kêrel en die undercover polisieman/boksafrigter Jo Johnson speel, het ook vir die eerste keer in die boksring geklim, sowel as Ruben Engel en Earl Kruger wat pa Willem en seun Eugene in Arendsvlei speel.

Die akteurs vertel meer oor die ervaring:

Oor hul voorbereiding vir die storielyn

Jolene (Beatrice): “My voorbereiding was omtrent agt weke met ’n minimum van vier uur per week. My normale oefening, bo en behalwe die bokslesse, was springtou. Ek moet eintlik my ondersteuners bedank vir die opleiding saam met my gedoen het! Ek het die #SkipSaamChallenge begin, omdat ek dit moeilik gevind het om alleen in die winter te oefen en my aanhangers het my werklik ondersteun! Almal het video’s gestuur van hoe hulle spring – van ma’s wat langs hul babas spring tot skole in die Noord-Kaap en selfs aanhangers in Namibië. Hulle besef nie eens hoeveel hulle my aangemoedig het deur daardie koue, reënerige dae nie.

Rehane (Wendy): “Ek het vir ’n paar maande, twee keer ’n week, sessies gehad soos my skedule dit toegelaat het. Ek is mal oor oefen. Ek is ’n fisieke teaterkunstenaar en om die liggaam te oefen is ’n belangrike dissipline vir ’n kunstenaar. Ek oefen al my hele lewe lank. Behalwe vir boks, beoefen ek tans Tai chi en ek wil nog graag met swaarde oefen.”

Ashley (Bekker): “Ek het vir twee maande, twee keer ’n week, sessies gehad.”

Oor wat hulle verbaas het

Clayton Evertson (Jo Johnson): “Wat my die meeste van boks verras het, was die geestelike uitdaging. Veral wanneer jy in die ring is en jy probeer om jou teenstander in ’n vuishou te manipuleer. As jy in die gesig geslaan word, hoe herstel jy en kom terug tot die geveg? Ek het dít die moeilikste gevind, veral wanneer jy teen die einde van die sessie moeg gevoel het, maar steeds moet deurdruk.”

Rehane (Wendy): “Ek was verras om aggressie as ’n bron van energie in my liggaam te vind as jy so gefokus is. Boks is so tegnies. Soms raak die wiskunde daarvan ’n bietjie te veel vir my. Maar ek wil graag voortgaan.”

Jolene (Beatrice): “Ek was baie opgewonde om te begin oefen. Ek was ’n danser en ook ’n atleet op skool, so dit was wonderlik om te voel hoe die spiergeheue inskop met sommige van die opleidingsaspekte. Die eerste maand was egter moeilik. My achilles het begin pla en my kollegas op stel het my elke dag uitgelag omdat ek letterlik nie kon loop nie. Veral nie in Beatrice se stilettos nie.”

Oor ander rolle se interessante voorbereiding

Earl Kruger (Eugene): “Toe ek op Suidooster was, was die karakter wat ek vertolk het ’n laerskool-krieketafrigter wat later aan hoesstroop verslaaf geraak het. Voordat ek begin skiet het, moes ek myself opvoed, eerstens oor krieketafrigting, en tweedens, oor die fisieke en geestelike invloede wat die misbruik van hoesstroop op tieners het om dit in die karakter te kon ploeg. “

Ruben Engel (Willem): “Ek het ’n karakter vertolk in ‘n fliek wat in antieke Egipte afspeel, en het vir die hele skiettydperk nie gebad nie.”

Jolene (Beatrice): “Ek het al dinge gedoen soos om maande lank in die hof te sit ter voorbereiding om ’n senior advokaat te speel. Ek is tans besig om in twee afsonderlike dissiplines opleiding te kry vir projekte. Wanneer skrywers van jou vaardighede bewus is, sal hulle dit dikwels in die storie invleg wat ’n dan ’n veelvlakkige storiewêreld skep en boonop ook die kunstenaar uitdaag. Ek het ook ’n ontsettende groot passie vir motors, so ek wag net vir ’n verfilmingsbreek sodat ek ’n intensiewe stunt-bestuurkursus, sowel as vuurwapenopleiding kan doen.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies