Menu terloops
In Lysie-lysie [15 Sep 2021]

Arendsvlei, Egoli en nog: Dié Afrikaanse sepies op Showmax


Dis nou een ding van Afrikaanse sepies – daar is wraggies nooit ‘n tekort aan drama óf skandaal nie.

Arendsvlei, Egoli en nog: Dié Afrikaanse sepies op Showmax

Daar’s nooit ’n tekort aan drama in dié Afrikaanse sepies nie.

1

Arendsvlei

Die SAFTA-benoemde Arendsvlei is ’n meesleurende telenovella wat draai om die leerders, hul ouers, en die onderwysers van die Hoërskool Arendsvlei. Dit speel af op die Kaapse Vlakte en is ’n blik op die wêreld van tieners met storielyne wat wissel van groepsdruk, seks en dwelms, tot druk om te presteer, in te pas, maar ook om getrou aan hulself te bly. Dan is daar natuurlik ook die volwasse garde se sagas – ’n bietjie moord hier, ’n affair of wat daar – en saam is dié kombinasie uiters boeiende kykstof. Die rolverdeling sluit in veteraan-sepiester Ilse Klink (Nêrens, Noord-Kaap), Carmen Maarman (Lui maar op, Belinda) en Jolene Martin (Fishy Fêshuns).

Kyk dit op kykNET & kie op DStv, DStv Catch Up en Showmax.

2

Suidooster

Suidooster
Suidooster is een van die top-sepies, in enige taal, in die land.

Suidooster draai om die mense van ’n klein winkel- en sakesentrum in Ruiterbosch, ’n fiktiewe Kaapse voorstad waar verskillende gesinne in mekaar se lief en leed deel. Die Octobers, die Samsodiens en die Du Plooys is al in mekaar se besigheid in, en daar is nooit ’n tekort aan skinner en spektakel nie. Die lot het onlangs nuwe bure in die buurt gekry – Esther von Waltsleben en Natasha van Der Merwe vertolk Elana en Susan, Suidooster se eerste getroude gay paartjie. Die sepie het in 2015 met net drie episodes ’n week begin, maar sedert 2017 word daar nuwe episodes van Maandag tot Vrydag uitgesaai.

Kyk dit op kykNET op DStv, DSTV Catch Up en Showmax.

3

Binnelanders

Vir 16 jaar reeds verober sepievrate die hoogdrama wat in die Binneland-kliniek afspeel. Dié sepie het begin as ’n uur lange mediese drama, Binneland, op M-Net en kykNET, maar nie lank later nie is die formaat na ’n halfuur lange weeksdag-drama verander. Intussen is, soos ’n ordentlike sepie betaam, verskeie karakters by die hospitaaldeure in en uit – heelwat van ons land se top-talent het op dié stel dokter-dokter gespeel en die sepie se nuutste gesig is Roeline Danéél (Fynskrif, Arendsvlei). Die reeks fokus op die wel en weë van die kliniek se personeel en pasiënte, maar met die hoeveelheid drama wat in die lewens van die karakters afspeel – van verlief raak op pasiënte, tot die afweer van industriële spioenasie – is dit besonders dat daar ooit tyd is om enige werk gedoen te kry!

Kyk dit op Showmax, kykNET op DStv en DStv Catch Up.

Die kykNET-sepie, Binnelanders, is ook op Showmax beskikbaar.
Die kykNET-sepie, Binnelanders, is ook op Showmax beskikbaar.
4

Getroud met Rugby

Rugby is big business in die regte wêreld én in showbiz – maar in Getroud met Rugby gaan dit oor veel meer as 80 minute se lynstane en losgemale op die veld. Getroud met Rugby is soos Binnelanders deur ’n paar gedaantewisselings – aanvanklik was dit ‘n weeklikse drama-reeks, maar deesdae speel dit as ’n sepie op weeksaande af. Met ’n rolverdeling wat vir onder andere Stephanie Baartman, Christel van den Bergh en Altus Theart insluit, draai die storie om die intriges, skandale, huwelike, seksuele verhoudings, rugbypolitiek en verraad wat van die veld af ontvou.

Kyk dit op kykNET op DStv, DStv Catch Up en Showmax.

Die oorspronklike dramareeks se 63 episodes is ook op Showmax beskikbaar.

Losgemale en lynstane is maar die minste van die aksie in Getroud met Rugby.
5

Egoli: Plek van Goud

In 1992 het Suid-Afrika se eerste tweetalige (Engels/Afrikaans) sepie sy debuut op M-Net gemaak. En in oopkyktyd nogal. Gratis en verniet, al het jy nie M-Net gehad nie. Dalk daarom die aanvanklike gewildheid, hoewel skepper Franz Marx se Bold & the Beautiful-esque karakters later amperse huisgaste geword het. Daar was Gé Korsten se Walt Vorster, die patriarg van die Vorster-familie, Chantel Stander as Joanne (en later sommer ook as Joanne se tweelingsuster Kimberley), David Vlok as slinkse Tim, Tiffany Kelly se moenie-met-my-mors-nie-Sonet, Shaleen Surtie-Richards as Marlboro Mansions se woelige opsigter, Nenna, en ’n lang lys ander akteurs wat oor die loop van 18 jaar stories van kullery, etlike affairs, troues en egskeidings en nog troues, kultusse en ’n boef by name van Spider (Wilson Dunster), vertel het.

Kyk dit op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies