Die geliefde sepie-, film- en teaterakteur, Vinette Ebrahim, is op 64 ’n veteraan in die toneelspeel-bedryf. Maar, vertel sy, ikoon of nie, sy staan reg om soos ’n spons die nuwe en jong talent om haar op te soak.
Vinette, wat alombekend is vir haar 19 jaar lange rol as die moederfiguur Charmaine Beukes Meintjies in die SABC2-sepie 7de Laan, is al meermale vir haar werk vereer. Onder dié tel ’n Nadeli-toekenning vir haar roerende vertolking van Ellen Pakkies in die teater produksie My Naam/Name is Ellen Pakkies, asook ’n Kanna-toekenning vir beste aktrise vir haar rol in Boesman en Lena.
Ons gesels laat op ’n weeksaand terwyl sy aandete in haar kombuis in Johannesburg maak. Steak en groente met ’n titseltjie lemongrass is op vanaand se spyskaart. Tussendeur die gesels en die kosmaak probeer sy ook haar hond met trooswoorde sus. Dié is “steeds verskriklik bang gedurende hierdie donderstorms in Gauteng. Ek sal later weer ’n pilletjie moet gee.”
Dié ma en ouma woon al vir 22 jaar in Johannesburg, maar sê haar hart verlang Kaap toe, na haar familie en mense toe. Tog, elke keer as sy wil verhuis, duik daar werksgeleenthede op – en waar die werk is, moet sy maar bly. Soms, as sy gelukkig is, neem dit haar wél in Tafelberg se rigting.
Besig, besig, besig
Sedert die geliewe karakter Charmaine die Laan in 2019 gegroet het, is Vinette soos ’n verkleurmannetjie van een nuwe karakter tot ’n volgende. In die kykNET-telenovela Arendsvlei het sy Antie Poppy vertolk en ook in die Kaap aan die internasionale bekroonde film Barakat gewerk. So ook was sy saam met onder andere Quanita Adams in die komedie, Swirl: A letter to hair on the Cape Flats.
Sy het ook onlangs in die kykNET-drama Spoorloos 3 as Franci verskyn, ’n ma wat van haar dogter vervreemd is, asook in die donker drama Skemerdans as Mercia. Dan was daar ook haar speelvak as Vida in Binnelanders. Deesdae is sy die quirky kantoorbestuurder Marie Fortune in een van M-Net (en Showmax) se gewildste stories, Legacy. Marie is nie ’n groot rol nie, maar ons het al immers telke male gesien hoe kleiner karakters kykers se harte steel en selfs soms gunstelinge word. Kyk nou maar net na Daneel van der Walt as Suzette in Nêrens, Noord-Kaap as voorbeeld.
“Dit is nie te versmaai nie,” sê Vinette. “Ek love die rol en dit gee my tyd om ander dinge ook te doen, soos skryf. Ek is mal daaroor om ’n stukkie te skryf,” sê sy.
In ons bedryf is daar nie iets van ‘ek kan nie meer leer nie’. Jy moet altyd honger wees om te wíl leer en jou kuns te wíl verbeter.
Wanneer sy nie voor die kamera is nie, sal jy haar dus vind waar sy sit met ’n notaboek en pen, besig om stories vir onder meer die verhoog te skryf.
“Nee kyk, as jy nie besig bly in dié bedryf nie, vergeet mense vinnig van jou. Jy is regtig net so goed en relevant soos jou laaste job”.
Nuwe bloed
Oor of dit moeilik vir ouer akteurs is om werk in die mededingende Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te kry, sê Vinette daar word gelukkig al meer storielyne vir ouer karakters geskep. En dít nogal deur die nuwe bloed in die bedryf.
“Meer van ons jongmense is besig om produksiehuise te begin en werk te skep. Die talent onder ons jongmense is skrikwekkend en my mond hang oop. Hulle inspireer my van voor af.
“Hoewel ek vir hulle op die verhoog ’n ding of twee sal kan leer, leer hulle beslis weer vir my ’n ding of twee op ’n filmstel.”
Haar entoesiasme en opgewondenheid is merkbaar, selfs so oor die telefoon.
“Vir my is dit regtig lekker om te sien hoe besig ons kinders is, veral omdat hulle hart en siel in hul werk ploeg. Dit laat my regtig smile en gelukkig vir iemand soos ek, wat nou al ’n bietjie ouer is, is daar altyd ’n rol vir ’n ouma, ’n ma of ’n uitkyk-auntie in die stories wat deesdae vertel word. Maar dit is nie net in films nie – selfs in sepies en telenovelas word daar meer rolle vir ouer vroue geskep.”
As die gogga eers byt…
Hoewel baie mense op haar ouderdom aftree, is dit beslis nie vir Vinette ’n opsie nie. Vinette glo sy sal bitter vinnig verveeld word as sy nou by die huis moet gaan sit. Nee wat, sy is nog te jonk vir daai.
Sy het al oorweeg om ’n loopbaanskuif te maak, maar meen dis nou te laat.
“Om te act is in my bloed. Dit is wie ek is.
“Ek het al baie daaraan gedink, maar wat sal ek doen? Ek het nou wel nie die regte kwalifikasies nie, maar met dekades se ondervinding sal ek seker dramaklasse kan gee tot dit uit my ore uitkom. Of ek sal kan skryf. Ek het nou al myself bewys as ’n goeie skrywer van dramas.
“Maar ek ken niks anders nie en as die gogga eers gebyt het, sal jy áltyd voor die kamera wil wees.”
Sy put nog vreugde uit wat sy doen en deel van dié genot is om by die jonger gardes te leer – en hulle by haar.
“In ons bedryf is daar nie iets van ‘ek kan nie meer leer nie’. Jy moet altyd honger wees om te wíl leer en jou kuns te wíl verbeter. Wat die jongmense nou weet en doen is ongelooflik – veral in TV en film.”
Waarom dan nie nuwe dinge probeer en leer nie?
Van sepies tot telenovelas
Oor haar rolle in telenovelas soos Arendsvlei en Legacy, sê Vinette daar is ’n bietjie meer kreatiewe vryheid as op ’n sepiestel.
“Op ’n sepiestel is hulle baie streng met die text. Jy kan nié daarvan afwyk nie – dit moet presies wees soos wat daar geskryf staan. Op die stel van ’n telenovela is hulle ’n bietjie meer relaxed en jy het baie meer vryheid met die karakter. Dit is ’n lekker los en ander tipe vibe.”
Oor haar Legacy-karater, Marie, praat Vinette oor die lekkerte om iemand meer eksentriek te speel, eerder as die moederfiguur à la Charmaine. Dis iets waarvan sy doelbewus van wegbeweeg, hoewel Marie ook sommige van dié tipe karaktertrekke vereis.
“Daar is baie drama in Legacy en almal op kantoor soek ’n ma. Marie is baie lief vir Lexi en die seuns, maar ek wil nie Charmaine channel nie. Ek is baie bewus daarvan en probeer lekker komedie inbring om Marie anders te maak. Sy weet nie hoe om ’n computer te werk nie en is baie snaaks met haar maniere en sê-goed. Ek probeer om eerder dít soveel as moontlik in te bring.”
F-bombs & psychos
Sy speel ook tans in die e.tv skop-skiet-en-donner-drama Housewives waar sy die kans kry om lekker te vloek. Vinette, wat daarvan hou om ’n bietjie meer haar donker kant te uit te leef, geniet dit om rolle te vertolk waar sy haarself kan uitdaag en lekker met die karater kan rondspeel.
Wanneer kry jy die kans om te vloek of die f-bomb te gebruik? Dit was vir my te lekker om dit te kan doen. As jy die kans kry, moet jy dit vat.
“Wanneer kry jy die kans om te vloek of die f-bomb te gebruik? Dit was vir my te lekker om dit in Housewives te kan doen. As jy die kans kry, moet jy dit vat,” sê sy laggend.
Oor ’n droomrol wat sy nog nie gespeel het nie, sê die saggeaarde ma en ouma sonder twyfel wil sy nog graag ’n regte psycho reeksmoordenaar speel…bygesê, niemand moet vermoed sy is die moordenaar nie. Sy het ’n gevoel hiervan gekry met Charmaine se bose tweeling Viviene in 7de Laan, maar dit was nie genoeg vir haar nie.
Besig, besig, besig. Vinette bly opgewonde oor die toekoms en ja, laat sy hoor, daar is nog plek vir ’n hele paar karakters in haar repertoire.