Daar is min dinge wat my so bederf soos ’n kuier op die plaas. En as jy my emosioneel wil sien, moet my Ouma se Kerstafel gedek staan.
Min kon ek op ’n Novemberaand gereed wees vir wat Kokkedoor: Klassiek voor my gaan opdis. As ek nou daaraan terugdink, voel dit asof Herman Lensing daardie aand vir my ’n kombuisstoel uitgetrek en gesê het: “Kom sit, hartjie. Ons maak TV.”
So maak ek en my man, Chappy, ons gereed vir wat ek gedink het ’n kykie in ’n kombuis vol bekende geure, resepte en topklas kosuitdagings gaan wees. Soesji op die skoot, voete op die rusbank en Kokkedoor op die kassie. Daar sit ons. Maar die nuwe seisoen van Kokkedoor Klassiek bedien toe soveel meer as net ’n pampoenpoffer met ’n twist!
Wanneer die eerste episode begin, voel dit asof ons TV-skerm in ’n kunswerk verander. Die bottergeel canolavelde, die antieke stoele met iemand se gehekelde famlilietafeldoek daaroor gedrapeer, die egte silwer opskepbakke en die ivoorkleurige handvatsels van die lepels waarmee die aksie opgedis word. Kamera’s. Keurig. Klassiek! ’n Fees vir die oog.
In die verte sien ons die twintig deelnemers wat senuweeagtig deur die goue landskap aangestap kom. Dis dag een. Hulle kort nog ’n klein bietjie bravade, ’n tikkie kunstigheid en elkeen ’n nuwe spanmaat. Maar daar in die einste veld blom die eerste kinkel van Kokkedoor: Klassiek. En die noodlot speel natuurlik ook ‘n rol…

Nostalgie is die sleutelbestanddeel
Die premis is eenvoudig: elke span bestaan uit twee kokke. ’n Onthoukok, ’n huiskok met ’n liefde vir kos en ’n resepteboek vol notas en herinneringe, en ’n kinkelkok, ’n professionele sjef uit die bedryf.
Maar hoe bring jy die twee wêrelde bymekaar? Nostalgie met ’n interessante dog berekende draai. Daar is net een manier om dit te laat werk: die spanmaats sal ’n goue middeweg moet vind. Stokkies in die hand is ek en Chap hooked!
Wel, sê Herman en sy mede-aanbieder Jess van Dyk, die onthoukokke moet elkeen op ’n lukrake, maar slim manier, nie net ‘n spanmaat kies nie, maar ook die resep vir die eerste episode se uitdaging. (Nota aan lesers: Ongelukkig kan ek nie verklap hoe nie, want dié rubriek word voor die eerste episode gepubliseer.)
Die resep moet natuurlik met ’n kinkel gekook en opgedis word – sonder om dit onherkenbaar te maak. Disse met drama is op die spyskaart. En ons is hier vir elke hap!
Daar skop ons die Kokkedoorstoor se kombuisdeur oop en die eerste lepel kap teen die eerste pot. Nou gaan ons sien wie se sop op die vloer gaan val en wie se aartappelskiltegniek bo-baas kraai. En soos die program aangaan, besef ek dat hierdie ’n ongelooflik sentimentele seisoen gaan wees wat belowe om kaneel en heimweë drie keer te draai voor hy sommer net op ’n melktert gaan lê.
Prentjiemooi
Elke skoot lyk soos iets uit ’n portret en ek sit sommer regop op die rusbank, want dit voel asof iemand vir my ’n antieke servet oor die skoot kom drapeer het. Ons woonstel se sitkamer is nou deel van ’n ou plaashuis se kombuis. Ek ken hom, maar ek ken hom nie, maar ek ken hom. En dis net die openingstonele. Ek het nog nie eens my sojasous en wasabi klaar gemeng nie.
Ek draai na Chappy en sê: “Hierdie reeks is soos ’n skildery van geur, kleur en kompetisie-atmosfeer.” Hy sê ek moet my bepaal, want hy wil hoor wat hulle sê.
Daar is soveel aandag aan die fynste besonderhede geskenk dat die fynproewery beslis nie net op die borde stop nie.
Van die beoordeling deur Herman, ’n bekroonde kosskrywer, en Jess, ’n talentvolle sjef wat al behoorlik haar merk in die restaurantbedryf gemaak het, tot die dekor van die Kokkedoorstoor is die sorgsaamheid sigbaar. En kan ons net ’n oomblik neem vir die indrukwekkende Checkers-spens wat letterlik in die kombuis pronk? Pronk! Fênsie pantry!
Dan val hulle weg! Met monde, hande, houtlepels en klitsers vertel die geraas in die kombuis ’n verhaal van tradisie, kosinspirasie en hoe ou resepte lyk met nuwe rokke aan.
Spanmaats is gespanne en daar is penne en planne, onverwagse uitdagings, kniehalters en ’n les. Maar die voorskote vol vriendelike gesigte, harte vol heimweë en liefde vir Suid-Afrikaanse koserfenis straal wanneer Herman en Jess die deelnemers lei en kasty. Selfs wanneer hulle oor die vingers getik word oor daai ekstra knippie sout.

Mengelmoes van deelnemers
Die deelnemers is ’n mengelmoes van lekker persoonlikhede, grappies, spanwerk-tameletjies en selfs een wat amper flou raak. Familietruuks op die brode, druk vir die kokers en almal kompeteer vir daardie eenmiljoenrand-boerpot aan die einde van die reënboog. Dinge raak warm en hier op die bank het Chappy klaar sy eie planne van wat “hy sou maak”.
Dan word die borde aan die beoordelaars voorgesit. Die spanning loop hoog. Ek en Chap het reeds ons gunstelinge en wonder hardop waar sommige deelnemers aan hul idees kom. “Daai tannie lyk of sy wéét van kook” sê hy wat net ‘n eier kan braai.
“Hemele bedek my!” skree een deelnemer en ons skater. Nie ek of Chap wil tee gaan maak nie, want netnou mis ons iets.
Die kommer wys op die gesigte, die kommentaar reën neer. Daar is wat is, wat was en wat moes gebord het. Maar dis kompetisietyd en almal moet opkyk en lus lyk.
Ek kan amper die geure van die kos in my sitkamer ruik. Dis daardie soort televisie wat my laat verlang na ’n tyd toe resepte met die hand neergeskryf is.
Ek maak sommer notas op my foon van die wenke wat hulle deel en onthou weer dat daar altyd plek moet wees vir nog ’n gas. Chap sê ek moet “oeblietjie” google. “Ons” moet dit maak.
Lus vir nog skeppies
Dan kom die punte uit. Die topspanne en dié wat die pot mis gesit het…
So het Kokkedoor: Klassiek, my onverwags gevang, vir my ’n plek gedek by ’n tafel waar ek weekliks wil aansit en my liefde vir Suid-Afrikaanse koserfenis weer laat opvlam.
Die liedjie speel, Chap sug en ek vat die borde wasbak toe.
Nou moet ons ‘n hele week wag vir ons tweede skeppie Kokkedoor. Maar dan kan die Japanese kos ook maar terugstaan, want volgende week kook ons uit my Ouma se resepteboek.
– Marteni Burger
Kokkedoor: Klassiek is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.







