’n Belydenis kan ’n huwelik oopkloof. ’n Goeie daad kan jou voor die hof laat beland. En ’n vreemde lig by die vlei kan ’n hele woonbuurt op hol jaag. Dié November tref ’n tornado van drama die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar kykNET se Suidooster afspeel.
Oktober se geheime begin hul tol eis, en vir sommige geliefdes is dit tyd om eienaarskap van die skade wat hulle veroorsaak het, te vat. Elders maak ’n baba se naderende koms ou gevoelens wakker, terwyl ’n pa en seun se jarelange koppe stamp ’n ontstellende draai neem.
Gelukkig sorg Ruiterbosch se ontluikende belangstelling in die buiteruim ook vir ’n paar ligter oomblikke.
Hier is ses groot storielyne om in November dop te hou:
1. Bianca en Siya se huwelik op breekpunt

Bianca (Simone Biscombe) se ergste vermoedens word waar wanneer Siya (Gantane Kusch) erken dat hy ’n affair met Elzette (Nina Swart) gehad het. Die vernedering sny diep, veral wanneer sy besef dat haar ma, Mymoena (Jill Levenberg), boonop bewus was van sy ontrouheid.
Siya wil sy huwelik red, maar Bianca kan nie bloot aangaan asof niks gebeur het nie. Wanneer sy uit die pastorie trek, raak die skeuring in die gesin onmoontlik om weg te steek. Die kinders se vrae en reaksies maak dit des te moeiliker om die pyn agter toe deure te hou.
Met Amanda (Lindie Strydom) se hulp wag daar uiteindelik moeilike gesprekke oor vertroue en vergifnis. Tog is ’n gedeelde ete of ’n oomblik van toenadering nie noodwendig genoeg om die skade te herstel nie. Bianca moet besluit of sy weer ’n toekoms saam met Siya kan sien, terwyl hy moet leer dat berou en versoening nie dieselfde ding is nie.
2. Die stryd om die kliniekprojek is ’n bitter pil

Die kliniekprojek wat hoop moes bring, laat ongemaklike vrae ontstaan oor die geld waarmee dit gefinansier sou word. Wanneer die ondersoek na die Mdeni-fabriek ook na ’n onderneming in Sri Lanka lei, word dit duidelik dat die probleem veel verder as een gemeenskap kan strek.
Mymoena en Elzette se pogings om die waarheid bloot te lê, is ’n opdraende stryd.
En dan daag Elzette se eksman, Willem Potgieter (Ivan Zimmermann), op as regsverteenwoordiger van die sakeman agter die fabrieke. Sy betrokkenheid bring nuwe spanning en dinge bereik breekpunt wanneer Justin (Eden Classens), Willem en Elzette se seun, ook standpunt inneem.
Gaan bloed dikker as water wees?
3. Gary se hart en rekenaarvernuf word uitgebuit

Gary (Craig Adriaanse) wil glo dat Claire (Julia Marone) ’n nuwe blaadjie omgeslaan het. Wanneer geld wat uit die gemeenskap geswendel is weer by die slagoffers uitkom, lyk dit selfs of daar rede vir hoop is. Maar Claire se belangstelling in Gary se besondere rekenaarvaardighede is nie so onskuldig soos dit klink nie.
Nazeem (Irvine van der Merwe) begin intussen vermoed wie hom ingeloop het. Sy dreigemente plaas Gary in gevaar, en Claire beland in ’n vennootskap wat sy liefs vir haar geliefde wil wegsteek.
Terwyl Gary aan hul verhouding probeer vashou, raak die leuens al moeiliker om te verduidelik.
4. Groen ligte laat Ruiterbosch behoorlik gons

Bennie (Richard September) is oortuig daar is ruimtewesens by die vlei, en Riaan (Daniel Coetzee) se belangstelling in die onverklaarbare maak hom die ideale bondgenoot. Wanneer Zoë (Lauren Joseph) ook iets vreemds beleef, kry hul ondersoek nuwe momentum.
Frankie (Mienke Ehlers) vind die hele storie aanvanklik skreeusnaaks, maar Riaan wil ernstig opgeneem word. Kort voor lank lok die gerugte ’n hele groep ruimtewesejagters na Ruiterbosch, en die plaaslike handelaars ontdek dat ’n mens ook uit groen liggies kan verdien.
Selfs Bridgette (Denise Newman) begin sakegeleenthede raaksien wanneer ’n bekende kunstenaar belangstelling toon. Met ’n onderhoud en ’n groter geleentheid in die vooruitsig raak die verwagtinge al hoe hoër. Maar hoe gemaak wanneer die waarheid dalk aansienlik minder indrukwekkend is as die storie wat almal reeds glo?
5. Tino keer terug

Angie (Char Carrie) se swangerskap bring genoeg uitdagings sonder dat sy ook oor blyplek moet bekommer. Wade (Dean Smith) se aanbod dat sy tydelik by hom en Lee-Ann (Portia Joel) intrek, lyk na ’n praktiese oplossing. Tot Angie saam met haar tasse ook vir Tino (Cole Wessels) saambring.
Die nuwe huishouding verg heelwat aanpassing. Tino wil sy vriendin teen nóg hartseer beskerm en hou Wade se toenadering fyn dop, terwyl die verwagtende ouers al hoe meer kosbare oomblikke deel.
Van voorbereidings vir hul seuntjie tot ’n groot skrik wat hulle onverwags laat saamstaan, word dit moeiliker om hul gevoelens as blote opgewondenheid oor die koms van die baba af te maak.
6. Justin en Willem se tyd om vrede te maak hang aan ’n draadjie

Willem se besluit om in Ruiterbosch aan te bly, krap ou wonde tussen hom en Justin oop. Wanneer Willem en Nazeem boonop ’n sakevennootskap sluit, is die gort behoorlik gaar tussen pa en seun.
Justin probeer alles in sy vermoë om ’n stokkie voor Willem en Nazeem se planne te steek, wat sy pa rooi laat sien nie.
Wat Justin nie weet nie, is dat Willem ’n groot geheim het wat sy desperaatheid aanvuur. Agter sy pa se hardkoppigheid en bravade skuil daar ’n vrees vir ’n onsekere toekom. Met elke nuwe beskuldiging en konfrontasie raak die kans op vrede ook al hoe skraler.
Suidooster is Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream vanaf R99 per maand vir die Starter-pakket.







