Menu terloops
In Fokus [21 Okt 2026]

Die Kat(e) is uit die sak! Hier is ‘Boer soek ’n vrou’ se nuwe aanbieder


Die aktrise Kate Roothman is die nuwe aanbieder van ‘Boer soek ’n vrou’. Sy volg Reandi Grey op en word die agtste aanbieder van dié gewilde maatsoekreeks.

Die Kat(e) is uit die sak! Hier is ‘Boer soek ’n vrou’ se nuwe aanbieder

Die aktrise Kate Roothman, veral bekend vir haar rol as Nicolette in Binnelanders, is die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou. Sy volg Reandi Grey op en word die agtste aanbieder van dié gewilde maatsoekreeks.

Vir Kate is die geleentheid om die boere op hul soeke na liefde te vergesel ’n voorreg wat met opgewondenheid én nederigheid gepaardgaan.

“Boer soek ’n vrou is so ’n geliefde deel van Suid-Afrikaanse kultuur. Om in die voetspore van die wonderlike vroue voor my te tree, is ’n groot eer,” sê Kate in ’n eksklusiewe onderhoud met Bravo! se Ewan Strydom. Dié episode word Donderdag (22 Oktober 2026 ) om 21:00 op kykNET uitgesaai.

Kykers het haar as die ambisieuse dokter Nicolette leer ken, maar hulle gaan nou ’n ander kant van Kate sien: iemand wat waarde heg aan luister na mense se stories, asook die vermoë om bloot teenwoordig te wees wanneer dit saak maak. Sy hoop om die boere en hul pasmaats met ’n oop hart te ondersteun, met humor wanneer die spanning hoog loop en ’n veilige ruimte te wees wanneer emosies die oorhand kry.

Die plaasomgewing is vir haar bekende terrein. Kate het op ’n plaas naby Sannieshof in Noordwes grootgeword en beskryf haar kinderjare as wild, vry en vol avontuur. Daar was perdry, visvang en speletjies in die modder tot die spreiligte aangeskakel is en dit tyd was om huis toe te hardloop.

“Daardie gees van vryheid, harde werk en eenvoud is iets wat altyd by my sal bly. Die eerlikheid van die platteland herinner my altyd aan wat werklik saak maak in die lewe. Ek voel dadelik tuis wanneer ek op ’n plaas is.”

Liefde is nie groot gebare nie

Volgens Kate lê Boer soek ’n vrou se gewildheid in die egtheid van die mense en hul ervarings.

“Dit gaan oor hoop, die natuur en die feit dat almal uiteindelik op soek is na iemand om hul lewe en drome mee te deel. Kykers sien hulself en soms selfs hul eie familie in hierdie stories.”

Dit is ook die eenvoudiger oomblikke wat haar bybly – soos wanneer ’n boer besef dat die regte mens dalk hier voor hom of haar staan. Vir Kate is dit ’n aanduiding dat liefde nie altyd groot gebare nodig het nie.

Sy het groot waardering vir haar voorganger se aanslag.

“Reandi het ’n ongelooflike warmte, styl en natuurlike empatie na die reeks gebring. Sy het die vermoë gehad om dadelik ’n veilige ruimte vir die boere sowel as die pasmaats te skep.”

Kate glo dat die aanbieder as ’n vertroueling vir die deelnemers dikwels in ’n ontspanne omgewing die deur na eerlike gesprekke oopmaak.

“Jy móét mense ontmoet waar hulle is. Nie almal sit graag rondom ’n tafel en praat oor hul diepste gevoelens nie. Soms gebeur die beste gesprekke terwyl jy saam aan iets werk, langs ’n bakkie staan of iewers heen ry.”

Sy sien uit na die mense wat sy gaan ontmoet, na die boere se wêrelde wat sy gaan leer ken en die verskillende hoeke van Suid-Afrika wat sy gaan beleef. Maar die verantwoordelikheid wat saam met die aanbiederrol kom, laat die skoenlappers in haar maag fladder.

“Mense vertrou jou met hul hartsake en hul broosheid. Dit is ’n groot rol wat ek met respek aanpak,” sê sy.

Vir die getroue kykers wat haar binnekort as aanbieder gaan verwelkom, het Kate ’n eenvoudige boodskap: “Baie dankie dat julle jul harte en huise vir my oopmaak! Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om hierdie pad saam met julle te stap. Maak seker die koffie is warm en die kussings op die bank is gemaklik. Ons gaan ’n pragtige reis saam geniet.”

Skakel Donderdag 22 Oktober om 21:00 op kykNET in vir die Bravo!-episode waarin Kate haar eerste onderhoud as aanbieder van Boer soek ’n vrou toestaan.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies