Agter elke onthoukok staan ’n kombuis vol stories: ’n ouma se koolstoof, ’n pa se paella, ’n familieresep wat steeds gister se mooi herinneringe oproep. In Kokkedoor: Klassiek, wat Donderdag 5 November om 20:00 op kykNET begin, bring tien onthoukokke dié kosbare erfenis na die Kokkedoor-kombuis, saam met uiteenlopende lewensverhale, ruim porsies persoonlikheid en die moed om weer te leer.
Van gesoute bakkers en plaasvroue tot ’n onderwyseres en rekenmeesters: hierdie groep weet hoe kos ’n mens tuis laat voel. Nou kry bekende geure nuwe moontlikhede terwyl hulle hul vernuf toets en lank gekoesterde drome ’n kans gee.
Die tien onthoukokke is:
Milandré Braaf | Onthoukok

- Ouderdom: 31
- Van: Groblershoop, Noord-Kaap
- Beroep: Gastehuiseienaar en bakster
Milandré Braaf het as kind so ernstig restaurant gespeel dat haar ouers vir koffie in hul eie huis moes betaal. Die tafel was gedek, die gaste ontvang en die klein gasvrou in haar element. Vandag leef sy daardie liefde vir onthaal op ’n plaas naby Groblershoop uit.
Haar pad Noord-Kaap toe het by die liefde begin. Sy het haar koekbakbesigheid in George gesluit en agter haar kêrel, Ernest Haarhoff, aan plaas toe getrek. Daar het sy geleer om met die bestanddele byderhand ’n maaltyd op te tower en haar hand aan die omgewing se onthoukos gewaag. Nou bedryf sy Klein Murasie-gastehuis en bak steeds koeke en ander lekkernye op bestelling.
Bak is ’n liefde wat sy self ontdek en, sonder formele leiding, in ’n besigheid omskep het. Sy daag selde by vriende op sonder ’n koek of iets soets in die motor.
Haar pa se kos het die eerste saadjie geplant en ’n huis vol mense gee haar vandag volop rede om aan te hou eksperimenteer.
As sy ’n gereg was, sou sy bobotie wees: oënskynlik eenvoudig, maar met heelwat meer onder die oppervlak en ’n balans tussen sout en soet. Sy beskryf haarself as ’n mense-mens wat graag help en maar sukkel om stil te sit.
Met Kokkedoor: Klassiek wil Milandré haarself uitdaag en haar kos aan ’n groter gehoor bekendstel. Sy bring aanmoediging en ’n bereidwilligheid om hard te werk, maar maak ook plek vir ’n grappie.
Haar uitgangspunt bly eenvoudig: Wie nie waag nie, wen nie.
Stephanie Grobbelaar | Onthoukok

- Ouderdom: 46
- Van: Centurion, Gauteng
- Beroep: Rekenmeester
Stephanie Grobbelaar se lewe mag om syfers draai, maar sy verkies dit in kleur. Dié rekenmeester hou van temapartytjies, ’n kuier met familie en vriende en ’n glas sauvignon blanc. Sy praat graag, lag maklik en is gewoonlik gereed vir die volgende plan.
In 2019 het sy ’n groot droom verwesenlik toe sy Eat et cetera in Brooklyn, Pretoria, oopgemaak het. Sy moes die restaurant tydens die Covid-pandemie sluit, en saam met die verlies het haar selfvertroue in die kombuis ’n knou gekry. Kokkedoor: Klassiek bied haar die kans om weer in haar eie kookvernuf te leer glo en die vreugde van kosmaak ten volle te beleef.
Haar pa, haar 95-jarige ouma, ’n goeie vriendin en haar restaurant se bakster tel onder haar kos-invloede. Sy lees resepteboeke, kyk kosprogramme en kombineer wat sy by ander leer met haar eie manier van kook. Vir haar is die doel om ’n bekende familieresep in iets besonders te omskep.
Daar skuil ook ’n sopraanstem agter dié uitgesproke persoonlikheid. Stephanie kán sing en brei graag, selfs wanneer die gesin op grondpaaie reis. By die huis is sy vrou vir Nell en ma van Steph Nell, haar twaalfjarige seun.
Haar keuse van ’n gereg wat haar verteenwoordig, is soetsuur beetslaai: kleurvol, meestal soet en soms ’n bietjie suur.
In ’n span bring sy kreatiwiteit, uithouvermoë en humor. Sy waardeer iemand wat na haar idees luister, haar gewone huiskos respekteer en saam met haar kan lag, selfs wanneer die minute op die kombuisklok onverbiddelik aftik.
Dewald Herbst | Onthoukok

- Ouderdom: 36
- Van: Robertson, Wes-Kaap
- Beroep: Spysenier
Dewald Herbst lees resepteboeke soos ander mense storieboeke lees. Met meer as 200 op sy rakke is daar altyd nog ’n gereg om te ontdek. Op ’n plaas naby Robertson, waar hy langs sy ouers woon, kry daardie nuuskierigheid daagliks kans om kos op die tafel te word.
Sy liefde vir die kombuis kom van sy ma, ouma en tannie. As kind het hy eerder help kook as gaan speel. Ouma Huipie se mooi gedekte tafel en skottels vol geurige kos bly ’n besonderse herinnering. Vandag maak hy steeds onthoukos, met nuwe idees uit sy boekversameling wat nou en dan hul weg na die potte vind.
Wanneer hy nie met spyseniering besig is nie, snuffel hy graag in antiekwinkels en pandjieswinkels rond op soek na oudhede en winskopies. Mooi teekoppies trek gewoonlik sy aandag, en hy is ook knap met ’n hekelpen, veral met die maak van doilies. Hy probeer ook graag om dinge wat stukkend is op sy eie manier te herstel. Tuis hou sy twee gemmerkatte, Kattie en Kietsie, hom geselskap.
Koekversiering is nog ’n vaardigheid wat hy graag deel. As lid van die Western Cape Cake Decorators and Bakers het hy al onder meer demonstrasies by ouetehuise aangebied. Hy geniet dit om kennis oor te dra en mense met kos te bederf.
As hy ’n dis was, sou dit ’n pastei wees: onder die kors wag ’n verrassing wat jy eers ontdek wanneer jy nader kennis maak.
Dewald volg Kokkedoor sedert die eerste reeks, maar moes eers sy eie onsekerheid oorkom om in te skryf. Nou wil hy sy kans aangryp. Hy waardeer ’n spanmaat wat luister en idees deel.
Ansebé Pieterse | Onthoukok

- Ouderdom: 61
- Van: Montagu, Wes-Kaap
- Beroep: Huishoudingbestuurder by Abrikoos Kloof Private Reserve
Ansebé Pieterse skep steeds graag met haar pa se outydse roomyslepel. ’n Ou deegdrukker herinner haar aan hoe haar ouma eetgoed vir troues gemaak het en sy van die vloer af alles dopgehou het. Vir dié inwoner van Montagu is kombuisgereedskap ook familiegeskiedenis.
Haar liefde vir kos het langs ouma Joey se koolstoof begin. As klein dogtertjie het sy die ketel aangesit sodra sy die tuinhekkie hoor. Kuiermense moes tee kry. Vandag werk sy as huishoudingbestuurder by Abrikoos Kloof Private Reserve en is sy besig om haar tweede resepteboek saam te stel.
Ansebé is die ma van twee dogters, Joné en Ann-Luméy. Sy beskryf haarself as iemand wat gemaklik met mense uit verskillende lewensomstandighede kan gesels. Eerlikheid, humor en ’n bereidwilligheid om haar hande vuil te maak is deel van haar aanslag.
Haar lys stokperdjies is lank: brei, hekel, naaldwerk, tuinmaak, legkaarte bou en diamantkuns. Sy beoordeel ook plaaslike skoonheidskompetisies en geniet koekbak en -versiering. Gee haar sement en stene, spot sy, en sy sal selfs ’n huis probeer bou.
In die kombuis lees sy ’n resepteboek van voor tot agter en beproef resepte totdat sy dit haar eie maak. Sy vergelyk haarself met ’n roerbraai of bredie: Baie dinge gebeur tegelyk, maar uiteindelik kom alles bymekaar.
Kokkedoor: Klassiek is vir haar ’n kans om haar vaardighede te toets en bekende kos fyner af te rond. Sy waardeer geduld en eerlike samewerking, en hoop kykers sien haar as ’n vrou wat onder druk ’n plan kan maak sonder om haar sin vir humor te verloor.
Barbara Kemp | Onthoukok

- Ouderdom: 61
- Van: George, Wes-Kaap
- Beroep: Afgetree maar bedryf Mabra Baking
Barbara Kemp se ma het geglo ’n kind verlaat nie die huis voordat sy kan kook, naaldwerk doen, brei en hekel nie. Dié praktiese lesse leef vandag voort in Barbara se kombuis en handewerk. Aftrede het beslis nie beteken dat sy ook haar voorskoot opgehang het nie.
Met Mabra Baking deel sy haar bakvernuf en bied kolwyntjieversieringsdemonstrasies aan. Sy het ook ’n resepteboek wat sy op Facebook bemark. Om mense iets te leer of met ’n eetding te bederf pas by haar liefde vir geselskap en haar moeilik-stilsit-geaardheid.
Barbara is in Douglas gebore as een van ’n tweeling en het op verskillende plekke in die land grootgeword. Later het sy die liefde Zambië toe gevolg. Vandag woon sy en Chris in George, met ’n groot saamgestelde familie wat ’n belangrike plek in haar lewe inneem. Sy is ma van drie seuns, ’n trotse skoonma en ouma, en verwelkom ook Chris se kinders en kleinkinders as haar eie mense.
Haar ma se gasvryheid het haar kookstyl gevorm. Daar was dikwels mense aan tafel, en die vreugde waarmee haar pa die kos geniet het, het ’n blywende indruk gemaak. Barbara sien haar eie kosmaak as ’n voortsetting van daardie familietradisie.
Souse lê haar na aan die hart. Haar broer het immers sy sous-onderneming in ’n motorhuis begin.
Met Kokkedoor: Klassiek wil sy wys wat liefde en verbeelding met ’n tradisionele gereg kan doen. Sy bring kalmte, ’n grappie wanneer dit nodig raak en die oortuiging dat sy steeds nuwe dinge oor haarself kan ontdek.
George von Berg | Onthoukok

- Ouderdom: 35
- Van: Pretoria, Gauteng
- Beroep: Geoktrooieerde rekenmeester en entrepreneur
George von Berg se selfoon-antwoorddiens is in Frans, en sy belangstellings strek van wêreldpolitiek tot die geskiedenis van kos. Hy het ook vier jaar lank klassieke sangopleiding ontvang. Dié rekenmeester se nuuskierigheid laat hom gedurig vra hoe iets werk en waarom mense dinge op ’n bepaalde manier doen.
Op Stellenbosch het hy benewens sy rekeningkundestudies ook tale en joernalistiek verken. Frans, Spaans, Mandaryns, isiXhosa, Duits en isiZulu het op verskillende tye sy aandag getrek. Hy het later twee jaar in Korea deurgebring, waar nog ’n wêreld van geure vir hom oopgegaan het.
Sy kosherinneringe begin egter nader aan die huis, by sy ouma en Melieka, wat hom help grootmaak het. Hy onthou hoe Melieka altyd koerantpapier oor die kombuistafel gesit het, die ou Kenwood-menger en die sorg waarmee sy bestanddele afgemeet het. By haar het hy toewyding en aandag aan besonderhede geleer, veral wanneer dit by bak kom.
Vandag geniet George dit om tradisies te verken en met onbekende bestanddele te eksperimenteer. Musakhan, ’n Palestynse hoendergereg met uie en sumak, weerspieël sy liefde vir stadig ontwikkelende geure wat met iets vars gebalanseer word. Kos moet volgens hom ook herinneringe en emosie oproep.
Na Kokkedoor: Klassiek bring hy ’n belangstelling in die uiteenlopende invloede wat Suid-Afrikaanse kos gevorm het. Hy wil sy eie kosverhaal deel én by ander leer. Om ’n tafel soek hy na plek vir gesprek, begrip en mense wat mekaar werklik hoor.
In ’n span waardeer George eerlikheid, respek en aanpasbaarheid. Hy hoop kykers raak saam met hom nuuskierig genoeg om ’n vreemde gereg te probeer en die storie daaragter te ontdek.
Diana Bibbey | Onthoukok

- Ouderdom: 53
- Van: Thabazimbi, Limpopo. Oorspronklik van Verkykerskop, Vrystaat
- Beroep: Tuisteskepper en boervrou
Diana Bibbey kan klavier speel, ’n skaapkarkas opsaag en aartappelsuurdeegbeskuit bak. Dié uiteenlopende vaardighede pas by die plaaslewe waar sy graag self hand bysit. Vir haar is ’n bord kos ook ’n manier om mense welkom te laat voel – of hulle nou familie of besoekers van oorsee is.
Sy en haar man, Sakkie, het Verkykerskop se trouvenue ontwikkel, waar sy ook vir bruilofte kos gemaak het. Die venue word nou verhuur, terwyl die egpaar besig is om ’n wildsplaas by Thabazimbi te ontwikkel. Daar stel sy buitelandse jagtoeriste aan egte Suid-Afrikaanse huiskos en nageregte bekend.
Familie bly die middelpunt van Diana se lewe. Sy is ma van ’n seun en twee dogters, en ouma van nege kleinkinders. Sy geniet tyd saam met hulle en wil deur haar geloof, hoop en deursettingsvermoë ’n voorbeeld stel, ook wanneer die plaaslewe uitdagings bied.
Haar ma, Annalien, is haar groot kos-inspirasie. Hoewel haar ouers in Australië woon, bel Diana haar steeds gereeld vir raad. Daardie band loop deur die erfenisresepte wat sy graag maak en deel. Haar liefde vir die natuur en wegbreke see toe gee haar ook ruimte om asem te haal.
As ’n gereg haar moet voorstel, kies sy ’n bredie wat ná ’n lang werksdag versadig en vertroos. Of ’n macaron (amandelkoekie): effens ferm buite maar sag en soet binne.
In Kokkedoor: Klassiek wil Diana haar klassieke resepte met nuwe vaardighede kombineer. Sy waardeer die Kinkelkokke se tegniek en vindingrykheid, en sy bring kalmte, samewerking en die kennis van jare se kook vir mense.
Elsie Botha | Onthoukok

- Ouderdom: 57
- Van: Struisbaai, Wes-Kaap
- Beroep: Afgetree en tuisteskepper
Elsie Botha staan bekend as die Pink Lady, maar haar mooi naels en versorgde voorkoms vertel net ’n deel van die storie. Sy ry perd, skilder, maak kerse en ontwerp klere. Daaronder tel ook haar dogter se matriekafskeidrok.
Dié Struisbaaier is die jongste van twaalf kinders: sewe dogters en vyf seuns. In die groot huishouding het sy vroeg by haar ma en haar suster Aletta leer kook. Sy wou graag wys dat sy ook lekker kos kon maak, en sy was veel meer aangetrokke tot die kombuis as huiswerk.
Later het sy met haar eie idees en geure begin eksperimenteer. Sy hou van speserye, pasta en boerekos, maar haar belangrikste reël bly om aanhoudend te proe. Sout, peper en die balans tussen soet en suur verdien volgens haar altyd aandag.
Elsie is getroud met Coen en is die ma van Bianca en Itzen. Haar kinders het gemeen aftrede gee haar tyd vir ’n nuwe uitdaging: Kokkedoor: Klassiek. Sy wou aan haarself bewys dat sy dit kan aanpak en steeds baie kan leer.
Trou-, doop- en verjaardagkoeke is ook deel van haar kreatiewe wêreld. Sy geniet dit om gewone dinge mooi te maak en pak graag ’n nuwe projek aan.
In die kombuis waardeer sy beplanning en ’n spanmaat wat luister. Sy glo twee mense se kennis kan mekaar aanvul, mits albei hul idees deel. Elsie hoop kykers onthou ’n vrou wat met haar hele hart kook en nie bang is om weer iets nuuts te probeer nie.
Chanél Cloete | Onthoukok

- Ouderdom: 27
- Van: Jeffreysbaai, Oos-Kaap
- Beroep: Graad 1-onderwyseres
Chanél Cloete en haar man, Ruben, se reisverhale is op hul Fortuner vasgevang. Dié voertuig, gedoop Tuna, dra plakkers van al die plekke waar hulle was en gekamp het. Avontuur, tyd saam met haar hartsmense en ’n liefde vir die see pas by dié Jeffreysbaaier se lewe.
Bedags is sy ’n graad 1-onderwyseres by Laerskool Stulting. Sy het ook ’n agtergrond in hokkie-afrigting, hou van branderplankry en kan skilder. By die huis maak die honde, Kallie en Winston, deel van die gesin uit. Haar geloof gee rigting aan die manier waarop sy mense behandel: met geduld, respek en ’n bereidwilligheid om te help.
Haar pa is haar grootste kos-inspirasie. Sy het hom dopgehou terwyl hy kook en proe totdat die geure in balans was. Italiaanse, Portugese en Mediterreense invloede, saam met die gesin se liefde vir Mosambiek, het haar eie smaakprofiel gevorm. Ná haar pa se dood het kos ook ’n manier geword om aan daardie verbintenis vas te hou.
Sy vergelyk haarself met paella: pikant, met verskillende elemente en lae van geur wat geduld vra. Hoewel sy aanvanklik stil kan voorkom, is daar heelwat om te ontdek.
Chanél droom daarvan om ’n kosbesigheid, Root and Salt, te begin en haar pa se liefde vir kos verder te deel. Kokkedoor: Klassiek is ’n geleentheid om haarself te toets, nuwe vaardighede aan te leer en meer op haar eie instinkte te vertrou.
In ’n span bring sy kalmte en goeie energie. Oop kommunikasie is vir haar van die eerste stap af noodsaaklik.
Jeanette Relling | Onthoukok

- Ouderdom: 67
- Van: Nelspruit, Mpumalanga
- Beroep: Gehaltebestuurder by ’n opleidingsmaatskappy
Jeanette Relling se inskrywingsvorm het lank op die eetkamertafel gelê. Eers laat die dag op die sluitingsdatum het sy besluit: Dis nou of nooit. Sy droom immers al sedert die eerste Kokkedoor daarvan om self agter die kospotte in die Kokkedoor-kombuis te staan. Aanmoediging van haar jare lange vriendin Greta het haar die laaste hupstoot gegee.
Dié trotse VLU-lid se koswortels lê diep in haar familie se kombuise – by haar ma, haar oumas en ’n pa wie se paella legendaries was. Sy onthou koekies, beskuit en brood, maar ook tafels wat onder die borde gekookte kos gekreun het. Later het haar skoonma nog heelwat tot haar kennis van kos en gasvryheid bygedra.
Haar gunstelinggereg vertel dieselfde storie. Ontbeende, gerolde skaapblad met bruin aartappeltjies en groente roep herinneringe op aan Sondagmiddae se familiekuiers. Sy is ma van Franz en Helene, en haar drie kleinseuns in die Paarl is haar hart se punt.
Daar is meer aan Jeanette as bak en brou. Sy het jare lank gimnastiek afgerig en was ook ’n beoordelaar. Sy geniet dit steeds om voormalige gimnaste raak te loop. Lees, tuinmaak en die kerk se blomme- en dekorgroep hou haar ook besig, terwyl haar werk in opleiding haar telkens voor nuwe uitdagings stel.
Jeanette hou daarvan dat dinge reg gedoen word, maar is ook ’n bok vir sports. In die kombuis waardeer sy vertroue, kalmte en ’n goeie humorsin. Kokkedoor: Klassiek het haar laat besef sy is dapperder as wat sy gedink het.
“ ’n Mens kan net so lank ’n droom hê en nie die moed om dit na te streef nie.”
Kokkedoor: Klassiek begin Donderdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.







