Dié November keer Kokkedoor terug na sy wortels, en ’n ongewone vriendskap met ’n geheime agenda lê aan die hart van ’n nuwe drama-komedie.
Tien onthoukokke en tien professionele sjefs snoer hulle kragte saam in Kokkedoor: Klassiek, met R1 miljoen op die spel.
In Elke donker wolk ontmoet twee mans mekaar by ’n ondersteuningsgroep vir mense wat rou, maar hul vriendskap is minder toevallig as wat dit lyk.
The Philipstown WireCar Grand Prix bring ’n buitengewone Noord-Kaapse wedren na die skerm.
Willie Esterhuizen sorg vir twee nuwe TV-flieks. Die speelfilm Carrissa verken identiteit en erfenis, terwyl Bravo! Feestafel die aanloop na die feestyd begin.
Nuwe bouplanne, ’n werkplekkomedie en verskeie onthullings in die sepies rond dié maand se kookwater-kyklys af.
Kokkedoor: Klassiek

Onthoukos is terug op die spyskaart. Ná Kokkedoor: Vuur & vlam en Kokkedoor: Son & see keer kykNET se geliefde kookkompetisie terug na sy oorspronklike formaat. In Kokkedoor: Klassiek word daar getoor met die geure waarmee mense grootgeword het.
Tien onthoukokke en tien professionele sjefs span saam om tradisionele geregte met ’n vars, kreatiewe kinkel te herbedink. Die deelnemers kom uit uiteenlopende beroepe en agtergronde, maar deel ’n liefde vir kos, mense en die herinneringe wat om ’n tafel ontstaan. Hier moet die kos dus meer doen as om net mooi op die bord te lyk.
Herman Lensing en Jess van Dyk staan aan die stuur van die Kokkedoor-kombuis. Oor 13 episodes kry die deelnemers kans om te wys hoe onthoukos en nuwe idees mekaar kan aanvul. Die beloning is groot: R1 miljoen en die gesogte Goue Haan-trofee wag op die wenners.
Wie het die resep om bekende smake in ’n wengereg te omskep?
- Kokkedoor: Klassiek begin Donderdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Elke donker wolk

’n Ongewone vriendskap en ’n irrasionele plan vorm die kern van Elke donker wolk, ’n nuwe drama-komedie van drie episodes. Wanneer Johan Joubert (André Weideman) by ’n ondersteuningsgroep vir mense wat rou aansluit, ontmoet hy vir André (Evan Hengst), wie se vrou reeds twee jaar met ernstige breinskade in ’n koma in die hospitaal lê.
Hul vriendskap lyk toevallig, maar is eintlik vooraf beplan. Een van die twee mans het ’n geheime agenda, terwyl die ander ’n donker geheim van sy eie koester. Saam moet hulle leer om verpletterende verlies te verwerk.
Die ander groeplede dra ook swaar aan verdriet oor mense wat hulle ontval het.
Jarrid (Clint Aplon) en Celeste (Veronique Jephtas) het onlangs hul dogtertjie verloor. Ritz (Amor Tredoux) het oor die jare haar man en drie dogters aan die dood afgestaan. Die pastoor (Anton Treurnich), wat die groep ná sy ouers se dood gestig het, help al 20 jaar lank mense deur die rouproses, maar hy het nog nooit ’n geval soos Johan en André gehad nie.
- Elke donker wolk begin Dinsdag 17 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en word oor drie weke uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
The Philipstown WireCar Grand Prix

In Philipstown in die Noord-Kaap is draad, vernuf en spoed deel van ’n jaarlikse tradisie wat die hele gemeenskap bymekaarbring. The Philipstown WireCar Grand Prix neem kykers na die dorp se Draadkar Grand Prix, waarin deelnemers met handgemaakte draadkarre deur die stofstrate jaag.
Dié wedren is al 16 jaar lank ’n hoogtepunt op die plaaslike kalender en is glo die enigste van sy soort ter wêreld. Hierdie driedelige dokumentêre reeks vertel die verhaal van die mense agter dié buitengewone sportgeleentheid en verken die belangrike rol wat dit in hul gemeenskap speel.
The Philipstown WireCar Grand Prix is by die Tribeca X-fees in New York vertoon en is ook vanjaar vir ’n Internasionale Emmy-toekenning benoem. Nou kry plaaslike kykers kans om dié unieke Suid-Afrikaanse verhaal self te beleef.
- The Philipstown WireCar Grand Prix begin Sondag 8 November om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en SuperSport Extra (DStv-kanaal 210), en Vrydag 13 November om 21:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).
Boksburg sonder brieke en Krummels

Willie Esterhuizen se reeks van nuwe TV-flieks gaan in November voort met twee komedies oor mense wat hulle nie sommer laat onderkry nie.
In Boksburg sonder brieke verander die werktuigkundige Vonk Vlok se lewe wanneer sy naam onverwags in die berugte Epstein-lêers opduik. Vonk moet probeer verduidelik hoe hy by die skandaal betrek is, terwyl familieprobleme, sosialemediadrama en ou geheime sy gesin se bestaan omverwerp. Hannes Brümmer, Juanita de Villiers en Karen Retief lei die rolverdeling.
In Krummels weier vyf bejaarde vriende om voor ouderdom of teëspoed te swig. Wanneer ’n afperser hul suksesvolle skoolkosprojek bedreig, besluit hulle om op hul eie manier terug te veg. Tobie Cronjé, André Odendaal, Elma Potgieter en Sue Pyler-Slabbert is onder die spelers in dié verhaal oor vriendskap, waardigheid en tweede kanse.
- Boksburg sonder brieke wys Dinsdag 3 November om 20:00 en Krummels Dinsdag 10 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die flieks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Carrissa

In die afgeleë Wuppertal in die Cederberge moet ’n jong vrou besluit waar haar toekoms lê. Haar ouma moedig haar aan om deel te word van ’n nuwe ontwikkeling wat opleiding en werkgeleenthede belowe. Saam met haar vervreemde oupa ontdek sy egter ’n dieper verbintenis met haar kultuur, identiteit en erfenis.
Carrissa is oor ses jaar heen in noue samewerking met die plaaslike gemeenskap vervaardig. Die rolprent ondersoek taal, grond en die herwinning van kulturele erfenis deur ’n persoonlike verhaal oor die keuses wat ’n mens se lewe rig.
- Carrissa wys Saterdag 28 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Bravo! Feestafel

Trek ’n stoel nader vir Bravo! Feestafel – ’n nuwe leefstylreeks waarin kos en Suid-Afrikaanse stories om dieselfde tafel ontmoet. Elke week bied drie aanbieders ’n tematiese langtafel-ervaring aan, met bekende gaste, sjefs, storievertellers en ander interessante Suid-Afrikaners wat saam aansit.
Die eerste episode keer terug na kykNET se wortels met ’n tafel waar familie, oorsprong en tradisies die tema is. By VUUR-restaurant in Stellenbosch kook sjef Shaun Scrooby vir gaste wat oor die jare deel van kykers se kykNET-familie geword het: Marida Swanepoel, Coenie de Villiers, Therese Bam, Willem Botha en Desiré Gardner.
Die reeks van ses episodes bou voort op Bravo! se gewilde spesiale uitsendings deur die jaar en vier die kos en gesprekke wat mense bymekaarbring.
- Bravo! Feestafel begin Sondag 29 November om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Bou of breek

’n Ruimte het nie noodwendig ’n buitensporige begroting nodig om ’n nuwe lewe te kry nie. In die tweede seisoen van Bou of breek pak die man-en-vrou-span Johan en Zanelle Dorfling weer huis- en saketransformasies aan met kreatiwiteit, vakmanskap en ’n duidelike visie.
Die persoonlike stories agter die projekte is net so belangrik soos die bouwerk. Tussen praktiese inspirasie, emosionele oomblikke en die uiteindelike onthullings wys die reeks hoe ’n deurdagte verandering aan ’n gebou ook die mense wat dit gebruik se lewens kan raak.
- Bou of breek se tweede seisoen begin Sondag 8 November om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Taktiek

Schusterton is steeds die veiligste dorpie in die land, maar die Taktiek-span het hul hande vol. Lisa (Leché Schroder) moet die onderneming aan die gang hou terwyl haar pa, Jorrie (Deon Lotz), sy eie sekuriteitsmaatskappy begin en haar direkte mededinger word.
Die span se nuwe hoofkwartier is ’n ou kerk, met vergaderings in die kerkbanke en Lisa wat vanuit die moederkamer orde probeer handhaaf.
Goose (Bennie Fourie) besluit intussen om eers Lisa se beste vriend te word in die hoop dat liefde sal volg. Attie (Schalk Bezuidenhout) raak op sy beurt verlief op Venter (James Borthwick) se dogter. Om harte te beskerm, blyk moeiliker te wees as om die dorp veilig te hou.
- Taktiek se tweede seisoen is Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Sepies en telenovelas
Suidooster

November bring verraad en tweede kanse na Ruiterbosch. Bianca (Simone Biscombe) se wêreld stort in duie wanneer Siya (Gantane Kusch) sy verhouding met Elzette (Nina Swart) erken. Dat haar ma reeds daarvan geweet het, maak die vernedering erger. Kan vertroue weer groei nadat Bianca uit die pastorie trek?
Die ondersoek na die Mdeni-kliniekprojek lei tot regsake en dreigemente. Gary (Craig Adriaanse) moet besluit hoeveel hy vir Claire (Julia Marone) wil opoffer. Haar belangstelling in sy rekenaarvernuf plaas hom op ’n gevaarlike pad.
Gerugte oor ruimtewesens by ’n vlei in Ruiterbosch sorg vir ligter oomblikke en nuwe sakeplanne. Angie (Char Carrie) en Wade (Dean Smith) se voorbereidings vir hul baba maak ou gevoelens wakker. Justin (Eden Classens) probeer intussen Njammies Takeaways teen sy pa se sakeplanne beskerm, onbewus van Willem (Ivan Zimmermann) se ontstellende gesondheidsnuus.
- Suidooster is elke weeksdag om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Binnelanders

Dreigemente en persoonlike agendas sorg dié November vir spanning in Binnelanders. Petro (Izette Blignaut) wil Bernice (Celeste Loots) help om leidrade op te volg, maar Uys (Gerald Steyn) probeer haar oorreed om Pretoria te verlaat. Bernice weier om haar te laat intimideer, selfs wanneer sy dreigemente ontvang en die media se aandag begin toeneem.
Johan (Gustav Gerdener) se wraakplan laat Ella (Marleé van der Merwe) al hoe meer vasgekeer voel. Joe (Roberto Kyle) begin vermoed dat Johan haar doelbewus in die moeilikheid probeer kry. ’n Skielike bedanking laat die hele Binneland gons.
Katryn (Emma van Heyn) en Henry (Francois Lensley) hou intussen ’n besluit stil, tot Dewald (Phillip Schnetler) se ontsteltenis.
Mercia (Susan Coetzer) se geldmaakplanne by Tonik loop telkens skeef, en Bonnie (Antoinette Modise) kry ’n verrassing wanneer sy ’n vreemdeling in haar bed aantref.
- Binnelanders is elke weeksdag om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Diepe waters

Ou geheime en nuwe ambisies laat die spanning in Boskruin oplaai. Zelda (Sandi Schultz) ontdek iets vreemds in haar ooreenkoms met Gihan (André Lötter), waarna hy haar ’n gevaarlike aanbod maak. Terwyl sy Gihan se bedoelings probeer peil, fokus hy sy sjarme op Leandri (Christel van den Bergh).
Sanet (Nadia Valvekens) se verlede haal haar in wanneer ’n onverwagse besoeker opdaag. Haar pogings om vir Tobias ’n plek by die Swartmarlyne te verseker, lei tot verdere onthullings, en Jacques (Werner Coetser) ontdek Tobias se geheim.
Henry (Stiaan Bruwer) se koswaentjiedroom kry momentum, maar die druk op sy gesinslewe neem toe en spanning ontstaan tussen hom en Lettie (Stephanie Baartman). By die swembad dryf persoonlike konflik en sportiewe mededinging tydens die gala die situasie tot ’n spits. Justus (Ashton Muller) bevraagteken Gihan se rol in Marco (Xander Venter) se diskwalifikasie, en ’n latere konfrontasie tussen die twee swemmers hou ernstige gevolge in.
- Diepe waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Skemergrond

Christine (Devonecia Swartz) bereik gedurende November breekpunt in die openbaar. Lily (Hildegardt Whites) en Hazel (Carmen Maarman) onthul die lêer teen haar aan die familie, terwyl Ruan (Dann-Jacques Mouton) die bewyse probeer staaf. Christine sluit haar besigheid en vertrek om elders genesing te soek, maar die Louws se probleme is lank nie verby nie.
Terwyl die saak teen Christine begin, raak Hazel al hoe senuweeagtiger oor haar getuienis. Gloria (Hunter Plaatjies) sukkel om Hazel se geheim vir haarself te hou. Lily probeer haar ouers oortuig om met Hazel te praat.
Die geheimsinnige Fortuin-familie arriveer intussen in Gemoedsdrif, maar krake verskyn gou in hul vrolike voorkoms. Teddy (Kim Syster) se sakeplanne en huwelik kom onder druk weens Jonty (Whaden Johannes) se desperaatheid oor ’n huurooreenkoms.
Dan maak Christine ’n groot onthulling wat nuwe skokgolwe deur die dorp stuur.
- Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.







