Raar is die mens wat met woorde stories kan skep sodat ’n beter manier om die verhaal te vertel heeltemal ondenkbaar is. Dís wat Nico Scheepers met sy Nêrens, Noord-Kaap-teks regkry. Dié reeks is ’n skatkis vol blinkgepoetste juwele – digterlik, ritmies, allemagtig, geestig, snaaks.
Die reeks is gegrond op Scheepers se gelyknamige verhoogstuk wat draai om drie vervreemde broers wat die geheime, hartseer en waarheid oor hul ma se dood moet aanspreek om uiteindelik heling te vind.
Jy kan die eerste seisoen nou op Showmax kyk, met die tweede seisoen, óftewel Deel II, wat vanaf Dinsdag, 17 September 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitsaai. Die nuwe seisoen se episodes sal ook ná elkeen se uitsending op Catch Up beskikbaar wees.
Hier is ’n keur uit die eerste seisoen van die reeks se besonderse teks.
Trouraad
Pa Lourens (Frank Opperman) aan Ronnie (Albert Pretorius), kort voordat Ronnie die knoop in die eerste episode deurhaak: “As jy voel jy gaan val, kyk vir jou vrou. In haar oë. Sy sal vir jou vang.”
Warrehel doen jy, Frans?
As Frans (Geon Nel) Lorrie (Shana Mans) se hart breek: “Ek is te swaar vir jou, Lorrie. Ek hoort op die maan.”
Herinneringe
“Sy het iets saam met haar van oorsee gebring, en dit die hele plaas vol geplant,” sê Maggie (Ilse Klink) van oorlede Katja, pa Lourens se vrou en die seuns se ma (Tinarie Van Wyk-Loots).
Dis nie oor jou bont das wat jy moet worry nie, Frans.
Maggie aan Frans (Geon Nel) as hy vir die eerste keer in jare kerk toe gaan: “Die Here gaan jou nie hel toe stuur vir ’n bont das nie.”
Dis jou eie skuld, Frans. Jy wou mos.
“Los my! Ek bid met my lagspiere,” tart Maggie vir Frans wanneer Lorrie vir hom ’n bose kyk in die kerk gee.
Medium-rare, seblief
As Suzette en Ronnie by Ronnie se eksvrou, Shannon (Natalie Robbie), en dié se nuwe man, Ryan (Francis Chouler), gaan braai, groet Suzette vir hom met hierdie goud:
Suzette: “Suzette Claase. Sersant. Aangenaam.”
Ryan: “Ryan.”
Suzette: “I know who you are. ‘Die beursie’. (Aan Ronnie) Nè, dit is mos wat jy gesê het? Jou eksvrou se beursie. (Aan Ryan oor die braaivleis) Ryan, dit lyk so lekker. Medium-rare, asseblief.”
Selfde, Lourens. Selfde.
Suzette aan Lourens (Arnold Swart), Ronnie se seun, as sy vir hom ontbyt maak: “Ek hoop nie jou oë is groter as jou maag nie.”
Lourens: “Dis bacon, tannie.”
Hou kop
In die verlede: Voor die kerskonsert loop dinge uit die staanspoor verkeerd.
Jong Frans: “Jesus se kop val heeltyd af.”
Pa Lourens: “Alles gaan oraait wees, seun.”(Hy soen dan vir Katja.)
Jong Ronnie: “Die Engel Gabriël en Maria mag nie vry nie!”
Oom Kreukel
In die verlede: Oom Kreukel sterf tydens die kerskonsert en Pa Lourens en Katja wonder hoe die kinders sy dood gaan hanteer.
Pa Lourens: “Hulle weet tog wat die dood beteken. Hulle lees die Bybel.”
Katja: “Ek praat nie van die hemel en die hel. Ek praat van die agtergeblewe ruimte. Die gat wat iemand in die lewendes agterlaat as hulle sterwe.”
Kom nou, Frans.
Suzette aan Frans as hy vir Ronnie in die Kaap kom kuier: “Kom nou, ’n aantreklike boer soos jy haal seker die dorpsmeisies soos klitsgras van jou broek af.”
Net één woord nodig
“Lekker.” Ongeag die situasie, snaaks of hartseer, donker of lig, selfs as sy Lourens se hare afdroog nadat hy homself aan die see wou opoffer. Suzette se “lekker” is alles.
Op pad na Nêrens
As Suzette vir Lourens aanmoedig om saam met sy oom Frans vir ’n ruk plaas toe te gaan: “Hierdie swaar ding wat jy binne jou dra, al daai oop lug sal dit ligter maak.”
Met die son op
As Frans op sy pa se verjaardagsoggend van ’n babelas-slaap ontwaak: “Ek sien pa’s al op.”
Maggie: “Jy weet hy slaap nie as die son skyn nie.”
Dis taai vleis daai
As Pa Lourens by Maggie kla oor die vyf skape wat vir Frans vir sy verjaardagpartytjie geslag het: “Vyf skape. Vyf!”
Maggie: “Dis ou ooie, die mense sal maar moet kou.”
’n Drukkie word ’n vuis
As Lourens in die kombuis op die toonbank by Maggie sit en sy hom oor sy oupa vertel:
Maggie: “Hy was nie altyd so hard nie. Hy was soos ’n drukkie.”
Lourens: “En nou is hy soos ’n vuis.”
Blêr in Afrikaans
Frans oefen sy toespraak vir sy pa se verjaardagpartytjie in die skape se kraal en Lorrie bekruip hom.
Lorrie: “Jy moet dalk blêr. Ek dink nie Merinos verstaan Afrikaans nie.”
Solank jy weet wat gaan waar
As Lorrie vir Frans terg nadat hulle die vorige aand saam in die bed gekruip het:
Frans: “Ons word nou oud, nè.”
Lorrie: “Waarvan praat jy?”
Frans: “Jou ma. My pa. Jou plooie.”
Lorrie: “Ag man, jy lyk soos ’n ou handsak.”
Frans: “So, Lorrie, oor nou die aand.”
Lorrie: “Niks het gebeur nie, Frans.”
Frans: “Nee, dis nie wat ek bedoel nie…”
Lorrie: “Ons het albei nog ons klere aangehad. Weet jy hoe werk seks?
Frans: “Ja, natuurlik. Ek weet wat gaan waar en…”
Lorrie: “Ek gaan jou nie byt nie…Wil jy dalk hê ek moet jou byt?”
Agteros kom ook in die kraal
“Jy weet mos ek is nie haastig met stadige dinge nie,” antwoord Jan-Jan vir Ronnie as dié hom vra of hy al aan sy plaashuis begin bou het.
Adam & Eva
“Dis wat Adam vir Eva gesê het en hier is ons almal nou,” antwoord Ans vir Frans as hy sê dat hy en Lorrie dinge stadig vat.
Plat op die aarde
“Jy weet, die plaas is so plat, as jy ’n windpomp klim, kan jy jou eie toekoms sien. ’n Man kan nie ander as om te dink nie,” sê Frans aan Suzette voor Pa Lourens se groot verjaardagpartytjie.
Doen vs dink
Ans waarsku vir Lorrie oor die Adendorff-mans: “Ek het vergeet wat al hierdie oop lug doen aan ’n man. Daar’s te veel tyd vir dink.”
Kyk nóg dieper in die bottel
“Eintlik moet hy net meer drink sodat hy kan uitpass,” sê Suzette vir Lourens as hy sy baie, baie dronk pa wil probeer help.
Hy antwoord: “Tannie, ek kan hom nie nou los nie.” En daar is hy vort om vir Ronnie nog ’n donnerse brandewyn te skink.
Die een wat nie mág weghardloop nie
“Frans sal sorg. Frans sal fokken sorg,” basuin Frans sy waarheid voor ’n skuur vol partytjiegaste uit nadat sy pa hom verneder en hy sy broers aan sy opofferinge herinner.
Die een wat mág weghardloop
“En as jy jou vrede gekry het en jy weer soos jouself voel, dan kom jy terug na ons toe, hoor?” sê Maggie vir Andries as hy ná minder as 24 uur op die plaas weer die pad vat.
Nog oor Nêrens, Noord-Kaap
‘Nêrens, Noord-Kaap’, televisie se plaaslike kroonjuweel
Die sublieme plaaslike dramareeks ‘Nêrens, Noord-Kaap’, se eerste seisoen is pas afgesluit. Waarom het hierdie sonderlinge storie ons so intens aangegryp?
MeerTV-meesterstuk ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kry groenlig vir tweede reeks
Die goeie nuus: ’n tweede seisoen van ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kom. Die slegte nuus: jy gaan baie geduldig moet wees…dié trane-drama hervat eers in 2023.
Meer(N)êrens op ʼn plaas, in Afrika
Mense wat op stofpaaie in bakkies rondry, word sonderlinge kykstof in die hande van Nico Scheepers, die skrywer en mede-regisseur van reeks ‘Nêrens, Noord-Kaap’ op kykNET. Hy het met Riëtte van der Wat gesels.
Meer