*Let wel: Dié resensie het spoilers! Kyk eers klaar en kom dan terug om verder te lees.*
Om Nêrens, Noord-Kaap se premis op te som as die verhaal van drie vervreemde broers wat sukkel om heling te vind na hul ma se dood, is om dit van sy besonderse veelvlakkigheid te verhinder. Maar kom ons gebruik dít dan as ’n basis, ’n wegspringplek vir ’n reis wat ons oral heen in ons menswees neem. Ja, ook tot ons eie nêrens-leemtes waar grof of glad, mooi of lelik, geluk of hartseer, enigiets of selfs niks, geen tuiste het nie.
Skrywer-regisseur Nico Scheepers se aanslag is ’n digterlike een. Melodies, selfs. Daar’s geen haas om die storie van die Adendorff-broers te vertel nie. Hulle was nog klein toe hul ma dood is – ’n trauma waarvan ook nie hul pa al genees het nie. ’n Mens gaan aan, ja, maar dit beteken nie jy lewe nie. En dis ook hoe ’n mens pa Lourens ontmoet – half-dood, ’n amperse zombie wat voed op die verdraagsame geduld – en selfs tot ’n mate die bejammering – van sy naastes. Frank Opperman gee hier ’n onverbeterlike performance. Dit is ’n moeilike en wipplank-verhouding wat hy met die kyker moet bou – verafsku jy hom, of is jy hom genadig? Dat só ’n tweedrag gelyktydig in die agtergrond afspeel (bewustelik vir kykers, al dan nie), is te danke aan ’n weergalose interpretasie van ’n fynbesnaarde teks.
Darem het die kinders vir Maggie (Ilse Klink), wat as huishoudster ook kamma-ma speel. Sy is soos ’n salf vir die seuns, eers as kinders, en later as volwassenes. Iemand wat Milo maak om te troos – soos hul ma, Katja, op die aand van die groot storm wat uiteindelik tot haar dood lei.
Nêrens, Noord-Kaap is gegrond op Scheepers se gelyknamige toneelstuk wat al die land heen getoer het. Die drie broers word deur dieselfde akteurs vertolk: De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius. Soms (lees: meestal) is dit moeilik om begrip vir hul besluite te hê – by tye het ek op die karakters, uit suiwer frustrasie, gegil. Op Frans omdat hy so hardekwas met sy eie hart is en eerder op die maan wil gaan sit as om lief te hê en gelief te word. Op Ronnie, want fokkit, wat ook al jou redes (en daar’s baie, ons weet, ons verstaan), jy vernietig straks jou kind se lewe. Op Andries, want die selfsug van weghardloop lê in die moeilikheid en verantwoordelikheid wat jy vir ander agterlaat.
Dit behou, amper wonderbaarlik synde die TV-medium, sy karaktergedrewe aard. Van aksie wat buitentoe uitgevoer word, is daar nie baie nie. Die sielsomwentelinge is egter volop.
Maar, dis mos nooit so eenvoudig nie. En dis die magie van hoe Scheepers ’n toneelstuk van slegs tussen 60 tot 75 minute lank in ’n storie vol vleis en bloed en binnestes vir TV geskep het. Dit behou, amper wonderbaarlik synde die TV-medium, sy karakter- en emosiegedrewe aard. Van aksie wat buitentoe uitgevoer word, is daar nie baie nie. Die sielsomwentelinge is egter volop.
Die musiek, deur Franco Prinsloo, is soos die storie se skaduwee wat dit oral volg. Soos ’n über-lojale golden retriever, maak dit selfs die kleinste skuiwe saam mee. So ook Chris Lotz se adoring kameraskote wat talm soos twee minnaars op ’n intieme ontdekkingsreis. Die oop lug, die wye landskap wat net aanhou en aanhou, die kokerbome. Dit bou als op die baie spesifieke atmosfeer wat Scheepers skep, ’n atmosfeer waarvoor ek nie noodwendig woorde het om te beskryf nie.
Ans, Lourens se suster en vertolk deur Marion Holm, het wel: “Ek het vergeet wat al hierdie oop lug doen aan ’n man. Daar’s te veel tyd vir dink.”
In ’n terugflits sien ons hoe Katja (Tinarie van Wyk-Loots) en Lourens (die jonger Lourens word deur Gideon Lombard gespeel) wonder hoe die kinders die dood van die plaas se Oom Kreukel (tydens die gesin se kerskonsert ook nog) gaan hanteer. Hulle lees mos die Bybel, daarom sal hulle heel oraait wees, meen hy. Katja antwoord: “Ek praat nie van die hemel en die hel. Ek praat van die agtergeblewe ruimte. Die gat wat iemand in die lewendes agterlaat as hulle sterwe.”
Hul gesprek dui op ’n intensionaliteit – en ’n aanname – dat die kinders Oom Kreukel – of enigeen – se dood sal en kan verwerk, ongeag hoe moeilik of hoe groot die gat is wat agterbly.
Maar hier is die groter hartseer wat oor die loop van 13 episodes afspeel: Ons volg nouliks die seuns en pa se ervaring van verlies, en die onafwendbare rou wat daarmee gepaardgaan, maar die rou, die hartseer, is so oorheersend, geink tot in die gryntjies van die alledaags, dat heling net nie kom nie.
Dit sal nie, want dit kan nie.
Hoe kan dit in die afwesigheid van aanvaarding? In die afwesigheid van erkenning?
Ronnie drink homself uit sy huwelik uit, Andries hardloop weg onder die vaandel van avonture die wêreld oor soek, en Frans sluk stil sy lot as die seun wat op die dorre plaas moet agterbly saam met ’n pa wat hom soos kak hanteer.
“Hy was nie altyd so hard nie. Hy was soos ’n drukkie,” se Maggie vir Ronnie se seun as dié later op die plaas kom kuier om genesing vir sy eie diepe seer te vind.
“En nou is hy soos ’n vuis,” antwoord hy – veels te min kind vir sy jare.
Die reeks se slotepisode water effens van Scheepers en kie se toorwerk af – ons wil almal sekerlik happy endings hê, maar in realiteit is dít dikwels bloot ’n onvervulde hoop wat (pun very intended) nêrens heen gaan nie. Die rykheid van Frans se verwyt lê soos ’n onaangeraakte diamantveld oop voor Scheepers se hande, maar daar word weinig gedelf. So ook dan die ongemaklike dinamiek tussen die broers. Na al dáái openbarings kan “dis fine,” beswaarlik genoeg wees. Beide spreek van roerende stories wat nog onsluit kan – en moet – word.
En daar is nog kans. Scheepers het midde die skryf van die eerste 13 episodes besef dat die storie eintlik 26 hoofstukke het – en so is ’n tweede seisoen pas aangekondig.
Dalk is “dis fine” of “ons weet, dis okei” genoeg tussen bloed. Of minstens vir nou – totdat Scheepers se meesterhande verder grawe.
Nog oor Nêrens, Noord-Kaap
TV-meesterstuk ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kry groenlig vir tweede reeks
Die goeie nuus: ’n tweede seisoen van ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kom. Die slegte nuus: jy gaan baie geduldig moet wees…dié trane-drama hervat eers in 2023.
Meer‘Nêrens, Noord-Kaap’: Ons onthou S1 se mooiste toorwoorde
Digterlik, ritmies, allemagtig, geestig, snaaks. Dié Afrikaanse reeks se teks vat raak. Ons kyk terug na die mooiste dele van die eerste seisoen se teks.
Meer(N)êrens op ʼn plaas, in Afrika
Mense wat op stofpaaie in bakkies rondry, word sonderlinge kykstof in die hande van Nico Scheepers, die skrywer en mede-regisseur van reeks ‘Nêrens, Noord-Kaap’ op kykNET. Hy het met Riëtte van der Wat gesels.
Meer