Van wittebroodgeluk tot verhoudings wat vinnig begin verbrokkel, die liefde kry dié week behoorlik pak. Terwyl een paartjie my aangenaam verras, laat ander se keuses my net my kop skud. Daar is darem genoeg humor tussen al die hartseer, want ons gaan dit nodig hê. Een skokkende oomblik in Boskruin verander alles en ek dink kykers gaan nog lank hieroor praat.
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Diepe Waters
Ná verlede week se groot dag geniet die pasgetroudes uiteindelik hul wittebrood, maar ongelukkig lyk liefde nie oral in Boskruin so rooskleurig nie
Karla (Daniélle Swanepoel) neem ’n paar dodgy besluite en hou haar man heeltemal in die duister. Ek verstaan dat die verlies van ’n swangerskap ongelooflik moeilik is, maar ek wens sy wil haar man eerder nadertrek as wegstoot. Hy het tog ook ’n baba én ’n droom verloor. Hoekom nie saam deur die hartseer werk nie?
Zelda (Sandi Schultz) dans intussen behoorlik met die duiwel wanneer Frans (Deon Coetzee) se geheue begin terugkeer. Terwyl sy desperaat probeer keer dat haar verlede die mense naaste aan haar raak, word die prys wat sy betaal groter as wat ek ooit verwag het. Een van die mees dramatiese tonele van die seisoen het my hart behoorlik laat sak. Ek kon nie glo wat ek sien nie en iets sê vir my Boskruin gaan ná hierdie week nooit weer heeltemal dieselfde wees nie.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).
Binnelanders
Die wiele kom behoorlik af vir Joe (Roberto Kyle) en hy kan eenvoudig nie ophou om dinge vir homself erger te maak nie. Ek wíl so graag Team Joe wees, maar die manier waarop hy tans optree, maak dit byna onmoontlik. Dit is eenvoudig nie regverdig teenoor die mense rondom hom nie.
Maar regverdigheid is hierdie week skaars in Pretoria. Rian (Erik Holm) kry ’n desperate besoeker en ja, dit het alles met verlede week se ongeluk te doen. Ongelukkig gaan dié onverwagse gas baie meer mense as net Rian ontstel. Die guts alleen! Ek sou te skaam gewees het om ooit weer my gesig daar te wys, maar tog is sy terug.
Gelukkig gee Tracy (Melinda Viljoen) en Tertius (Reynardt Hugo) my iets om oor te glimlag. Hulle vertrek saam op ’n klein uitstappie en dinge verloop glad nie soos wat ek verwag het nie. Vir ’n slag is ek ongelooflik bly dat hulle my verkeerd bewys het. Kan hierdie twee uiteindelik weer hul pad na mekaar vind? Ek hou beslis duim vas.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Skemergrond
Lily (Hildegardt Whites) stel Ruan (Dann-Jaques Mouton) hierdie week voor ’n ultimatum en ek het klaar ’n slegte gevoel hieroor. Hulle is albei sterk-koppig en gewoond daaraan om hul eie kop te volg, so wie gaan eerste terugstaan? Ek wens ek kon sê liefde gaan wen, maar op hierdie stadium voel dit ‘n bietjie soos wishful-thinking.
Zander (Adrian Steyn) probeer intussen ’n groot gebaar maak en sy pogings sorg vir pure komedie. Om hom oor en oor te sien probeer én misluk, het my behoorlik laat lag. Die man is eenvoudig te goedhartig. Ek sou lankal my humeur verloor het.
Maar terwyl ons vir Zander lag, raak dinge elders in Gemoedsdrift baie ernstig. Die dorp se jongste grillerige karakter beweeg al hoe nader aan sy volgende slagoffer en ek hoop iemand sien die gevaar voordat dit te laat is. Ongelukkig weet ons hoe Sepieland werk – hoe langer die spanning uitgerek kan word, hoe beter.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.