Menu terloops
In Wat om te kyk [24 Nov 2021]

TV-meesterstuk ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kry groenlig vir tweede reeks


Die goeie nuus: ’n tweede seisoen van ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kom. Die slegte nuus: jy gaan baie geduldig moet wees…dié trane-drama hervat eers in 2023.

Kyk nou

TV-meesterstuk ‘Nêrens, Noord-Kaap’ kry groenlig vir tweede reeks
Kyk lokprent

kykNET het pas na die afloop van die laaste episode van die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap, bevestig dat ’n tweede seisoen gaan volg. 

Nico Scheepers, skrywer-regisseur van die reeks, het aanvanklik aangedring dat dit ’n beperkte reeks van een seisoen moet wees, maar terwyl hy besig was om sy gelyknamige verhoogstuk in ’n TV-drama te omskep, is hy deur inspirasie oorval. 

“Ek het allerhande idees begin kry oor waar die storie kan gaan as daar nog ’n seisoen sou wees,” vertel hy.

“Ek het begin notas maak en teen die einde van episode 13 het ek besef ons het eintlik pas klaargemaak met die eerste deel van ’n reeks wat uit 26 episodes bestaan.”

Hy verklap egter niks oor die storielyn nie, en maan kykers om geduldig te wees. ’n Goeie storie kan nié gejaag word nie.

“Die laaste ding wat die tweede seisoen moet wees, is ‘n halwe kranige opvolger wat in ’n haas geskryf en gemaak is.”

Dus – kykers gaan tot 2023 moet wag.

Die plan is om met dieselfde rolverdeling te werk, se Nico. “Daar sal ’n paar nuwe karakters wees, maar die een ding wat ek vir kykers kan sê, is dat Jan-Jan (Dean Balie) beslis nie Lourens (Frank Opperman) se seun is nie.”

Nico glo Nêrens, Noord-Kaap het by kykers aanklank gevind omdat dit so ’n eerlike, rou en emosioneel gelaaide storie is.

De Klerk Oelofse in Nêrens, Noord-Kaap.
De Klerk Oelofse in Nêrens, Noord-Kaap. Foto: Zaheer Banderker

“Ek het ’n reeks geskryf wat ek in Afrikaans wou sien. Ek wou ’n kant van die Afrikaner wys wat ons soms vergeet – daardie mense wat dieselfde gevegte as die res van ons voer. Ons vaders, ons broers, ons Maggies. Die stadige pas van die reeks was doelbewus. Ons leef in ’n tyd waar Instagram of Facebook jou binne sekondes kan vermaak, maar ek wou presies die teenoorgestelde bereik.”

Hoewel ’n datum nog nie bevestig is nie, sal die eerste seisoen ook eersdaags op Showmax beskikbaar wees. Die versoeking sal daar wees om die 13 episodes te binge, maar dié storie het tyd nodig om in jou siel te verteer. Om té vinnig daardeur te draf sal (heel waarskynlik) die emosionele impak en ervaring van dié TV-meesterstuk verwater.

“Die kykers moet weet niemand is meer lief vir hierdie karakters as ek nie,” voeg Nico by.

“Ek sal nie woorde op papier sit as dit nie die regte woorde is nie. Ek sal eenvoudig nie toelaat dat dit gebeur nie. Om die eerste seisoen te maak, was ’n lang proses, en ek sien daarna uit om weer in my kop na Nêrens te reis om die res van die storie te skryf.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies