As jy grootword op ʼn plaas, word dié stuk aarde jou hele wêreld.
Nico Scheepers, die bekroonde teater-regisseur en skrywer wéét dit, want hy was self ʼn plaaskind in Limpopo, waar hy die eerste keer die plaas mitologies probeer maak het met skryfsels in Croxley-notaboekies.
“In die plaaswêreld leef jy en jou siblings saam met ʼn paar gode, jou ouers en word jy vroeg reeds gekonfronteer met die hele lewe – met geboorte en die dood. Die wiel van die lewe draai vinniger in die mikrokosmos van die plaas. Wanneer jy op ses skooltoe moet gaan, breek daardie wêreld oop en dis rof.”
Ons gesels op ʼn weeksoggend op die foon oor Nêrens, Noord-Kaap, wat tans op kykNET te sien is. Die drie vervreemde Adendorff-broers worstel elk met sy eie stuk hartseer en trauma wat geanker is in hul familieplaas, Nêrens. Hier is hulle gemaak én gebreek.
Daar is wêreldwyd ʼn inherente grootsheid aan ʼn plaas. Ons het ons verhouding met die landskap verloor. Dis asof mense weghardloop van plase af en tog keer die stories terug plaas toe.
Nico Scheepers
Week ná week skakel kykers in om uit te vind of Andries (De Klerk Oelofse), Frans (Geon Nel) en Ronnie (Albert Pretorius) dalk ook op Nêrens heelgemaak sal kan word. Mense is meegevoer en die dramareeks, wat nie altyd maklike kykstof is nie, word die lof toegesing.
“Daar is wêreldwyd ʼn inherente grootsheid aan ʼn plaas,” sê Nico oor een van die redes waarom kykers dalk nie genoeg kan kry nie. “Ons het ons verhouding met die landskap verloor. Dis asof mense weghardloop van plase af en tog keer die stories terug plaas toe.”
Meesleurende storiemasjien
Nêrens, Noord-Kaap is gegrond op Nico se gelyknamige toneelstuk wat in 2017 by die Vrystaatse Kunstefees gedebuteer het en later die land vol getoer het.
De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius het gehore in vervoering gehad as die Adendorff-broers. Karen Meiring, M-Net se direkteur van kykNET-kanale, was in een van daai gehore en het Nico genader om die toneelstuk vir televisie te verwerk.
Vir Nico, wat droom van flieks maak (sy kortfliek Die maan val bewusteloos is op Showmax te sien) was dit ʼn sonderlinge geleentheid. Die verwerking van die toneelteks vir televisie was vir hom intens, maar “ongelooflik lekker” en sy opgewondenheid oor elke aspek van die proses is, selfs oor die telefoon, tasbaar.
“Die play is tussen 60 en 75 minute lank en hier het ek die opdrag gekry om 500 tot 700 bladsye vir televisie te skryf… maar hoe de donder doen ʼn mens dit sonder om die ruggraat van die storie te verloor?
“Ek kon die storie nie horisontaal verbreed nie, maar wel vertikaal – dis dieselfde geraamte, maar met baie meer vleis om die been.”
Toe begin hy speel.
Omdat die drie Adendorff-broers en hul verhaal reeds so deel was van hom, het die nuwe elemente van hul storie wat hy kom by-vertel het en aanpassings wat hy moes maak, nie moeilik gekom nie. Dit het eintlik half bekend gevoel.
“In die toneelstuk het Ronnie ʼn agtjarige seun, maar vir die reeks het ek dié seun, Lourens (Arnold Swart), twaalf jaar oud gemaak. Hy’s meer méns, sodat die reeks oor drie generasies mans handel – die oupa, sy seuns en kleinseun,” sê Nico.
Suzette (Daneel van der Walt), wat vinnig ʼn kyker-gunsteling geword het, het hy van die grond af geskep sodat sy vir Ronnie en Lourens kon kom red.
“Dieselfde met Lorrie (Shana Mans) en Fleur (Melissa Willering), wat vir Frans en Andries moet red…”
Reverse engineering, noem hy dié tegniek waarmee hy storiemasjien moes bou: “Ek het geweet waar die karakters aan die begin en einde van die reeks moes wees, maar moes nuwe ratte skep wat reg moes draai sodat hulle op daai plekke kon uitkom.”
Hy het hom met die skryfproses verwonder aan hoe sy karakters hul eie ding begin doen.
“Ek het altyd gedink skrywers praat strooi as hulle sê karakters doen wat hulle wil, maar terwyl ek die teks vir die reeks geskryf het, het ek besef dis waar. Ek was byvoorbeeld vas van plan dat Lourens die boelie by die trappe moes afstamp, maar toe verloop dinge anders en dit skep toe vir Lourens ʼn heel ander storie…”
Instinktiewe storieverteller
Een van die uitdagendste aspekte om Nêrens, Noord-Kaap van die verhoog na ʼn televisieskerm te verplaas, was die feit dat die verhaal emosie- eerder as aksiegedrewe is.
“Vir die televisiereeks moes ek 13 episodes skep en jy sien eintlik net mense in bakkies sit, of iemand by ʼn kokerboom verbyloop. Hoe maak ʼn mens dít compelling sodat die gehoor ten spyte van min aksie steeds op die karakters verlief raak, mét al hulle foute?”
So baie gebeur onder die oppervlak en niks word sommer net gesê nie, sê Nico. “Die cool ding met Nêrens, is dat dit ʼn karakterdrama is, waarvoor die spanningslyn deurlopend behoue moet bly.”
Hoewel hy dit geniet om kykers se spekulasies te lees oor hoe Katja nou eintlik gesterf het, beskou hy nie haar dood as die reeks se belangrikste spilpunt nie.
Hy het geleer om inligting en emosie drupsgewys aan die kyker te voer en beskou dié deel van die skryfproses as ʼn ongelooflike leerskool.
“Daar ís subtiele spanningslyne en mense wonder natuurlik baie oor hoe hulle ma dood is, maar buiten vir een of twee goed, gaan jy nie eintlik cliffhangers in Nêrens kry nie. Nou ja, dalk is daar een of twee cliffhangers, maar ek wil dit nie bederf nie…”
Hoewel hy dit geniet om kykers se spekulasies te lees oor hoe Katja nou eintlik gesterf het, beskou hy nie haar dood as die reeks se belangrikste spilpunt nie.
“Ja, dit was vreeslik traumaties; ja, julle (die kyker) gaan sien hoe (sy dood is). Ons skep natuurlik die misterie om haar dood, maar daar is soveel meer aan die storie. Haar dood is net nog een van die ruggrate van hierdie beast with many backs.”
Televisie- en teatergehore is nie noodwendig dieselfde nie, maar Nico probeer nooit dink aan hoe die gehoor sy werk gaan ervaar nie.
“Al wat ek kan doen is om my instink te volg en om ʼn storie te maak wat ék wil kyk; om te vertrou dat ek gevra is om hierdie storie te vertel oor hόé ek stories vertel en nie omdat ek dit noodwendig vir iemand doen nie.
“My perspektief is uniek en moet justice aan die storie doen.”
Kykersreaksies op sy stories verras hom tog, soos die manier waarop mense oorrompel is deur die liefdevolle, niks-nonsens Suzette.
Mitologiese karakters
Die veelvlakkigheid van die storie en die visuele trefkrag, verleen aan Nêrens, Noord-Kaap ʼn teater-gevoel, ten spyte van die kleinkassie as medium.
Om sy en sy mede-regisseur Johan Cronjé se visie op die skerm te laat leef, het hulle ʼn span kundige mense bymekaar gebring waaroor Nico liries raak.
“Die crew was absoluut ongelooflik en elkeen is so goed in hul onderskeie departemente. Ons het geskiet op ʼn skedule van dertien, veertien bladsye per dag, waar oorsese reekse so drie of vier bladsye per dag skiet. Daarom moet jy jou omring deur mense wat weet wat hulle doen.”
Die fantastiese kinematograaf Chris Lotz se visuele styl eggo die atmosfeer van Nico se teks en veral die tonele van die landskap is gelaai met emosie.
“Die kamera is ʼn alomteenwoordige karakter en ons het hard gewerk om elke skoot ʼn spesifieke storie te laat vertel,” sê Nico. “Die hero shots van mense wat oor die landskap loop, spesifiek in die kokerboomwoud op Gannabos, is van my gunstelingskote.”
Nico vertel die kokerboomwoud buite Nieuwoudtville waar hulle heelparty tonele verfilm is, is die grootste woud van sy soort in die Suidelike Halfrond.
“Daar is ʼn inherente mitologie aan die kokerbome, wat soos mense lyk. Die Khoi het geglo dit is die geeste van die voorvaders en vir my lyk die woud soos ʼn lewende begraafplaas.”
Die woud, sê Nico, is soos ʼn lewende museum waaroor daar versigtig gewaak word.
“Ons kon net ʼn paar mense op ʼn slag daar invat en dit was moeilik om daar te skiet. Maar daar is in elke episode van Nêrens ʼn toneel in die gannabos verfilm… daar is net iets aan die vast emptiness van daai landskap.”
Met Franco Prinsloo se meesleurende oorspronklike klankbaan wat ook nog bykom, raak dinge net beter.
“Johan ken vir Franco goed, omdat hulle al voorheen saamgewerk het (Franco het onder meer die musiek gekomponeer vir Johan se fliek Wonderlus). Ons het heelwat met hom ge-Facetime terwyl ons die reeks verfilm het; dan skryf hy temas vir elke karakter en WhatsApp dit vir ons.
“Ek onthou die spesifieke oomblik toe hy vir ons ʼn stuk klarinetmusiek vir die ma gestuur het – ʼn mens hoor dit waar sy en Ronnie saam sit en naaldwerk doen. Johan en ek het vir mekaar gekyk en gesê dít is Nêrens, Noord-Kaap.
“Franco is maar net ongelooflik en hy het elke karakter so uitgebou, dat die musiek ook ʼn karakter op sy eie word. Die gebruik van instrumente is eiesoortig – dit voel nuut, maar oud.” (Hulle hoop om die klankbaan as album op Spotify en die Apple Music te verkoop.)
Moenie jok nie
En dan is daar natuurlik die akteurs wat die (meestal moeilike) karakters soos gemaklike klere aangetrek het en selfs nog meer gravitas aan die reeks verleen.
“Ek het uit die staanspoor gesê ek sal net instem om die toneelstuk te verfilm as die drie oorspronklike hoof-akteurs, Albert, Geon en De Klerk, hul rolle hervat. Ons stap ʼn lang pad – hulle het die rolle ontwikkel en dit sou horrific wees om hulle te moes vervang.”
Dit was nie so maklik om die ander rolle te vul nie.
“Ons het met sommige karakters omtrent elke liewe akteur in elke ouderdomsgroep in die land gesien, maar ons was net nooit gelukkig nie,” sê Nico.
Dinge is verder gekompliseer omdat hulle tydens die pandemie video-oudisies moes doen.
“Omtrent elke ouer mansakteur in die land het ʼn oudisie afgelê om pa Lourens te speel, maar Frank Opperman het ons voete onder ons uitgeslaan. Hy speel die rol met soveel deernis.
“Ek sou nooit aan hom gedink het vir die rol nie, maar dis wonderlik om so verras te word.”
Dit lyk of die rol van Katja Adendorff vir Tinarie van Wyk Loots geskryf is, maar Nico erken hy het haar aanvanklik nie eers vir die rol oorweeg nie.
“Ons is vriende en het al aan verskeie teaterproduksies saamgewerk. Ek beskou haar as die beste aktrise in die land, maar ek het gedink sy is te famous om Katja te speel. Toe laat weet sy later sy het haar oudisie gemis en kan sy maar vir ons ʼn video-oudisie stuur… die oomblik toe die video begin speel, het ek gevloek, want sy was sό perfek as Katja, ʼn mens vergeet sy is Tinarie.”
Vir die rolle van die jong Adendorff-broers en Ronnie se seun Lourens, het hulle bykans 300 oudisie-videos ontvang van seuns tussen 6 en 16 jaar oud.
Ons het doelbewus kinders gekies wat nog nie voorheen toneelgespeel het nie, want hulle het nog nie geleer om te jok nie.
Nico Scheepers
“Beautiful goed het in dié proses gebeur, soos toe ek en Johan afsonderlik lysies gemaak het en albei vir Thommi Swanepoel (jong Frans) en Lehan Swanepoel (jong Ronnie) gecast het. Toe is hulle nog régtig boeties ook en ons het dit nie eers geweet nie!”
Johannes Jordaan is ook perfek gekies as klein Andries, wat saans die jakkalse hoor roep na sy ma se dood.
Met Lourens was daar van die begin af nie ʼn ander keuse as Arnold Swart nie, sê Nico.
“Die belangrikste ding is om kinders nie soos kinders te hanteer op stel nie. Don’t coddle them. Hulle is akteurs en jy benader hulle net soos die volwassenes.
“Ons het vooraf met die kinders oor die karakters en die storie gesels om hulle emosioneel op die regte plek te kry. Dan verander jy subtiel aan die toneel deur vir die volwassenes en kinders ander leiding te gee. So dink die kind op sy tone wanneer die kamera rol en dink hy nie aan act nie.
“Ons het doelbewus kinders gekies wat nog nie voorheen toneelgespeel het nie, want hulle het nog nie geleer om te jok nie.”
Stories, vir ewig
Vir Nico is Nêrens, Noord-Kaap nog nie weggebêre in sy kop nie, maar daaroor verklap hy nie veel nie.
Kykers hoef hulle egter nie te bekommer dat dit die laaste sien is van dié teatermaker op televisie nie.
“Ek is besig om aan ʼn misdaadreeks te skryf – behoorlike, volwasse misdaad wat eg-Suid-Afrikaans voel.”
Hy sal altyd in teater wil werk, maar sy grootste droom bly om rolprente te maak en hy hoop om volgende jaar sy eerste vollengte fliek die lig te laat sien.
Die eerste ding wat ons gehad het, was stories en die laaste ding wat ons sal oorhê, is stories. Dit gee my ongelooflik baie hoop vir die kunste.
Nico Scheepers
Oor die kunste in Suid-Afrika is hy opgewonde en optimisties. Die kunste, glo hy, is al ding wat sommige mense deur lockdown gekry het.
Waaroor hy hom wel bekommer, is die feit dat daar plaaslik te min skrywers is wat nuwe werk vir televisie en teater skep.
“Ons boeke en skryfwerk is so mooi, maar daar is nêrens waar mense geleer word om draaiboeke en toneelstukke te skryf nie. Ek sal altyd regie wil doen, maar ek wil nie altyd my eie woorde direct nie…”
En tog weet hy die bronmateriaal sal nooit opraak nie: “Die eerste ding wat ons gehad het, was stories en die laaste ding wat ons sal oorhê, is stories. Dit gee my ongelooflik baie hoop vir die kunste.”
Nog onderhoude
Van Mej. Suid-Afrika-model tot ‘7de Laan’ se Shady
Die aktrise en model Beàta Bena Green staan vir niks terug nie.
Meer‘’n Hele gay troue!’: Liefde wen op ‘Arendsvlei’
Dié Arendsvlei-troue is een van die eerstes van sy soort op Afrikaanse TV.
MeerVier jaar, 11 moorde, een affair
Tarren-Lee Habelgaarn vertel hoe die Showmax-dokkiereeks ‘Devilsdorp’ haar teruggeneem het na haar dae as joernalis toe sy oor die Krugersdorp-moorde berig en die gevoellose getuienis van die beskuldiges uit die hofbanke aanskou het.
Meer