Sy is passievol, kreatief en vasbeslote om ’n verskil in ander jongmense se lewens te maak. Beàta Bena Green staan beslis ook nie terug vir uitdagings nie – dís immers van na die kroon steek dat sy die leer kon klim tot waar sy vandag is.
Die 25-jarige Beàta is oorspronklik van die Paarl in die Wes-Kaap, maar deesdae is sy bekend as Crushanda “Shady” Vermeulen, die rebelse tiener wat die inwoners van Hillside in SABC2 se gewilde sepie 7de Laan op hul tone hou.
Van een sepie na ’n ander
Voordat sy haar tuisdorp in die wynlande vir die Goudstad verruil het, het kykers haar as Kim Claassen in Arendsvlei (nou op Showmax) leer ken. Maar soos vele ander van haar tydgenote, het sy met die ikoniese temaliedjie van 7de Laan grootgeword. Toe sy dus gevra is om by die rolverdeling aan te sluit, het sy nie twee keer gedink nie. Die trek en aanpassing in ’n nuwe stad, sonder haar familie naby om haar te ondersteun, was wel ’n taai ervaring. Beàta het op 18 reeds haar ouerhuis verlaat, maar het nog nooit buite die Wes-Kaap gewoon nie. Die ekstra uitdagings van trek in die middel van ’n pandemie het ook nie juis gehelp nie. Nietemin het “alles perfek uitgewerk,” sê sy.
“’n Week voordat ek die rol gekry het, het ek vir my familie gesê ek wil vir ’n tyd in Johannesburg woon. Ek wou meer onafhanklik wees en sien of ek sonder my familie kon regkom. Hulle is baie belangrik vir my, maar soms is dit goed om jouself uit te daag. Dít is wanneer jy werklik groei.”
Sy onthou die dag wat sy die ja-woord van die 7de Laan-span gekry het.
Soms is dit goed om jouself uit te daag. Dít is wanneer jy werklik groei.
“Ek het myself dié oggend oortuig dat ek beslis nie die rol gekry het nie.” Sy is haarkapper toe en wou nog haar hare laat knip toe iets vir haar sê om eerder te wag. ’n Paar uur later lui haar selfoon haar uit ’n middag siesta wakker. “Natuurlik was ek baie opgewonde. Ek het uitgesien na ander mense, ’n ander styl van acting en ’n nuwe omgewing. Die groei wat ek nou in my persoonlike en professionele lewe ervaar, is regtig wonderlik.”
“Ons verskil hemelsbreed”
Soos met alles anders in haar lewe, laat Beàta haar deur haar passie lei – en as dit by toneelspel kom, gee sy alles vir die karakters wat sy vertolk.
Shady is Bonita Meintjies (Hildegardt Whites) se niggie, wat met die hulp van haar ryk grootouers grootgemaak is. Sy is ’n lewenslustige en luidrugtige tiener wat die lewe as een groot partytjie sien.
“Vir dié wat haar ken is sy ’n ray of sunshine, maar van buite is dit maklik om te dink sy is vol van haarself en ’n groot brat. Sy het al baie seergekry, en dit is een van die redes hoekom sy soms verkeerde keuses maak,” vertel Beàta.
Sy verskil hemelsbreed van Shady en daarom moet sy elke dag eers vir Beàta afskud voordat sy Shady kan word.
“Ek moet myself by die deur los wanneer ek Shady vertolk. Haar styl, selfs haar manier van praat, is anders as my eie. Mense is verbaas wanneer hulle my ontmoet, want hulle verwag dat ek ook goed soos ‘shame’ of ‘lekker jy’ sal sê. Maar dit is vir háár geskryf. Dit is glad nie wie ek is nie,” sê sy.
Sy is dalk ietwat van ’n nuweling in die vermaakbedryf, maar sy besef al te goed dat elke TV-reeks sy eie aanhangers het. En dis veral sepie-kykers wat vinnig van hulself laat hoor. As deel van die Hillside-span, ervaar sy eerstehands hoe, kom ons sê… lojaal.. 7de Laan se kykers is.
“Voorheen was dit nog hanteerbaar wanneer mense my herken het, maar dis meer intens vandat ek Shady vertolk. Ek verstaan hoekom aanhangers so opgewonde raak. Die sepie is al op die lug vandat ek ’n kind is.” Maar, voeg sy by, as sy nie besef het dat almal net mense is, en op stel is om te werk nie, sou sy ook meer starstruck gewees het. Oor haar kollegas sê Beàta: “Hulle is almal great mense en ons leer so baie van mekaar.”
Voordat sy op die 7de Laan-stel begin werk het, het sy reeds goeie raad van ’n voormalige Hillside-inwoner gekry. Sy en Melanie Du Bois, wat voorheen Felicity Daniels in 7de Laan vertolk het en deesdae as Ronel Cupido in Arendsvlei te sien is, het gedurende die eerste inperking in 2020 saam gewoon.
Voorheen was dit nog hanteerbaar wanneer mense my herken het, maar dis meer intens vandat ek Shady vertolk.
“Sy het nie familie in Kaapstad nie en ek wou nie gehad het sy moet op haar eie tydens die inperking wees nie. Ons was maar almal bang en het nie geweet wat om te verwag nie. Ons het lekker pret gehad en ek het juis my eerste oudisie vir 7de Laan gekry terwyl ons saam in lockdown was. Sy het my aangemoedig om vir die rol te probeer en baie goeie raad gegee.”
Sy wil inspireer
So lief as wat Beàta vir haar werk en medespelers is, so is daar ook baie ander dinge wat haar hart warm maak, veral haar vriende, familie en liefdadigheidswerk. Haar vurigheid vir jongmense is een van die redes hoekom sy verlede jaar vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingskryf het.
“Ek wil graag soos hulle ’n rolmodel wees,” sê Beàta oor die voormalige deelnemers en wenners wat sy as kind bewonder het – nie net oor hoe mooi hulle is nie, maar ook omdat sy diep deur hul stories geraak en geïnspireer is.
“As jy na elke vrou se storie luister, besef jy hulle is ook net mense wat, ten spyte van hul uitdagings, iets uit hul eie lewe, asook ’n verskil in ander se lewens, wou maak. Ek wil ook iemand wees wat uitdagings aanpak vir dinge waarin ek glo.”
Die deelname aan die kompetisie het haar gehelp om uit haar dop te kruip, vertel sy. Sy is ook aangemoedig om nuwe dinge, soos om voor mense te praat, aan te pak. Sy het immers nog groot drome om nuwe werk en rolle vir haarself én ander kunstenaars in Suid-Afrika te skep, sê sy. Dít verg durf.
“Ek hou van TV kyk, maar daar is nie noodwendig ’n spesifieke rol wat ek wil vertolk nie. Ek fokus eerder om die karakters wat ek speel te bou sodat ek eendag kreatiewe werk vir myself en ander kan skep.”
Kyk 7de Laan op SABC2 (kanaal 192 op DStv) of op die (relatiewe nuwe) plaaslike stroomdiens, Viu.
Lees meer oor plaaslike sepies
‘’n Hele gay troue!’: Liefde wen op ‘Arendsvlei’
Dié Arendsvlei-troue is een van die eerstes van sy soort op Afrikaanse TV.
Meer‘Suidooster’ bekroon, ‘Arendsvlei’ mis uit
Suid-Afrika se beste sepies, onder meer die hospitaaldrama Binnelanders, Getroud met Rugby met sy volop slaapkamer-intriges, en die glansryke telenovella The Queen is by die 2021 Royalty Soapie-toekeninngs vereer.
MeerArendsvlei, Egoli en nog: Dié Afrikaanse sepies op Showmax
Dis nou een ding van Afrikaanse sepies – daar is wraggies nooit ‘n tekort aan drama óf skandaal nie.
Meer