Menu terloops
In Onderhoude [12 Okt 2021]

‘’n Hele gay troue!’: Liefde wen op ‘Arendsvlei’


Dié Arendsvlei-troue is een van die eerstes van sy soort op Afrikaanse TV.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou.

‘’n Hele gay troue!’: Liefde wen op ‘Arendsvlei’
Kyk lokprent

“’n Hele gay troue: Vier vanaand onvoorwaardelike queer liefde op Suid-Afrikaanse TV! My hart is so vol! As kind het ek gehunker om dié liefde en verteenwoordiging op ons skerms te sien, en nou is ék dit. Onbeskaamd! Geniet die troue vanaand op #Arendsvlei.”

Dít is die boodskap wat akteur Roberto Kyle op sosiale media gedeel het kort voordat sy karakter op die gewilde kykNET & Kie-telenovela, Arendsvlei, in daardie aand se episode sou trou. Roberto vertolk die rol van Lee-Roy Foster in Arendsvlei en dié karakter raak halsoorkop verlief op Wesley Rossouw (vertolk deur Craig Adriaanse). Kykers is al sedert 2018 saam met die paartjie op hul rondomtaliedans. Ja, hul paaie het al vantevore geskei, maar uiteindelik staan hulle voor die kansel om ewige trou aan mekaar te sweer. Reg voor ons oë het hul liefde oorwin.

Stadig, maar seker, word die uitbeelding van die LGBTQ+ -gemeenskap op televisie vergroot, versterk en gediversifiseer. Dit het maar klein begin, met reekse soos Will & Grace en Glee wat gedeeltes van queer-identiteit uitgebeeld het. Deesdae slaag TV-reekse toenemend daarin om meer verteenwoordigend van die LGBTQ+ -gemeenskap te wees, waaronder in treffers soos Queer Eye en The Bold Type. Vervaardigers pak dié weerspieëlingskuif ook plaaslik aan om verteenwoordiging op die skerm te verbeter. Lee-Roy en Wesley se troue op Arendsvlei is een so voorbeeld.

Om openlik gay te wees, is dikwels ’n moeilike realiteit, veral op die Kaapse Vlakte en in die bruin gemeenskap. Arendsvlei is een van die eerste sepies wat mense dwing om soms gemaklik met hul ongemak te word met hul uitbeelding van #WESLEE se verhouding (dis nou die Arendsvlei-paartjie se troetelnaam onder kykers). Só speel die sepie ’n belangrike rol om bewusmaking vir die LGBTQ+ gemeenskap te skep.

“Ek is altyd verstom wanneer mense op sosiale media uitreik. Natuurlik is daar homofobiese mense wat glad nie van #WESLEE hou nie, maar meeste van die tyd is dit boodskappe van dankbaarheid.”

Craig Adriaanse

Dié troue draf grense kaf

Dié Arendsvlei-troue is een van die eerstes van sy soort op Afrikaanse TV en Roberto en Craig is dankbaar om deel van dié storielyn te wees.

“Ek het nooit regtig verteenwoordiging soos hierdie op my TV-skerm gesien nie. Terence Bridgett se karakter, Jerome, op 7de Laan kom seker die naaste daaraan, maar ek het nie van mense se vernederende reaksie op sy karakter gehou nie. Dit het my oor myself laat sleg voel, veral oor die dele van myself wat my aan die karakter herinner,” deel Roberto.

“Marc Lottering was altyd my idol en sy uitbeelding van Aunty Merle was amazing om te sien. Something about it just made you feel like being your most authentic self was okay.”

Roberto sê hy het op ’n jong ouderdom geweet hy het ’n talent vir toneelspel en het homself toe belowe om dié gawe te gebruik om mense se harte te raak. En nou doen hy en Craig dit Maandag tot Donderdag van 19:30 tot 20:00 op Arendsvlei.

“Toe ek die sosiale media inskrywing plaas, het ek weereens besef dat agt- of tienjarige Roberto graag karakters soos #WESLEE op TV wou gesien het. Maar nou het ons dit, en dit is vir my ’n groot eer om hierdie karakter uit te beeld, al was dit nie die rol waarvoor ek aanvanklik gelees het nie.”

Craig Adriaanse in Arendsvlei
Craig Adriaanse as Wesley Rossouw. | Verskaf

Roberto het oorspronklik vir die rol van Anton (vertolk deur Dean-Richard Olivier) uitprobeer. In daardie stadium het hy reeds ’n queer-karakter in ’n ander projek vertolk en wou nie eentonig in sy rolkeuses wees nie. Hy was ook bang dat die karakter dalk voorspelbaar sou wees, veral omdat hy so baie van homself in Lee-Roy kon sien. Maar deur Lee-Roy sou hy uiteindelik deur baie van sy eie pyn kon werk.

“Dinge het uitgewerk soos dit moes. As deel van die queer-gemeenskap, is dit vir my regtig ’n eer om ’n stem vir marginalized mense te gee. Ek dink dit is hoekom my sosiale media juis so bos gegaan het ná my inskrywing – omdat die troue soos ’n oorwinning gevoel het vir diegene wat gewoonlik agtergelaat word.”

Vir Craig is dit net so spesiaal om queer mense deur sy karakter te kan verteenwoordig, al het hy nie aan die begin besef hoe belangrik sy karakter se storie gaan wees nie – of hoe baie mense dit sou raak nie.

Roberto Kyle in Arendsvlei.
Roberto Kyle as Lee-Roy Foster. | Verskaf

Craig sê toe hy die rol kry, was dit sy eerste groot professionele acting gig en hy was maar net te dankbaar vir die geleentheid. Hy het geweet sy karakter gaan eers van meisies hou en dan op ’n man verlief raak en deur struggles met sy identiteit gaan. Tog het hy nie tóé besef watter groot impak sy karakter en storielyn op kykers sou hê nie.

Karakters, storie gee hoop

“Ek is altyd verstom wanneer mense op sosiale media uitreik. Natuurlik is daar homofobiese mense wat glad nie van #WESLEE hou nie, maar meeste van die tyd is dit boodskappe van dankbaarheid. Dit laat jou besef hoeveel hierdie storielyn vir mense beteken. Dit laat hulle voel asof hulle gesien word en gee vir hulle hoop dat dinge ook vir hulle goed sal uitdraai,” sê hy.

Wesley se pa was aanvanklik ontnugter oor sy seun se gay verhouding, maar sy toespraak by die troue het ’n ommeswaai in hom gewys en vir kykers hoop gegee dat hulle ook eendag só ’n boodskap van hul ouers sal ontvang, al gaan dinge nou hoe moeilik, meen Craig. Die hoop wat sy karakter vir mense gee, motiveer Craig om sy beste voor die kamera te gee.

“Daar is altyd iemand wat deur iets gaan. As ons awareness deur ons karakters kan bring en vir selfs net een persoon die lewe ’n bietjie beter kan maak, het ons geslaag. Mense moet gewoond raak aan ander se keuses, veral ten opsigte van seksualiteit. Ons moet queer normaliseer. Mense sal daarmee móét gemaklik word,” sê hy.

“Dit is 2021 en ek dink nie mense moet ooit hul seksualiteit verduidelik nie, veral nie in die queer-gemeenskap nie. Om straight te wees, is nooit ’n gesprek nie, so om gay te wees, moet ook nie een wees nie. Laat mense hul keuses maak en respekteer dit.”

Kyk Arendsvlei op DStv of Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies