Menu terloops
In Rubrieke [26 Jul 2026]

Sepievoorskou: Hoe lank baklei jy vir iets wat reeds verlore is?


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (27 tot 31 Julie) op ‘Binnelanders’, ‘Skemergrond’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Hoe lank baklei jy vir iets wat reeds verlore is?

Dié week bereik meer as een karakter breekpunt. Terwyl sommige uiteindelik besef dat hulle te lank aan die verkeerde dinge vasgehou het, weier ander om tou op te gooi. Dit maak nie saak hoeveel skade hulle agterlaat nie. Verhoudings, vriendskappe en selfs ’n hele gemeenskap word getoets. 

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Skemergrond

Ná weke se drama lyk dit of Tilly (Deirdre Wolhuter) en Manny (Dirk Stoltz) uiteindelik tot hul sinne gekom het. Die groot vraag is egter of dit nie dalk reeds te laat is om hul vriendskappe én Gemoedsdrift te red nie. Ek hoop regtig daar is nog ’n pad vorentoe, want dit sal hartseer wees om te sien hoe jare se bande so eindig.

Christine (Devonecia Swartz) doen intussen presies wat ons van haar verwag en weier om op te gee. Sy is weer vasbeslote om Everlasting in die hande te kry en ek kan nie wag om te sien of haar plan hierdie keer gaan werk nie en of dit net nog ’n mislukte poging gaan wees nie. 

Ruan (Dann-Jaques Mouton) word ook hierdie week teen ’n muur gedruk wanneer Lily (Hildegardt Whites) hom dwing om tussen haar en iemand anders te kies. Eerlikwaar – ek raak soms moeg daarvoor dat die reëls altyd net vir ander geld. Lily verwag soveel van Ruan, maar ek is nie altyd oortuig sy gee dieselfde terug nie. Ek sal hom nie kwalik neem as hy uiteindelik besluit genoeg is genoeg nie.

Intussen lyk dit of Jasmine (Khadija Heeger) dalk die sleutel gevind het om Everlasting te red en skielik is almal opgewonde. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Ella (Marlee van der Merwe) is behoorlik besig om beheer te verloor en hierdie trein ry teen ’n spoed wat net op moeilikheid kan afstuur.

Wanneer Ella betrokke is, eindig dinge mos altyd in ’n botsing, die vraag is net wat hierdie keer die finale ontsporing gaan veroorsaak. Ek probeer regtig nog die goeie in haar sien, maar sy maak dit elke week moeiliker. Gelukkig sorg die spanning darem vir uitstekende televisie.

Tracy (Melinda Viljoen) stap intussen met ’n interessante voorstel na die Kosters en dit lyk of daar dalk rede vir ’n klein viering is. Ná al die swaarkry hoop ek hierdie storielyn bring vir ’n slag goeie nuus.

Jackie (Danielle Retief) verras almal wanneer sy een van die moeilikste besluite van haar lewe neem. Dit is sonder twyfel een van die mooiste tonele van die week en ek hou duim vas dat sy die nuwe begin kry waarvoor sy so hard werk.

Joe (Roberto Kyle) haal sy frustrasie op almal rondom hom uit en hoewel ek verstaan hoekom hy kwaad is, wonder ek of dit nie sy eie verhoudings gaan beskadig nie.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Suidooster

Zahra (Caitlyn Haywood) maak vinnig vriende in Ruiterbosch, maar nie almal val vir haar sjarme nie. Ek is altyd versigtig wanneer iemand té perfek in sepieland lyk en hierdie week begin selfs die Samsodiens besef dat sy dalk nie heeltemal is wie hulle gedink het sy is nie. Iets sê vir my hierdie is nog maar net die begin van haar storie.

Frankie (Mienke Ehlers) het alle rede om woedend te wees nadat dinge handuit geruk het. Nou moet sy die stukke van haar lewe weer optel. Ek dink haar pa moet net ophou probeer besluit wat die vroue in sy lewe nodig het. Hy verstaan eenvoudig nie wanneer genoeg genoeg is nie.

Kate (Annelisa Weiland) doen natuurlik presies die teenoorgestelde van die raad wat sy ontvang. Ek het meer as een keer my kop geskud terwyl ek gekyk het. Partykeer is dit beter om sekere waarhede net te laat rus, maar Kate gaan ongelukkig eers daardie les leer wanneer dit dalk reeds te veel skade veroorsaak het.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies