Tien boere, ’n nuwe aanbieder en die moontlikheid van ’n liefde wat ’n leeftyd hou: Boer soek ’n vrou se 19de seisoen begin met ’n uitnodiging aan voornemende pasmaats om die eerste tree te gee.
Niel (27), ’n tafeldruifboer van Worcester in die Wes-Kaap, is een van die tien boere wat dié seisoen die moontlikheid van ’n vaste verhouding verken.
Niel pak graag ’n Hyrox-oefenuitdaging of ’n drafroete in die berge aan, maar geniet net soveel ’n wynproe of ’n braai saam met sy vriende of familie. Dié vriendelike, hardwerkende boer se geloof is die rigtingwyser vir sy lewe én sy siening van liefde: God moet die middelpunt wees, en albei partye moet moeite doen.
Hy glo liefde groei wanneer twee mense waardes deel en tyd maak om mekaar werklik te leer ken, deur mooi én moeilike tye.
Hy is gereed vir ’n vaste verhouding met ’n gelowige vrou wat familie koester, maklik lag en die lewe met geesdrif aanpak. Eerlikheid, lojaliteit en ’n sagte hart sal hom nader trek.
As jy ook glo ’n verhouding groei wanneer twee mense tyd en moeite daarin belê, skryf vir Niel en deel wat vir jou saak maak.

Skryf só in
- Besoek www.kyknet.tv.
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na: boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
- Voornemende pasmaats kan tot middernag op 27 November 2026 vir die boere skryf.







