Menu terloops
In Fokus [12 Nov 2026]

Dis binnekort jagseisoen op kykNET


In kykNET se nuwe werklikheidsreeks ‘Jagter’ word meer as skietvernuf getoets. Twaalf deelnemers pak uitdagings in die bosveld aan, waar karakter, selfbeheersing en etiese oordeel bepaal wie as wenner wegstap.

Dis binnekort jagseisoen op kykNET

Die jag is oop vanaf Woensdag 9 Desember wanneer Jagter op kykNET begin. In hierdie splinternuwe realiteitsreeks ding 12 deelnemers mee om die titel van Suid-Afrika se beste etiese jagter én ‘n kontantprys van R500 000.

Jagter gaan oor veel meer as skietvernuf. Deelnemers word deur ’n reeks uitdagings getoets wat hul veldkennis, wapenvaardigheid, afstandskatting, oorlewingsvernuf, spoorsny-, uithou- en oordeelsvermoë, asook sosiale strategie op die proef stel. Elke uitdaging fokus op ’n ander aspek van wat dit beteken om ’n moderne, verantwoordelike jagter te wees.

Aan die hart van die reeks lê ’n sterk fokus op etiese jag, natuurbewaring en volhoubare omgang met die veld. Jagter beklemtoon dat ware jagvernuf nie net gaan oor die vermoë om ’n skoot te neem en die teiken te tref nie, maar oor die oordeel om te weet wanneer om nié te skiet nie. Respek vir wild, habitat en die natuurlike omgewing vorm deel van die beoordelingskriteria.

Die bekoorlike, ongerepte Suid-Afrikaanse bosveld, waar die reeks afspeel, is soos ’n aktiewe dertiende deelnemer aan die kompetisie. Terrein, afstand, weersomstandighede, uitputting en tydsdruk toets deelnemers voortdurend en dwing hulle om taai besluite onder moeilike omstandighede te neem.

Die reeks word aangebied deur die gewilde akteur Nico Panagio, wat wyd bekend is as aanbieder van Survivor Suid-Afrika en Top Billing.

Etiek maak saak

“Jagter gaan oor baie meer as die oomblik wanneer iemand die sneller trek. Dit gaan oor verantwoordelikheid, dissipline, respek vir die natuur en die besluite wat lank voor daardie oomblik geneem word,” sê Louis Schoeman, skepper en uitvoerende vervaardiger van Jagter.

“Ons wou ’n reeks skep wat die vaardighede van jagters vier, maar ook die waardes wat verantwoordelike jag onderlê. Uiteindelik gaan Jagter nie net bepaal wie die beste kan skiet nie, maar wie die karakter en oordeel het om die titel werklik te verdien.”

Namate die reeks vorder, word die uitdagings moeiliker, die kompetisie feller en die druk groter. Tegniese vaardigheid alleen sal egter nie genoeg wees nie. Karakter tel. Oordeel tel. Selfbeheersing tel. En etiek tel.

Jagter plaas ook die kollig op die verhouding tussen jag, natuurbewaring en gemeenskapsbetrokkenheid.

Deur die #HelpJag-voedingskema wys die reeks hoe wildsvleis aangewend kan word om behoeftige kleuters te help voed, en beklemtoon dit die waarde van verantwoordelike wildbestuur en gemeenskapsimpak.

Met asemrowende bosveldlandskappe, veeleisende uitdagings en sterk persoonlikhede gaan Jagter kykers vasgenael hou.
Meer inligting oor die 12 deelnemers sal binnekort aan die publiek bekend gestel word.

Jagter begin Woensdag 9 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies