Menu terloops
In Redakteurskeuse [3 Jul 2026]

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop


Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Deur Redaksie
Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Hier is ons voorstelle vir wat om vandeesmaand te kyk.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

1

Herman se halfuur

Dinsdae tot Donderdae vanaf 7 Julie 2026 om 17:30 op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147).

Die bekroonde glanssjef, resepteboekskrywer, kosredakteur en mede-aanbieder van Kokkedoor: Son & see, Herman Lensing, bied ook eersdaags ’n nuwe TV-program – óftewel ’n “halfuur van praktiese kookinspirasie” soos hy dit beskryf – op VIA aan. 

Herman se halfuur is presies wat die naam sê: ’n halfuur van praktiese kookinspirasie. In elke episode maak ek drie resepte wat maklik is om te volg – en mense, of jy nou kan kosmaak of nie – gaan dadelik lus voel om te begin woeker in die kombuis,” se Herman in ’n mediaverklaring.

Dié nuwe reeks is gemik daarop om so toeganklik as moontlik vir kykers te voel. Die resepte is staatmakers en eenvoudig, eerder as onnodig ingewikkeld. As sulks is dit ’n kookprogram wat vir kykers feitlik “stap-vir-stap wys: hier is die bestanddele, hier is wat jy daarmee doen, en só kan jy dit self tuis maak,” verduidelik hy. 

Herman is ook onlangs aangekondig as die mede-beoordelaar van die volgende aflewering van kykNET se gewilde Kokkedoor-koswerklikheidsreeks, Kokkedoor: Klassiek, saam met Jess van Dyk, ’n Stellenbosse sjef en restauranteienaar.

Inskrywings om aan Kokkedoor: Klassiek deel te neem sluit 12 Julie 2026.

2

Elders: Viëtnam

Weeklikse episodes vanaf Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Die bekroonde skrywer Erns Grundling se Elders-reeks is nou reeds in sy agtste seisoen met die nuutste aflewering wat op Sondag 19 Julie op kykNET begin uitsaai. Dié keer stap Erns en sy makkers vir Viëtnam plat soos hulle dié land in Suidoos-Asië van noord na suid verken.

“Ek het besluit dit is tyd om ’n nuwe, byna wildvreemde land vir die eerste keer te besoek,” vertel Erns oor Elders: Viëtnam in ’n mediaverklaring. “Viëtnam fassineer my al van kleins af. Ek hoop die nuwe seisoen is ’n uitnodiging aan kykers om self die land se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos te ervaar.” 

Die vorige seisoen van dié besonderse reeks, Elders: Ligtoringroete, is vroeër vanjaar met ’n Safta-toekenning as beste leefstylprogram bekroon. Dit is die tweede Safta-wen vir die reeks – ook Elders: Japan is in 2020 vereer.

3

Enola Holmes 3

Nou op Netflix beskikbaar.

Millie Bobby Brown keer terug in die titelrol met die storie wat in Malta afspeel soos Enola gereed maak om die knoop met Tewkesbury (Louis Partridge) deur te hak. Maar dié romantiese planne word in die wiele gery wanneer haar geliefde ouboet, Sherlock (Henry Cavill), verdwyn. Dis raaisels en kinkels om elke hoek en draai, maar – anders as met die vorige twee films in die reeks – is daar dié keer ook veel meer op die spel wat dan die avontuur in hoër rat vorentoe dryf.   

Soos voorheen, is die derde uittog in die Enola Holmes-flieks ook op Nancy Springer se The Enola Holmes Mysteries-boekreeks gegrond. 

Ook met Helena Bonham Carter as Eudoria Holmes, Sherlock en Enola se ma. 

4

Wêreldbeker-sokkertoernooi 2026

Tot 19 Julie 2026 op SuperSport (vier toegewyde 24/7 opwipkanale).

Die wêreld se grootste sokkertoernooi bereik in Julie sy hoogtepunt met die eindstryd wat op 19 Julie 2026 gespeel word.

Dié Wêreldbeker-sokkertoernooi is die eerste wat met 48 deelnemende spanne – teenoor die vorige toernooi se 32 – beslis word. Die toernooi speel in stadions in die VSA, Kanada en Mexiko af, met al die sokkeraksie, insluitend al die uitkloprondtes en halfeindstryde, wat op vier toegewyde opwipkanale op SuperSport beskikbaar is. 

5

Silo S3

Vanaf 3 Julie op Apple TV beskikbaar.

“ ’n Meesterklas in post-apokaliptiese wetenskapsfiksie,” lui Inverse se resensie van die derde seisoen van Apple TV se Silo. Die reeks is gegrond op die gelyknamige boeke deur die skrywer Hugh Howey, met die derde uittog wat voortgaan om die saga van ’n distopiese samelewing bestaande uit die laaste 10 000 mense op aarde te vertel. In dié verbeelde toekoms het die wêreld in duie gestort en die oorlewendes woon in ’n reuse ondergrondse silo. So is hulle glo veilig van die dodelike, giftige wereld buite die silo. Maar in dié distopia is daar diep verborge geheime met noodlottige gevolge wat wag op diegene wat vrae vra.

Rebecca Ferguson speel die hoofrol van Juliette, ’n ingenieur wat antwoorde soek oor ’n geliefde se dood. Sy beland dan binne-in ’n maalkolk van leuens en raaisels. Ook in die rolverdeling tel onder andere Rashida Jones, Tim Robbins, en David Oyelowo.

Die reeks is reeds vir ’n vierde – en laaste – seisoen hernu. 

6

Boer soek ’n vrou S18

Weeklikse episodes vanaf 23 Julie 2026 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Boer soek ’n Vrou se Reandi Grey is slaggereed met die nuwe oes boere wat in die 18de seisoen van dié gewilde maatsoekreeks na liefde soek. 

Met die aanvang van die nuutste seisoen ontmoet Reandi (en die kykers) vir die eerste keer al die boere op hul plase. In die daaropvolgende episode lewer sy hul briewe af, met kykers wat dus op Donderdag 30 Junie uitvind watter vyf boere se liefdesreis op TV gevolg gaan word.

Volgens Reandi is hierdie seisoen se boere “besonderse, unieke en andersoortige persoonlikhede”. Sy voeg by: “Wat die program so mooi maak, is dat dit nie saak maak wie jy is, wat jou agtergrond is en hoe jy dink oor die lewe of die liefde of die boerdery nie. Die feit van die saak is álmal soek ’n maat, iemand om die lewe mee te deel.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies