Menu terloops
In TV [24 Jun 2026]

‘Boer soek ’n vrou’: Reandi vertel wat jy van 18de seisoen kan verwag


‘Boer soek ’n Vrou’ se Reandi Grey is slaggereed met die nuwe oes boere wat in die 18de seisoen van dié gewilde maatsoekreeks na liefde soek. Sy vertel meer oor waarna kykers in dié seisoen kan uitsien.

Deur Redaksie
‘Boer soek ’n vrou’: Reandi vertel wat jy van 18de seisoen kan verwag

Dis sowaar byna tyd vir die 18de seisoen van kykNET se gewildste maatsoekreeks Boer soek ’n vrou. Die nuwe seisoen word weer vanaf Donderdag 23 Julie uitgesaai. En vanjaar se deelnemers het rede om hoopvol te wees, want sedert die eerste episode van dié reeks in September 2008 uitgesaai is, het baie boere ’n ware pasmaat gevind. Selfs al het van hulle al vir jare alleen op moedverloor se vlakte geboer…

Reandi Grey het in die 17de seisoen vir die eerste keer as aanbieder agter die Boer soek ’n vrou-bakkie se stuur ingeskuif en derduisende kilometers landwyd afgelê om die hoopvolles te leer ken. Met haar fyn sin vir humor en warmte vir die boere, het sy diep in sowel die boere as die kykers se harte geklim.

Daarom het dit net sin gemaak om haar weer deel van die nuwe oes boere se soeke na liefde te maak. 

Maar hoe het sy die eerste seisoen ervaar, en het sy dalk ’n waardevolle les of twee in die proses geleer?

Lesse geleer

“Die een ding wat ek geleer het, is dat jy rêrig jouself moet vertrou oor waar jy is in jou lewe. Dit maak nie saak wat die situasie is nie, jy gaan altyd iets hê om te gee.”

Wat haar gehelp het om die boere en voornemende pasmaats op hul gemak te stel, was om hulle daarop te wys dat hulle nie alleen hoef te voel nie, want dis ook haar eerste keer in die reeks. “Ons leer saam,” het sy graag vir hulle gesê.

“Nou, met die tweede seisoen, kon ek dit nie vir die deelnemers sê nie, maar ek kon vir hulle heelwat ánder dinge sê omdat ek nou weet hoe dit werk.”

Vir haar is dit belangrik dat die deelnemers moet besef dat hulle op die regte tyd op die regte plek is. “Moenie wens vir meer ervaring of dat jy op ’n ander plek moes wees nie. Elke plek waar jy is, is op ’n spesifieke tyd reg en dit kom met sy eie handige hulpbronne.

Boer soek 'n vrou, Reandi Grey
“Daar was ’n hele paar verrassings wat niemand sien kom het nie – en ek dink dit gaan vir die kykers ook baie lekker wees om te sien,” vertel Boer soek ’n vrou-aanbieder, Reandi Grey. Foto’s: Verskaf

“Jy moet die proses vertrou, ongeag of jy die boer of die pasmaat is. Balans is óngelooflik belangrik, en jy moenie dinge té vinnig probeer aanjaag nie. Maar moet ook nie op jou louere rus nie, want daar is net soveel tyd.”

En die nuwe seisoen?

“Daar was ’n hele paar verrassings wat niemand sien kom het nie – en ek dink dit gaan vir die kykers ook baie lekker wees om te sien,” sê sy. 

Maar oor wat daardie verrassings is, swyg sy natuurlik soos die graf.

Sy beskryf die tien boere as “besonderse, unieke en andersoortige persoonlikhede” en voeg by: “Wat die program so mooi maak, is dat dit nie saak maak wie jy is, wat jou agtergrond is en hoe jy dink oor die lewe of die liefde of die boerdery nie – die feit van die saak is álmal soek ’n maat, iemand om die lewe mee te deel.”

Hoekom bly ‘Boer soek ’n vrou’ so gewild?

“Eerstens omdat ons met boere werk – mense wat die sout van die aarde is. Tweedens werk ons met die liefde wat ’n universele taal is – iets wat almal wil hê en iets wat almal verstaan.

“Veral in vandag se tyd, waar alles meganies word, instant gratification, robotgedrewe, die spoed waarteen mense lewe en voel of hulle nie kan bybly nie – die landbougemeenskap is nie so nie. Dis nog kaalvoet-, plat-op-die-aarde, geduldige, rustige, liefdevolle mense wat nog tyd vir mekaar het en wat tyd maak vir mekaar. Dis die mense wat nog die sonsopkoms, die reuk van vars gesnyde gras, ’n oes en beesmis waardeer.

“Ek dink dis iets waarna so baie mense in 2026 hunker.”

Die boere vir die 18de seisoen is:

1. Arno (28) van Tzaneen, Limpopo

2. David (43) van Vierfontein, Vrystaat

3. Francois (34) van Hoedspruit, Mpumalanga 

4. Jack (30) van Hermanus, Wes-Kaap

5. Jacques (32) van Nelspruit, Mpumalanga

6. JD (28) van Reitz, Vrystaat

7. Junior (35) van Bethlehem, Vrystaat

8. Leandi (36) van Ventersdorp, Noordwes

9. Luan (26) van Strydenburg, Noord-Kaap

10. Willie (37) van Harrismith, Vrystaat


Boer soek ’n vrou word vanaf 23 Julie 2026 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies