Junior (35), gemengde boerdery by Bethlehem (Vrystaat), is een van die tien boere wat liefde in die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek ’n vroulike pasmaat.
In ’n neutedop:
Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: “Jag, sport, skiet en gholf.”
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
“Ek is 35 en kom nie juis op plekke waar ek ’n maat kan ontmoet nie. Al my vriende is getroud en daarom ontmoet ek ook nie regtig nuwe mense nie. So, ná 10 jaar van enkellopend wees, het ek gedink dalk is dit tyd om iets anders te probeer. Ek sien uit om my vrou te ontmoet en ons lewe saam te begin.”
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
“Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, aangesien ek nog nooit ’n ‘lysie’ gehad het of so ’n tipe mens is nie. In kort het ek ’n behoefte aan iemand wat my kan ondersteun en bystaan; iemand wat saam met my kan lag en die natuur geniet. Ek het geleer wat vir my belangrik is, is intelligensie, balans tussen werk en sosiaal en ’n gesonde geestelike lewe.”
Hoe sal jy jouself beskryf?
“Ek is my lewe lank ’n boer en ’n leier in die gemeenskap waar ek my bevind. Ek is ’n vriendelike mens, maar kan baie streng en reguit oorkom. Ek geniet die natuur en speel graag gholf in die somer as ek tyd kry. In die winter geniet ek sportskiet en jag. Ek is ’n gedrewe besigheidsmens en is so ’n bietjie getroud met my plaas.”

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
“Ek het geleer dat as dinge net van een kant af kom, dit nie kan werk nie. ’n Gesonde verhouding het ’n gesonde balans. Ek het ook geleer dat mens dit nie kan ryp wens of druk nie. As die tyd nie reg is nie, sal dit nie werk nie. Ek het geleer om op my instink te vertrou en nie redes te soek hoekom ek reg of verkeerd is nie, maar eerder te vertrou op wat ek weet en voel. Vertroue word verdien en is nie vanselfsprekend nie.”
Sien jy jouself as romanties?
“Ek is ’n baie logiese mens, en romanse kom nie altyd maklik vir my nie. Maar die regte persoon kan my romantiese kant uitbring. In die verlede is my romantiese gebare nie altyd goed ontvang nie. Dus moet ek maar versigtig wees.”
Wil jy vir Junior skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.
Soos voorheen sal voornemende pasmaats vir die boere briewe kan skryf of hul belangstelling in die boere op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.