Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit (Mpumalanga), is een van die tien boere wat liefde in die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek ’n vroulike pasmaat.
In ’n neutedop:
Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: MSc in Bewaringsekologie
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Branderplankry, rugby, reis, natuurbewaring
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou? “Ek is al vir drie jaar enkellopend. Nadat ek onlangs teruggetrek het Suid-Afrika toe ná afloop van drie jaar se natuurbewaringswerk in Suid-Soedan, wil ek graag weer begin date. Ek stel gewoonlik belang in intelligente dames wat hul eie loopbaan het, maar dit verg gewoonlik dat hul in ’n stad moet woon. Ek glo Boer soek ’n vrou is ’n uitstekende platform om iemand te ontmoet wat al daardie kwaliteite het en tog gelukkig sal wees om by my lewensomstandighede te kan inpas.”
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
“Onafhanklik, intelligent, aktief, bereid om in afsondering te woon en iemand wat my laat lag en gemaklik voel.”
Hoe sal jy jouself beskryf?
“Ek is hoof van natuurbewaring op ’n wildreservaat en het ’n meestersgraad in natuurbewaring. Ek is baie aktief en geniet hardloop, middae ná werk, en om vir ’n paar ure langs die rivier op die reservaat te gaan stap en wild, waaronder olifante, te besigtig.
“Ek is oorspronklik van die Wes-Kaap, en in my vrye tyd ry ek graag branderplank. Ek geniet dit om oorsee te gaan reis, veral vir sport. Ek het beide die Rugby Wêreldbeker in 2023 en die Olimpiese Spele gaan bywoon in Frankryk. Volgende jaar beoog ek om saam met die bulle te gaan hardloop in Pamplona.”

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
“Moenie verander wie jy is vir iemand nie. Ek moes in ’n vorige verhouding kies tussen trek oorsee vir iemand, wat sou beteken het dat ek ’n nuwe loopbaan moet begin, of ek moes bly en my werk in natuurbewaring behou. Ek het besef my loopbaan is soveel deel van wie ek is as mens. Ek sou daardie deel van myself verloor het indien ek die besluit geneem het om oorsee te gaan.”
Sien jy jouself as romanties?
“Met die regte persoon, ja. My eerste meisie het ek uitgevra deur ’n vraagteken met dryfhout op die strand te pak en dit aan die brand te steek. Ek dink dit is waarskynlik meer moeite as wat meeste ouens maak om iemand te vra om met hulle te trou. Ek geniet ook klein goedjies soos om ontbyt te maak vir iemand of verrassings.”
Wil jy vir Francois skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.
Soos voorheen sal voornemende pasmaats vir die boere briewe kan skryf of hul belangstelling in die boere op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.