Menu terloops
In Fokus [19 Nov 2026]

Skokwending in ‘Kokkedoor: Klassiek’ haal die wind uit spanne se seile


’n Onverwagte onttrekking het die jongste episode van kykNET se ‘Kokkedoor: Klassiek’ op sy kop gekeer. Nadat Maradine weer siek geword en besluit het om die kompetisie te verlaat, moes die beoordelaars ’n onthoukok huis toe stuur om die balans tussen die twee groepe te behou. Intussen het Barbara en Janie die episode se uitdaging gewen.

Skokwending in ‘Kokkedoor: Klassiek’ haal die wind uit spanne se seile

Daar was behoorlik gebak en gebrou in die jongste episode van die kykNET-koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Klassiek (DStv-kanaal 144), waar brood die middelpunt van ’n veeleisende uitdaging geword het. 

Vir die 18 oorblywende Kokkedore het ’n plaasbrood en twee smere ’n toets van tegniek, geduld en spanvertroue geword. Met net drie uur tot hul beskikking moes hulle elke besluit, van die deeg se rystyd tot die smaakbalans van die smere, met sorg neem.

Ná George Bergh en Paul Theron die eerste deelnemers was wat in die vorige episode huis toe gestuur is, het die nege oorblywende spanne na die plaaskombuis teruggekeer.

Beoordelaars Herman Lensing en Jess van Dyk het Ricardo Slawers verwelkom. Ricardo is die land se eerste broodsommelier en hoofbakker by La Motte-wynlandgoed in Francshhoek.

Sy opdrag aan die spanne was om ’n plaasbrood, ’n moderne vertolking van hoenderlewerpatee en ’n soet smeer met vrugte voor te berei. Met net drie uur tot hul beskikking moes hulle elke besluit, van die deeg se rystyd tot die smaakbalans van die twee smere, met sorg neem.

Die uitdaging het tradisionele geure en kreatiewe interpretasie op dieselfde tafel saamgebring, met tyd wat deurgaans ’n belangrike faktor gebly het.

Terwyl die spanne met rystye, oondhitte en die beperkte tyd geworstel het, het een besluit die grootste wending van die dag gebring.

’n Onverwagte besluit

Maradine Whitehorn het besluit om die kompetisie te verlaat terwyl die uitdaging nog aan die gang was. Nadat sy in die loodsepisode onwel gevoel het en moes terugstaan, het sy in die tweede episode teruggekeer. Haar onverwagse keuse om in hierdie episode te groet het as ’n skok vir die Kokkedore gekom.

Sy het verduidelik dat die druk haar oorweldig het en dat sy ook gevoel het dat haar spanmaat, Ansebé Pieterse, iemand verdien wat haar honderd persent kon ondersteun. 

Ansebé moes die uitdaging alleen klaarmaak. By die proetafel is sy geloof omdat sy die brood en albei smere op haar eie kon voorsit.

Herman en Jess se terugvoer

Ansebé Pieterse (alleen): Die beoordelaars het haar brood se kors en haar vasbyt geprys, maar die middel was styf en sy kon meer sout gebruik het. Die suurlemoen in een van haar smere het oorheers terwyl die hoenderlewerpatee ook fyner gesif kon wees.

Elsie Botha en Hanroe Erasmus: Die soet smeer se nostalgiese geur en tekstuur het beïndruk. Die brood het egter nie lank genoeg gerys nie en was te styf in die middel. Die patee en jellie het meer lof gekry.

Stephanie Grobbelaar en Ruan Swanepoel: Die membrillo se tekstuur het tekortgeskiet en die gemmer-en-sitrusgeur was te sterk. Die patee en jellie is geprys, asook die brood se fyn krummel.

Chanél Cloete en Karen du Plessis: Die brood se kors was te sag en het nie genoeg in die oond gerys nie. Die lewermoes se idee was slim, maar die lewersmaak was te sterk; die appelmoes was ook te lig.

Diana Bibbey en Zani Bormann: Die beoordelaars het hulle daaraan herinner dat die opdrag twee smere en ’n brood gevra het, nie ’n vrugtebord nie. Hulle het ook gevoel dat die brood met meer sout sou baat.

Barbara Kemp en Janie Lottering: Hul brood was goed gebak, al kon dit meer sout gebruik het. Die lewermoes was veerlig en die soet smeer was een van die lekkerstes wat die beoordelaars op brood geproe het. Die span het die goue middeweg tussen ’n kinkelkok en ’n onthoukok gevind.

Milandré Braaf en Kheenan Douman: Kheenan se patee het wêreldklas-lof gekry en die vrugte in die soet smeer het deurgekom. Die brood was egter nie geslaagd nie en hul spanning het in die eindresultaat gewys.

Dewald Herbst en Mishka Brink: Ouma se resep alleen was nie genoeg om die uitdaging die hoof te bied nie. Hulle het saam met Kheenan en Milandré onder die spanne beland wat vir die uitslag moes wag.

Douglas Botha en Jeanette Relling: Die brood en patee het ’n sterk indruk gemaak. Die soet smeer het die beoordelaars verdeel: die geur is aanvanklik geprys, maar later as bitter en suur beskryf. Die span was steeds onder die drie wat veilig was.

’n Kinkel vir ’n onthoukok

Drie spanne het met hul brood en smere bo die res uitgestyg: Janie en Barbara, Douglas en Jeanette, en Stephanie en Ruan.

Uiteindelik was dit Janie en Barbara wat die beoordelaars beïndruk en koning gekraai het.

Kheenan en Milandré, asook Dewald en Mishka, was die twee onderste spanne. Maradine se onverwagse vertrek het die balans tussen die kinkelkokke en onthoukokke versteur.

Omdat ’n kinkelkok reeds die kompetisie verlaat het, moes die beoordelaars dié keer ’n onthoukok groet om die getalle tussen die twee groepe gelyk te hou.

Dewald en Milandré was die onthoukokke in die onderste spanne. Dewald is veilig verklaar, maar Milandré moes haar voorskoot ophang.

Wat as ’n toets van basiese kombuiskuns begin het, het uiteindelik gewys hoe spanwerk, deursettingsvermoë en een deelnemer se besluit die verloop van die kompetisie kan verander.

Nuwe spanne

Toe verras Herman en Jess die deelnemers met die nuus dat daar nuwe spanne saamgestel gaan word. Die vars kombinasies bring ’n nuwe dinamiek na die Kokkedoor-kombuis. 

  • Hanroe en Diana
  • Zanie en Jeannette
  • Karen en Ansebé
  • Douglas en Chanél
  • Kheenan en Stephanie
  • Dewald en Janie
  • Mishka en Elsie
  • Ruan en Barbara

Kokkedoor: Klassiek word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies