Menu terloops
In TV [24 Nov 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ S18: Vir Jack se pasmaat sal daar altyd blomme in die huis wees


“Ek soek na iemand wat my uitdaag en met wie ek kan groei; iemand wat hul eie stempel kan afdruk,” deel ‘Boer soek ’n vrou’ se Jack.

‘Boer soek ’n vrou’ S18: Vir Jack se pasmaat sal daar altyd blomme in die huis wees
Kyk lokprent

Jack (30), ’n appel- en peerboer, Hermanus (Wes-Kaap), is een van die tien boere wat liefde in die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek ’n vroulike pasmaat. 

In ’n neutedop:

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Studeer tans aan ’n BSc Landbou-graad
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: “Natuur, diere, tuinbou, sport en gesondheid, wetenskap en die gemeenskap.”

Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?

“Ek wil graag myself vestig op die nuwe plaas met ’n beste vriendin. En die program lyk boonop soos groot pret.”

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?

“Spreuke 27:17 sê dit vir my die beste. Ek soek na iemand wat my uitdaag en met wie ek kan groei; iemand wat hul eie stempel kan afdruk; iemand sportief en slim wat ook hou van lekker lag, dans, uitdagings en kattekwaad aanjaag.”

Hoe sal jy jouself beskryf?

“Ek en my pa is tans besig om ’n tweede plaas te ontwikkel en die regte rigting te vind waarin ons dit volhoubaar en winsgewend kan maak. In my werk met tuinontwerp is my fokus daarop om lewende ekosisteme te bestuur en mense nader aan die natuur te bring. 

“Ek stel belang in die wetenskap agter gesondheid en persoonlike ontwikkeling. Ek oefen intensief – van sterkmankompetisies tot hardloop en funksionele fiksheid. Rugby gee my die kans om jong spelers af te rig, gemeenskappe te versterk en mense byeen te bring. My liefde vir die natuur lê in biodinamiese denke: om nie teen die natuur te werk nie, maar saam met dit. 

“Van my stokperdjies is: Iron Man (amateur), om hoenders te skou, proteas te kweek, rugby-afrigting, gemeenskapsdiens en visvang.”

Boer soek 'n Vrou S18 Jack
“Dit is belangrik om vir jou maat die goed te kan sê wat hulle nie wil hoor nie en wat niemand anders vir hulle kan vertel nie,” meen boer Jack. Foto’s: Verskaf

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?

“Liefde is nie altyd genoeg nie. Waardes, leefstyl, kultuur en geloof is faktore wat ook in ag geneem moet word. Wat gebeur in jou verhouding of wat gesê word in jou verhouding, bly in jou verhouding. As daar ’n probleem is, sorteer dit uit. Dit maak nie saak hoe moeilik daardie gesprek is nie. En ook hoe die probleem uitgesorteer word, is belangrik. 

“Hulle moet ook jou gat kan skop as jy van die pad dwaal of aanjaag. Dit is belangrik om vir jou maat die goed te kan sê wat hulle nie wil hoor nie en wat niemand anders vir hulle kan vertel nie.” 

Sien jy jouself as romanties?

“Ja! Ek hou daarvan om aan die klein goedjies te dink en goed te doen wat my maat laat weet ek neem hulle in ag en ek dink aan hulle. Ek is daardie ou wat seker maak daar is blomme in die huis en verras haar sommer om op ’n trippie te gaan sonder om dit vooraf te bespreek. Maar hierdie weergawe van myself sal ek net met die regte persoon deel.”

Wil jy vir Jack skryf?

Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.

Soos voorheen sal voornemende pasmaats vir die boere briewe kan skryf of hul belangstelling in die boere op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys. 

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Besoek www.kyknet.tv
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
  • Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
  • Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
    Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom. 


Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies