Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen (Limpopo), is een van die tien boere wat liefde in die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek ’n vroulike pasmaat.
In ’n neutedop:
Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Graad in Bedryfsielkunde
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: “Ek is ’n praktiese en hardwerkende man wat hou van die buitelewe, sport en die landbou-omgewing. Ek is gesins- en geloofsgeoriënteerd en glo dat ware liefde gebou word op vertroue, God en diens aan mekaar. Ek is op soek na iemand wat saam met my my geloof en waardes kan deel. Iemand met ’n sagte hart, eerlikheid, lojaliteit en selfvertroue. Ek geniet die eenvoudige dinge in die lewe. ’n Sonsopkoms met ’n koppie koffie, ’n aandvuur met goeie geselskap en die vrede wat kom wanneer mens weet jy is presies waar God jou wil hê.”
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
“Ek het ingeskryf omdat ek op ’n plek in my lewe is waar ek regtig gereed is om ’n maat te ontmoet saam met wie ek ’n toekoms kan bou. Ek glo dat liefde en verhoudings met God in die middel begin, en ek soek iemand wat saam met my dié pad wil stap. Ek verlang na ’n egte, eenvoudige en eerlike verhouding. Iemand wat my waardes deel, wat saam met my kan groei en die mooi en die uitdagings van die lewe saam met my kan dra.”
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
“Ek soek ’n vrou met ’n sagte en liefdevolle hart, een wat God eerste stel in haar lewe. Sy moet eerlik, opreg en lojaal wees. Iemand wat saam met my in geloof en liefde wil groei. ’n Maat wat die natuur en eenvoud waardeer en my as mens aanvul.”
Hoe sal jy jouself beskryf?
“Ek is ’n gewone ou wat hou van die buitelewe, sport en eenvoudige dinge. My geloof is vir my belangrik, en ek probeer altyd reg leef. Ek’s lojaal en gee baie vir die mense om my. Ek hou daarvan om te lag, hard te werk en deur te druk as dinge moeilik raak.”

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
“Die belangrikste les wat ek uit vorige verhoudings geleer het, is dat liefde sonder God in die middel nie hou nie. Ek het ook geleer dat eerlikheid, vertroue en konsekwente respek vir mekaar ononderhandelbaar is. Ek weet nou hoe belangrik dit is om jou maat se hart te beskerm, geduldig te wees en nooit liefde as vanselfsprekend te aanvaar nie.”
Sien jy jouself as romanties? Hoekom/hoekom nie?
“Ja, ek sien myself as romanties, maar op ’n eenvoudige en egte manier. Vir my gaan dit oor die klein dinge. Om my maat te verras met aandag en moeite; om haar spesiaal te laat voel en altyd my liefde te wys deur dade eerder as net met woorde.”
Wil jy vir Arno skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.
Soos voorheen sal voornemende pasmaats vir die boere briewe kan skryf of hul belangstelling in die boere op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.