Menu terloops
In TV [21 Nov 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ S18: Boer JD hoop om ‘ ’n sterk vrou met ’n sagte hart’ vir lewe saam op die plaas te vind


“Ek het baie liefde om te gee, en ek verlang na ’n maat wat my kan liefhê vir wie ek is, en wat saam met my ’n lewe wil bou – nie net in die hart nie, maar ook op die grond,” vertel ‘Boer soek ’n vrou’ se JD.

‘Boer soek ’n vrou’ S18: Boer JD hoop om ‘ ’n sterk vrou met ’n sagte hart’ vir lewe saam op die plaas te vind
Kyk lokprent

JD (28), gemengde boerdery by Reitz (Vrystaat), is een van die tien boere wat liefde in die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek ’n vroulike pasmaat. 

In ’n neutedop:

Huistaal: Afrikaans 
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek 
Huwelikstatus:  Ongetroud, geen kinders 
Belangstellings: “Braai, Springbok-rugby, gholf, visvang en om rustig in die natuur te wees.”

Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?

“Ek het ingeskryf omdat ek opreg hoop om iemand te ontmoet wat saam met my hierdie lewenspad op die plaas kan stap. Die plaas is nie net my werk nie – dis my leefwyse, my passie en my tuiste. Dis nie altyd maklik om iemand te vind wat werklik verstaan en waardeer wat die plaaslewe behels nie – die harde werk, die stilte, die eenvoud, maar ook die vrede en die ongelooflike vreugde wat dit bring. 

“Ek het baie liefde om te gee, en ek verlang na ’n maat wat my kan liefhê vir wie ek is, en wat saam met my ’n lewe wil bou – nie net in die hart nie, maar ook op die grond. Iemand wat nie net lief is vir my nie, maar ook vir die plaas, die diere en die rustigheid van die platteland. 

“Ek glo in opregtheid, in goeie geselskap rondom ’n vuur en in hande wat saamwerk deur seisoene van droogte en oorvloed. Dis hoekom ek hier is – in die hoop om daardie een spesiale persoon te vind wat my wêreld sal verstaan en aanvul.” 

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?

” ’n Sterk vrou met ’n sagte hart. ’n Vrou wat ’n kind van die Here is, op die plaas kan aard, na haarself kyk, liefde kan gee en ontvang, my ondersteun deur goed en sleg, eerlik is en gereed is om saam ’n gesin te begin.” 

Hoe sal jy jouself beskryf?

“Ek is ’n boer in murg en been. My hart en siel lê in die grond waarop ek grootgeword het. Ek is die vierde generasie op ons plaas, en om hier te boer is al wat ek nog ooit wou doen. Boerdery is nie net my beroep nie – dis my roeping en my grootste passie. 

“Al was die pad nie altyd maklik nie, is dit my droom om die plaas van krag tot krag te neem en eendag saam met my seun voetspore te los op dieselfde grond. Ek is nie ’n man van baie woorde nie, maar wat ek sê, bedoel ek. 

Boer soek 'n Vrou S18 JD
“Ek’s gemaklik met myself, geniet lag en geselskap, en is nie iemand met issues nie. Geloof is vir my die fondament van alles,” vertel boer JD oor homself. Foto’s: Skermgrepe

“Ek het ’n sagte hart, en dit vat baie om my kwaad te kry. Ek is ’n familiemens wat elke oomblik saam met my geliefdes koester. Tyd saam met mense wat vir my belangrik is, dra ek naby aan my hart. Ek is ook diep verbind aan die natuur. Van kleins af het ek langs die rivier oorleef – visgevang, kos self gevang – en vandag nog is die veld en die aarde my speelgrond. 

“Ek hou van jag, visvang, kamp en eenvoudig net buite wees. Ek’s gemaklik met myself, geniet lag en geselskap, en is nie iemand met issues nie. Geloof is vir my die fondament van alles. ’n Boer moet kan glo – glo vir reën, vir groei, vir uitkoms. Ek vertrou op die Here vir elke druppel uit die hemel en elke put in die grond. Sonder Hom is ek niks.”

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?

“Ek was vir vier jaar lank in ’n ernstige verhouding, waarvan ons twee jaar verloof was. Ongelukkig het dit op ’n seer manier geëindig. Dit het my hart gebreek, maar ek het ook ’n waardevolle les geleer: Die plaaslewe is nie vir almal nie. Ons bly tussen niks en nêrens. Dis ’n eenvoudige maar uitdagende lewe, en nie elke mens is gemaak vir hierdie stilte nie. 

“Ek het besef dat ’n vrou nie net liefde vir my moet hê nie, maar ook ’n passie vir die plaas. Sy moet self gelukkig kan wees hier, haar eie vrede vind en bereid wees om saam te staan deur die goeie én die moeilike tye. Ek kan nie iemand hier hou wat nie regtig hier wil wees nie. Sy moet kies om deel van hierdie lewe te wees. Ek het ook geleer dat ware geluk van binne af begin. 

“As jy nie gelukkig is met jouself nie, gaan jy dit nie in iemand anders vind nie. Liefde alleen hou nie iemand op die plaas nie. Dit verg deursettingsvermoë, aanpassing en ‘n hart vir hierdie lewe.” 

Sien jy jouself as romanties?

“Nie op die tradisionele manier van blomme koop en piekniek hou nie. Ek is ’n plat-op-die-aarde boer wat dalk sommer op die ingewing van die oomblik vir jou ’n veldblommetjie sal pluk – nie omdat dit beplan is nie, maar omdat ek aan jou dink. 

“Ek is nie die beste met voorafbeplanning en afsprake reël nie, maar gelukkig het ek ’n oulike ma en sussie wat my soms help met daardie tipe goed.”

Wil jy vir JD skryf?

Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.

Soos voorheen sal voornemende pasmaats vir die boere briewe kan skryf of hul belangstelling in die boere op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys. 

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Besoek www.kyknet.tv
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
  • Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
  • Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
    Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom. 


Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies