In 2016 is drie afsprake vir sesuur die aand gemaak. En toe, drie moorde.
Van die begin af, het hierdie storie anders gevoel, soos raaisels in ’n Hollywood-riller. Dís hoe ons klomp joernaliste, wat saam-saam op die rookstoep voor die hof tydens die verhoor saamgedrom het, dié storie beskryf het. Die storie van moord en kultusse en kinders wat hul onskuld met hande vol bloed verloor het.
Sedertdien is die aangrypende waremisdaadreeks, Devilsdorp, oor dié moorde gemaak. Christiaan Boonzaaier beskryf Showmax se eerste oorspronklike waremisdaadreeks as “wêreldklas” terwyl die resensent Leon van Nierop skryf dat Devilsdorp “is bepaald een van die mees vernuwende, maar ook briljant gekonstrueerde dokumentêre wat nog in Suid-Afrika gemaak is.”
‘Dis real life dié’
Net soos die verslaggewing vir ons, is die reeks nie vir floumoediges nie. Dis real life dié. Van wedergeboortes en satanisme, tot bisarre leuens, verraad en moord – dit word als in besonderse detail in die dokumentêr uiteengesit. Wie presies is die meesterbrein agter die string moorde van 2012 tot 2016? En hoekom? Hoekom sou hulle so iets doen? Die feite oor die 11 moorde wat uiteindelik met Cecilia Steyn, hoof van die kultus Electus per Deus, verbind is, word op senutergende maniere oor die loop van vier uur lange episodes uitgestippel. Elke onderhoud met kenners, familielede en speurders laat jou nekhare rys. Cecilia, asook haar volgelinge Marinda Steyn, Marinda se kinders, Le Roux en Marcel, Zak Valentine en John Barnard, is nou agter tralies. Marcel was ’n skamele 14 jaar oud toe die moorde begin het.
‘You never saw it coming’
Die storie was ’n raaisel binne raaisels binne raaisels. You really never saw the next thing coming – veral nie dat een van die joernaliste, een van die mense saam met my in die hofbanke, op ’n beskuldigde sou verlief sal raak nie. Dít het ons wat saam oor die storie berig het se monde laat oophang toe ons daarvan te hore kom. Ek onthou ’n “het jy gehoor?”-oproep een middag van ’n multimedia-joernalis wat destyds saam met my op die storie gewerk het. Ek kon dit nie glo nie. Ek dink as jy toe al die storie gevolg het, of selfs as jy nou die dokumentêr kyk, is dit moeilik om te verstaan hoe iemand, met al die feite voor hulle, steeds sou kies om met ’n moordenaar in ’n verhouding te wees.
“Onthou jy hoe ons altyd gesê het, ‘jy kan nie hierdie goed script nie’? Well, I guess they did,” sê Marizka Coetzer, wat op die beskuldigde Le Roux Steyn verlief geraak terwyl sy oor sy wandade berig het.
Ek het vir Marizka in Krugersdorp ontmoet toe ek ná die moord van die tweede slagoffer in 2016, Kevin McAlpine, dié Wes-Rand dorp vir die eerste keer besoek het. Sy het vir ’n plaaslike koerant in Krugersdorp gewerk, terwyl ek deel van die Beeld-redaksie in Johannesburg was.
Onthou jy hoe ons altyd gesê het, ‘jy kan nie hierdie goed script nie’? Well, I guess they did.
Marizka Coetzer
Ek kom self van ’n plaaslike koerantagtergrond en het geweet sy sou ’n goeie plaaslike kontak wees. Gemeenskapskoerante se joernaliste ken hul gebied, ken hul mense – hul kennis is ’n groot bate as jy as ’n buitestaander moet verslag doen. Marizka was dus altyd ’n tree of vyf voor almal en het baie aandag aan die saak gegee. Ons almal was maar ’n bietjie obsessief, juis omdat daar altyd nuwe, interessante, soms absurde inligting op die lappe gekom het. Maar niemand het die saak só fyn dopgehou soos Marizka nie – én sy was altyd bereid om te help.

Die mens agter die moorde
Sy was net Marizka, en hy net Le Roux toe sy die mens agter die moorde leer ken het, sê sy nou. Marizka en ek gesels oor hoe sy vir baie lank gevoel het asof sy mense in die steek gelaat het. Dit het haar jare gevat om weer op ’n professionele – en persoonlike – vlak vertroue in te boesem. Nietemin is sy nie vir ’n enkele dag spyt oor hoe dinge uitgedraai het nie.
“Hoe meer ek met hom gesels het, hoe meer het ek die seer en pyn gesien. Dit het vir my die mens agter die moorde laat sien, en hy is regtig iemand wat loyal is. As ek met hom gesels het, was hy altyd ’n old school gentleman. Dít het juis vir my uitgestaan, want jy verwag nie dat ’n moordenaar sulke goeie maniere sal hê nie,” sê sy laggend. Marizka het sedertdien die verhouding beëindig.
Ek sal nooit vergeet hoe Marcel en Le Roux in die hof gelag het toe daar na ’n foto, waarin Marcel glo saam met die lyk van Hanlé Lategan pose, verwys is. Dié absolute minagting vir ’n lewe is iets wat in die dokumentêr baie slim uitgebeeld word. “Bid, ek gaan jou doodmaak,” het Marinda aan ’n slagoffer gesê voordat sy die daad gepleeg het. Hoe kan ’n mens so koelbloedig wees? Ek sal dit nooit kan verstaan nie, maar tog voel jy teen die einde van die dokumentêr effens jammer vir Marcel, wat toe net ’n kind was en deur die volwassenes in haar lewe manipuleer is. Marcel se betrokkenheid was een van die vroeë en groot skokke, juis weens haar ouderdom. Sy het matriek met ses onderskeidings geslaag. Tussendeur huiswerk het sy moord gepleeg. Dit laat jou vinnig besef dat jy nie regtig die persoon langs jou in die kantoor – of in die skoolbanke – ken nie.
Hoe meer ek met hom gesels het, hoe meer het ek die seer en pyn gesien. Dit het vir my die mens agter die moorde laat sien.
Marizka Coetzer
Al het ek reeds oor die afspraakmoorde berig voordat die misdade aan mekaar gekoppel is, het die dokkie-reeks my voete weer onder my uitgeslaan. Die manier hoe die storievertellers die stukke van die legkaart laat pas, is so briljant as wat dit vreesaanjaend is. Die donker beligting in die dokumentêr dra by tot die creepy gevoel van die inhoud. En die onderhoude en beeldmateriaal gee jou baie meer insig, juis omdat die storie meestal chronologies vertel word.
“Ek dink die manier hoe dit vertel is, het die saak, die families en al die ander inligting, op só ’n manier vasgevang dat dit mense intrigue het. Mense raak bang vir goed wat hulle nie ken of verstaan nie en hierdie storie, met sy oneindige raaisels, hou mense aan die wonder. Of hulle nou bang is of nie, hulle wíl nog weet.”
’n Herlewing van tragedie
Om die families te sien praat oor hul geliefdes, het my onmiddellik in 2016 teruggeplaas.
Ek onthou hoe ek met ’n gebroke en sewe maande swanger Kezia McAlpine moes gesels kort nadat haar man vermoor is.
Ek onthou hoe stukkend sy was toe sy 10 weke ná sy dood aan hul eersteling geboorte geskenk het.
Ek onthou hoe ek die dag wat Hanlé se liggaam gevind is, by haar huis gaan aanklop en haar verstomde familie vir kommentaar gevra het.
Ek onthou die brief wat Jandré Lategan aan sy vermoorde ma geskryf het en hoe ek stil-stil by my lessenaar gehuil het toe ons dit publiseer.
Hierdie is goed wat jy nooit vergeet nie. Toe ek daardie gesigte ná jare weer in die dokumentêr sien, het dit soos gister gevoel, al is dit vyf jaar later. Die emosie wat die kameras vasgevang het, neem jou terug na dáái dag, dáái getuienis. Jy sien wéér die pyn. Jy onthou die pyn. Jy voel weer die smart wat die slagoffers se families vir ewig met hulle saamdra.
Al het Marizka op ’n beskuldigde verlief geraak, is sy die eerste om te erken dat sy van voor af kwaad geword het toe sy die dokumentêr die eerste keer gekyk het.
“Toe ek dit sien, het ek die storie herleef en al daardie emosies wat ek destyds gevoel het, het teruggekom. Ek was kwaad dat so iets kon gebeur en dat mense so gevoelloos teen ander kan wees.”
Die reeks verskaf antwoorde vir baie van die raaisels, maar Marizka sê daar is nog elke week inligting wat na vore kom – dalk kry ons een van die dae ’n opvolg?
Kyk op Showmax.
Lees meer

Devilsdorp
Op Showmax

‘The Station Strangler,’ ‘Dr. Death’, ‘Catch Me a Killer’, ‘Devilsdorp’, en meer: 19+ programme wat diep die donker in delf
Van ‘Rosemary’s Hitlist’ en ‘Boetie Boer’ tot ‘Die Byl’ en ‘Dr. Death’… En nou ook die onthutsende ‘The Station Strangler’: dié TV-programme sal jou nekhare laat rys.
Meer
Showmax 101: Als wat jy van die ‘nuwe’ Showmax moet weet
Iets wat jy oor die nuwe, beter, en goedkoper Showmax wil weet? Dié handige gids is net wat jy nodig het.
Meer