Menu terloops
In Redakteurskeuse [2 Sep 2026]

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie


Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, ‘Slow Horses’, tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en ‘Tweespalt’, ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Deur Redaksie
Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Hier is ons voorstelle vir wat om vandeesmaand te kyk.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Herman se erfenistafel

Herman se erfenistafel

Dié spesiale episode word op 19 September om 19:00 uitgesaai met heruitsendings op 20 September om 21:00, 23 September om 20:00 en 24 September om 21:00.

As ekstra bederf kry kykers ’n spesiale bonusepisode van die baie gewilde reeks Herman se halfuur. Herman Lensing vier Erfenismaand met Herman se erfenistafel – ’n tafel vol bekende geure, onthoukos en vars kinkels. Op die spyskaart is onder meer komkommerstolslaai, aartappels met bier, gebraaide preie met roomsous, vark-en-pekaneutterrien, Toeka se tasselvleis en ’n plat lamsboud van die vuur af.

Tafel-toere

Die reeks van vyf episodes begin op 16 September en word Woensdae om 18:00 op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

In die nuwe reeks Tafel-toere reis die akteur François Jacobs saam met Round Table Southern Africa na verskillende dorpe en gemeenskappe om beide hul mooi én hul uitdagings te ondersoek.

Elke episode begin by dit wat ’n plek besonders maak en beweeg dan nader aan ’n plaaslike behoefte en só ook die mense wat reeds werk om ’n verskil te maak. François kyk nie bloot van die kantlyn af nie: hy spring ook in, help met die projek en ontmoet die gemeenskapslede wie se lewens daardeur geraak word.

Sy, die meeue en die Heilige Gees 

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag 22 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Sy, die meeue en die Heilige Gees is ’n karaktergedrewe ontdekkingsreis van ma-wees en bekering. In die hoofrolle speel Simone Nortmann as Ingrid, Mila-Sofi Clasen as Zoey en Evan Hengst as Simon. Die ondersteunende rolverdeling sluit onder andere Cintaine Schutte, Albert Pretorius, Ira Blanckenberg en Marion Holm in.

Die storie draai hoofsaaklik om Ingrid – ’n ma wat omtrent enigiets kan laat werk. En ás iets nie werk nie, probeer sy harder. Of trek. Of begin oor. Maar om die enkelma van die snipperige sesjarige Zoey te wees, is die een ding waarop sy net nie ’n houvas kan kry nie. En Ingrid is lief vir Zoey. Verskriklik lief. Dis net dat die moeilikheid van ma-wees soms swaarder weeg as die lekkerte.

Met die hoop op ’n nuwe begin beland Ingrid en Zoey in Vishoek, maar ’n mens kan ongelukkig nie alles wat seer is in bokse pak en in ’n ander dorp gaan uitpak nie. 

Maar Vishoek bring meer as net ’n nuwe begin. Tussen die see en die meeue, vreemde mense wat vriende word en ’n geloof wat eers ongemaklik aan haar kom sit, begin Ingrid se hart stadig oopgaan vir die moontlikheid dat sy nie alles self hoef te dra nie. 

Tweespalt 

Weeklikse episodes vanaf Woensdag 9 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Tweespalt ondersoek een van rugby se grootste wedywerings deur ’n unieke Suid-Afrikaanse lens. Die reeks is vervaardig deur IdeaCandy met regie deur Janina Oberholzer

Tweespalt is ’n verhaal oor die ondersteuners van die Springbokke en die All Blacks, saam op dieselfde bodem, maar nie verenig deur sport nie. Die reeks delf diep in identiteit, lojaliteit, geskiedenis en verdeeldheid. Hoekom ondersteun soveel Suid-Afrikaners die All Blacks met soveel passie? 

Deur onderhoude met oudspelers, joernaliste en ondersteuners, ontbloot die reeks dekades van spanning gevorm deur apartheid, politiek en persoonlike oortuigings. Deur ikoniese wedstryde en rou persoonlike stories wys dié dokumentêr ’n wedywering wat baie verder strek as wat die telbord weerspieël.

Die Bom

Weeklikse episodes vanaf Woensdag 23 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Die wêreld was nog nooit so naby aan ’n kernoorlog soos nou nie. Die sogenaamde “Doomsday Clock” staan op 85 sekondes voor middernag. Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat sy eie kernbomme gebou en toe vrywillig gedemonteer het. 

Dié verhaal is een van uiterste geheimhouding, spioenasie, terreur en politieke intrige. Daar word ook gekyk na die land se kernkragprogram en die rol van die Koeberg-kernkragsentrale. 

Pieter Steyn, ’n joernalis en dokumentêre filmmaker met meer as 20 jaar se ervaring, ondersoek verskeie kwessies in dié reeks, insluitend bekommernisse oor Namakwaland, waar Suid-Afrika se kernafval gestort word; vrae rondom radioaktiwiteit wat in Australiese skape opgemerk is, en wat van die hoogs verrykte uraan geword het wat in ons land se bomme was. 

Neagley 

Vanaf Woensdag 16 September op Prime Video beskikbaar. 

Dié is ’n spin-off van die uiters gewilde Reacher-reeks. Reacher, met Alan Ritchson in die hoofrol, is een van Prime Video se gewildste en mees suksesvolle reekse, so ’n spin-off was eintlik te verwagte. 

Neagley draai om Frances Neagley (Maria Sten), ’n private speurder in Chicago en ook een van Jack Reacher (Ritchson) se voormalige militêre protégés. As sy dan leer ’n geliefde vriend uit haar verlede is dood in ’n verdagte ongeluk, sweer sy om geregtigheid te laat geskied. 

Slow Horses S6

Vanaf Woensdag 16 September op Apple TV beskikbaar. 

Die sesde seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade keer terug. Gary Oldman staan steeds aan die hoof van ’n groep MI5-agente wat sulke groot foute in hul loopbaan begaan het dat hulle – saam-saam – tot in die uithoeke van die departement gedwing is. Hy en sy wanfunksionele span takel in elke seisoen ’n nuwe, uitdagende saak en ons volg hul pogings (soms rampspoedig, soms suksesvol, soms net bisar) om dit op te los. 

Die reeks het ’n gemiddelde punt van 97% op Rotten Tomatoes met die Observer se resensent wat dit ’n “kulturele wonderwerk” ag dat Slow Horses steeds so skerp en snaaks bly. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies