Menu terloops
In TV [18 Sep 2026]

’n Tafel vol stories: Herman Lensing vier erfenis in spesiale episode


Die verbintenis tussen kos, mense en herinneringe word tydens ’n spesiale Erfenismaand-bonusepisode van die baie gewilde ‘Herman se halfuur’ met Herman Lensing gevier.

Deur Redaksie
’n Tafel vol stories: Herman Lensing vier erfenis in spesiale episode

’n Komkommerstolslaai kan jou in ’n oogwink terugneem na ’n familietafel. Die reuk van vleis oor die kole roep weer ’n ander onthou op: ’n Plaaswerf, ’n lang kuier, iemand wat altyd geweet het wanneer die kos reg is. Dis dié verbintenis tussen kos, mense en herinneringe wat Herman Lensing in Herman se erfenistafel verken.

Dié spesiale Erfenismaand-bonusepisode van die baie gewilde Herman se halfuur, wat drie keer per week op VIA uitgesaai word, gee kykers ’n ekstra kuier saam met Herman. Dit word deur Food Lover’s Market moontlik gemaak en is op 19 September om 19:00 op VIA te sien.

“Erfenis beteken jou familie, jou gesin,” sê Herman. Vir hom loop die pad na dié tafel terug na sy grootwordjare in die Kalahari – na die plaashuis, die kombuis en die mense wie se kos deel van sy eie storie geword het. Sy erfenistafel vir die episode se warm, aardse kleure en rustieke plaasstyl sluit by daardie herinneringe aan.

Herman Lensing
“Die erfenistafel wat ek dek, is vir my die totale opsomming van wat erfenis is,” sê Herman. Foto’s: Verskaf

Op die spyskaart kry bekende geure ’n paar vars kinkels. Daar is komkommerstolslaai, aartappels met bier, gebraaide preie met roomsous en vark-en-pekaneutterrien. Toeka se tasselvleis bring ’n Kalahari-vleistradisie na die tafel, terwyl ’n plat lamsboud van die vuur af die feesmaal afrond.

Die stolslaai kry ekstra tekstuur met groen appels en neute, terwyl die aartappels geur kry van bier en roosmaryn. Tasselvleis vra op sy beurt weer geduld. Die vleis word gepekel en vir 24-uur, soos biltong, gehang voordat dit kole toe gaan. 

Saam vertel hierdie geregte iets van hoe resepte bewaar én opnuut ons eie gemaak word.

“Die erfenistafel wat ek dek, is vir my die totale opsomming van wat erfenis is,” sê Herman. 

Die lamsboud verwoord vir hom daardie gevoel besonder goed. 

“Vir my is ’n lamsboud oor die kole een van daai disse wat mense altyd bymekaar bring,” sê hy. Dis ook die gedagte wat deur hierdie episode loop waar elkeen iets van hulself na die tafel bring, en daar is genoeg plek vir meer as een mens se onthou.

“My erfenis en jou erfenis maak saak.”

    Maak Herman se plat lamsboud van die vuur af

    Herman Lensing
    Herman se plat lamsboud.

    Genoeg vir 6-8 mense

    “Vir my is ’n lamsboud oor die kole een van daai disse wat mense altyd bymekaar bring. Hierdie een kry hope geur en is perfek vir ’n tafel soos vandag s’n.”

    Bestanddele: 

    • 2 kg FLM butterflied classic leg of lamb, garlic & herb butter  
    • 3 ml swartpeperkorrels
    • 5 ml pienkpeperkorrels
    • 10 ml vinkelsaad
    • 5 ml koljandersaad
    • 10 ml gerookte paprika
    • 90 ml olyfolie
    • 30 ml rooiwynasyn
    • 1 handvol Italiaanse pietersielie, fyngekap
    • 4 knoffelhuisies, fyngekap
    • 2 rooi brandrissies, fyngekap
    • sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene 
    • sout en varsgemaalde swartpeper

    Hout of kole vir braai

    Sous:

    • 500 ml volroomjogurt
    • 45 ml tahinipasta (sesamsmeer, kyk by jou supermark se gesondheidsrak)
    • sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
    • 1 handvol vars koljander, fyngekap

    Instruksies: 

    • Vou lamsboud oop waar die been uitgehaal is. 
    • Gebruik nou skerp mes en sny van middel van boud na kante halfpad in die boud in, maar moenie regdeur sny nie, jy wil die boud oopvlek sodat hy ewe dik regdeur is. 
    • Plaas peperkorrels, vinkel en koljander in braaipan en rooster droog oor hoë hitte tot koljandersade skiet, sowat 1-2 minute. 
    • Plaas in vyselstamper en maak bietjie fyner. 
    • Meng speserye met paprika, olyfolie, asyn, pietersielie, knoffel, rissie, sap en suurlemoenskil. 
    • Plaas oopgevlekte lamsboud in glasbak of emaljebak en smeer die boud reg rondom met die olie en speserymengsel. Geur goed met sout en peper.  
    • Kry jou kole mediumwarm. Plaas lamsboud in toeklaprooster en braai sowat 35-45 minute vir mediumgaar. 
    • Draai die boud elke 10 minute om. Haal boud van hitte af en plaas terug in marinadebak. 
    • Laat rus vir 10 minute op kant van braai weg van direkte hitte af. 
    • Meng al die bestanddele vir die sous saam. 
    • Gebruik skerp mes en sny boud in dun skywe. Sit voor met sous. 

    Herman se erfenistafel, wat moontlik gemaak word deur Food Lover’s Market, word op 19 September om 19:00 op VIA uitgesaai, met heruitsendings op 20 September om 21:00, 23 September om 20:00 en 24 September om 21:00.

    Wat, waar en wanneer?

    Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

    Sien ook Meer

    Jy sal hou van:

    Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

    Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

    Meer
    6

    ‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

    Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

    Meer

    Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

    Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

    Meer

    Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

    Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

    Meer
    Sien alle opsies