Menu terloops
In Wat om te kyk [22 Jul 2026]

Rian van Heerden vertel oor nuwe reeks, ‘Moeder’, wat hulde aan ma’s bring


Elke episode van die nuwe reeks ‘Moeder’ wentel om die unieke band tussen ma en kind.

Deur Redaksie
Rian van Heerden vertel oor nuwe reeks, ‘Moeder’, wat hulde aan ma’s bring

In VIA se nuwe reeks Moeder neem Rian van Heerden die leiding as aanbieder soos suksesvolle Suid-Afrikaners die geleentheid gebied word om vir hul ma’s dankie te sê – sommer vir alles.

“Kos en familie is albei deel van VIA se DNS, en Moeder bring hierdie twee elemente op die hartroerendste manier saam,” sê Robert Kaden, hoof van inhoud en bemarking by VIA, in ’n mediaverklaring oor dié nuwe reeks. “Elke episode onthul die unieke band tussen ma en kind, ’n band wat met elke kyker se hart sal praat.”

Die resepte wat in die reeks gedeel word, sal ook op VIA se webtuiste beskikbaar wees.

Rian gesels oor Moeder:

Hoe sal jy Moeder as ’n reeks beskryf?

Moeder is ’n persoonlike reeks oor die baie spesiale band tussen ma’s en hul kinders. Dit wys ook die enorme invloed wat ons ma’s in ons lewens het en hoe hierdie liefde dan ook na ander mense oorgedra word.”

Jou eie ma, Rona, is ongeveer ’n jaar gelede oorlede. Hoe het dié ervaring van verlies die manier beïnvloed waarop jy die reeks benader en na ander mense se verhale oor hul ma’s luister?

“Dit is juis die verlies van my ma wat die inspirasie vir hierdie reeks was. Ek het spyt gevoel dat ek nie ons hegte verhouding ooit behoorlik sou kon dokumenteer om weer en weer daarna te kyk nie. Ek hoop om met hierdie reeks nie net verhoudings tussen ma en kind te dokumenteer nie, maar dat dit ook die kykers sal inspireer om met nuwe oë na hul eie ma’s te kyk.”

Die reeks bring mense uit uiteenlopende wêrelde bymekaar – van entrepreneurs en kunstenaars tot ’n professionele stoeier en ’n internasionale ambassadeur vir mense met downsindroom. Wat het jou verras oor die ooreenkomste tussen hierdie verskillende ma-en-kind-verhoudings?

“Dit maak werklik nie saak wie jy is en wat jy in die lewe bereik het nie. Vir ’n ma sal jy altyd net haar kind bly, daardie wese vir wie sy liewer is as vir haarself. En ja, as ma praat, dan luister jy, selfs al is jy die CEO van ’n massiewe besigheid!”

Kos dra dikwels herinneringe, tradisies en familiegeskiedenis oor. Hoe word kos in Moeder gebruik om gesprekke moontlik te maak wat die gaste andersins dalk moeilik sou vind om te hê?

“Kos bring inderdaad heelwat herinneringe terug. Maar ek het agtergekom dat dit juis die proses van die kook van ’n gunstelingdis is wat altyd daarin slaag om gevoelens en herinneringe wakker te maak. En veral wanneer jy die geleentheid kry om met daardie gunstelingdis vir jou ma te kan sê wat sy in jou lewe vir jou beteken het, is dit ongelooflik spesiaal.”

Bekendes se beeld wat hulle na buite voorhou, word gewoonlik deur hul prestasies en openbare doen en late gedikteer. Wat gebeur wanneer hulle nou saam met hul ma’s voor die kamera moet sit en bloot net iemand se seun of dogter moet wees?

“Die reaksie is universeel: Hulle word weer kinders. En natuurlik bly ma se woord wet!”

Het die maak van Moeder jou laat nadink oor dinge wat ons vir ons ma’s behoort te vra of sê terwyl ons nog die geleentheid het – en wat hoop jy sal kykers ná elke episode anders doen?

“Ongetwyfeld. Dit is werklik so belangrik dat jy sonder om enige tyd te verspil, vir jou ma vertel watter belangrike rol sy in jou lewe gespeel het en nog steeds speel. Wat ook nie agterweë gelaat moet word nie, is dat sy moet weet: die lesse wat jy by haar geleer het, sal in jou eie lewe en dié van jou nageslag voortleef.”


Moeder word vanaf Vrydag 24 Julie om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies