Emma van Heyn is besig. Op haar sosiale media plaas sy kort-kort videos – dan is dit ’n nuwe liedjie wat sy opgeneem het, of ’n nuwe musiekvideo. Dan wys sy weer hoe sy woorde leer terwyl sy haar oog dokter ná ’n klein oepsie op die Binnelanders-stel. Dan gee sy weer ’n agter-die-skerms-blik op hoe sy stukkie vir stukkie bou aan die klankbaan van die dramareeks Beter as gister.
Buiten haar Binnelanders-rol, berei sy ook tans voor vir nog ’n kykNET-produksie. Oor dié hoofrol kan sy nie veel verklap nie, behalwe dat sy ook die musiek vir dié projek maak en al maande lank oefen. Waarvoor sy oefen, is egter duister…
Emma, wat Kaapstad vir Johannesburg verruil het om by die Binnelanders-span aan te sluit, gesels met Rozanne Els oor kreatiwiteit, inspirasie, hoe dit voel om weer ou weergawes van jouself uit te grawe, en hoe haar rolle as musikant en akteur mekaar voed.
Wat het jou laat ja sê vir Binnelanders – veral in ag genome dat jy jou hele lewe moes ontwortel om in Johannesburg te werk?
“Die oudisieproses het al in 2019 begin. Ek het al ’n klomp rondes gedoen, maar die laaste vier rondes was eintlik spesifiek vir dr. Katryn Conradie.
“Die rol wat hulle aanvanklik vir my in gedagte gehad het, was eintlik ’n korter storielyn, ’n heeltemal ander karakter. Die oudisie het goed gegaan en hulle was baie opgewonde en ek het toe eintlik daardie rol gekry! Maar toe vlieg hulle my op Johannesburg toe om ’n oudisie af te lê vir ’n rol wat nog nie geskep was nie. Ek het teenoor Je-ani Swiegelaar (Naomi) en Marlee van der Merwe (Ella) gespeel en hulle het nie eers hul eie karakters gespeel nie, so dit was ’n baie interessante proses gewees.
“Hulle het daai dag vir my gesê hulle wil ’n langtermynverhouding met my hê en hulle wil graag ’n spesifieke karakter vir my skep. Toe vra hulle vir my hoe ek daaroor sal voel om op te trek (Johannesburg toe).
“ ’n Mens beantwoord hierdie tipe vraag anders in jou twintigs, maar die oomblik as jy in jou dertigs is, raak dinge ’n bietjie meer gekompliseerd. Maar wat wel baie uitgestaan het vir my, en hoekom dit net ’n no brainer-ja van my kant af was, was dat ek ’n gevoel van vrede ervaar het toe ek op hierdie stel aangekom het.
“Dit was vir my ’n aanduiding dat my gebede beantwoord word.”

Wat was jou eerste indrukke van Katryn toe jy aanvanklik die rol gelees het? Waarmee kon jy jou vereenselwig? En wat was vir jou anders van jou as Emma?
“Toe ek Katryn se rol gelees het, het ek gedink, ‘Wow!’ Sy is ’n warrelwind van emosies. Sy’s ontsettend gekompliseerd en sy is basies ’n lopende teer punt. Ek het eintlik moeg geraak toe ek die tekste gelees het, want as ek voorberei, spring ek in die emosie van die karakter in om haar te verstaan. Ek het toe regtig besef sy beleef omtrent 20 emosies binne ’n tydperk van twee minute. Dit het my eintlik baie opgewonde gemaak want ek kon myself daarmee vereenselwig – minstens met ’n jonger weergawe van myself.
“Ek onthou toe ek heelwat jonger was, vroeë twintigs en in my tienerjare, het ek amper gedink daar’s iets fout met my omdat ek so intens emosies beleef. Soveel so dat ek amper bang vir myself was.
“Ek het sedertdien die Here gevind, myself gevind, ek het baie rustigheid in my gevind. So, dit was eintlik vreesaanjaend vir my om nou in ’n vroeër weergawe van Emma te moet in-tap en daai emosies moet voel en beleef om dit die regte gravitas te gee en geloofbaar vir die kykers, en vir myself, te maak.”
Dit klink uitdagend om terug te gaan na daai weergawe van jouself.
“Dít was nogal ’n uitdaging en ek moes soort van ou emosionele kamers oopmaak om Katryn te kan aanpak. Wat ek mal oor is van Katryn, veral met soos mense haar beter gaan leer ken, is sy gee ontsettend baie om – en dis ook waarmee ek vereenselwig.
“Sy’s ook ontsettend gefokus op geregtigheid, en dís iets wat ’n dryfkrag vir my ook is: om seker te maak dat wat reg is, reg is. Of as ek voel iets is nie reg nie, sal ek dit op die een of ander manier kommunikeer.
“Maar waar ons wel verskil, is dat Katryn nie bang is om te druk nie, om basies die eindpunt waarop sy fokus te bereik. Sy haal die eindlyn en trap oor daai lyn en sy maak die endeavour klaar. Waar ek, as Emma, myself baie keer kan bevraagteken. En ek dink dit is redelik relatable vir baie mense wat amper al ’n tipe double-mindedness beleef het van ek wil dalk iets doen of iets sê, maar daar’s altyd ’n ‘maar’, of ’n ‘dalk moet ek eerder nie want’…”
Daai refreine klink inderdaad baie bekend…
“En baie van dit is as gevolg van people pleasing en om nie regtig altyd my man te staan nie. Die lesse wat mens in die lewe leer – ek dink ek het baie lank gesit in daai aanname dat ek steeds moet leer, daarom is my opinie of my mening nie eintlik geldig nie.
“Ek voel Katryn het dit ’n bietjie meer in my wakker gemaak en dis maar ’n stadige proses om dit te verstaan. Maar ek hou van die feit dat sy haar man staan. Sy doen dit deur en deur, maar sy gee nog steeds baie om. Om deel van Katryn se tribe te wees, is amazing.”
“Sy’t ’n verskriklik goeie hart. Sy skrik nie sommer vir enigiemand nie. Haar geheimsinnigheid lê eintlik net by haar selfbeskerming. Sy’s berekenend en sy het ’n berekenende manier van dinge doen, maar dis als vir the greater good.”

Ek wonder ook hoe jou indrukke van haar – en dalk die geleentheid en rol as ’n geheel – verander het oor die afgelope paar maande noudat sy, en jy, meer gevestig is. Sy in die hospitaal as dokter en jy as Emma in Johannesburg.
“Ek dink daar is so baie verskillende fasette rondom Katryn se persoonlikheid. Sy is baie beïnvloed deur wie sy besluit om haar muurtjie mee op te hou en wanneer sy besluit om die muurtjie te laat val. Sy is ’n baie sterk mens, maar daar’s ook ’n sagtheid aan haar. Sy’s ook baie kwesbaar, want sy’t altyd haar muurtjie op. En wanneer sy daai muurtjie laat val of sy voel gemaklik rondom ’n ander karakter, dan raak sy ontsettend charming.
“Sy is so cool aan die een kant, maar ook so insanely uncool aan die ander kant. Ek geniet dít baie van haar. Waarvan ek regtig hou in die manier waarop die skrywers haar aangepak het, is dat elke scenario iets anders van Katryn na vore bring. En dit gaan maak dat die kykers Katryn óf gaan haat óf mal oor haar wees. Of selfs baie debat sal veroorsaak. Maar op die ou einde van die dag dink ek almal gaan by iets van Katryn kan aanklank vind.
“Die feit dat ek nou meer gevestig raak in Katryn, by Binnelanders, nou dat ek hiernatoe getrek het en in ’n medium is wat my amper ’n meer gevestigde persoon maak in die bedryf, is eintlik so fassinerend.”
“Ek was nog altyd ’n mens wat buckle-down en doen. Ek werk ontsettende lang, harde ure vandat ek baie klein is. En die laaste paar jaar was ek so gewoond daaraan om hard te werk sonder om eintlik gesien te word en ek dink dit was ’n geriefsone wat my baie gemaklik laat voel het. Met Binnelanders – daar gaan baie mense wees wat hierdie sien. En dis amper soos jy kry the juice for your squeeze. Anders as waar jy soms voel jy squeeze en squeeze en squeeze en dan kry jy net ’n halwe druppel.
“Ek is ontsettend dankbaar hiervoor en dis eintlik ’n baie groot ding, ek moet net gewoond raak daaraan! Dít het ’n identiteitskuif in my geverg wat redelik moeilik was.
“Binnelanders ontlok ’n dapperheid in my wat ek gehad het as ’n jonger weergawe van myself, as ’n jong Emmatjie. Ek dink dit bring baie genesing vir my.”

Met wie beleef jy sover ’n besonder lekker heen-en-weer in tonele?
“Ek kan letterlik twee mense noem wat my delightfully verras het. So, Germandt Geldenhuys . . . obviously dis nou nie ’n verrassing dat dit lekker is om teenoor hom te speel nie… Maar regtigwaar, hy het van die begin af besluit hy’s ’n mentor. Dis half hoe hy die dinamiek tussen ons benader het.
“Hy het homself regtig net in daai posisie geplaas wat ontsettend baie vir my beteken het. Nie net was daar ’n mentorskap betrokke nie, wat ek dink flippen ongelooflik is en dis so tekenend van sy karakter, maar ons speel ook ontsettend lekker teenoor mekaar. Ek voel so ’n gemak wat baie vinnig inskop as ek teenoor hom speel. Ek is ontsettend dankbaar daarvoor.”
En die tweede persoon?
“Die ander persoon is Francois Lensley. Daai man het al so baie tyd in my belê op hierdie stel. Hy’s al baie jare in die sepiebedryf en hy’s ook ’n regisseur.
“Ek het besef as ek met hom – hy noem dit tennis – speel, voel ek of ek regtig Katryn in die oomblik is, en dat hy letterlik dr. Henry Louw op daai oomblik is. Dit is eintlik net iets wat tot sy volle reg kan kom as jy gemaklik genoeg voel om te laat gaan en te speel teenoor jou mede-akteur. Ek vind dit baie lekker om teenoor hom te speel. Hy’s ’n baie sterk mens en ook ’n baie sterk man. Hy vang Katryn op die regte manier – en ek hoef nie te veel te worry oor die raamwerk nie.
“Hy’t my op so ’n manier amper opgelei om iets in my spel te ontlok wat ek eintlik nog altyd wou bereik het. Ek het gevoel of ek dit kon bereik met hom, wat wonderlik is.”
Jy is vertroud met filmstelle (onder meer Eksie Perfeksie, Matilda & Matthys), maar ’n sepie is ’n ander meneer. Wat het jou onkant betrap?

“Sjoe, die medium is baie blootstellend. So, ’n mens moet regtig strewe om, ironies genoeg, so natuurlik te speel as moontlik. Maar die pas is so vinnig, en die volume daarvan is hoog! Daar’s baie min slaap betrokke. Veral as ’n mens ’n A-storielyn doen en veral wanneer jy nuut is in die medium. Om die woorde te leer en sulke goeters kom maar ’n bietjie stadiger, veral vir my.
“Maar wat ek wel daarvan geniet, is dit leer ’n mens dissipline om mooi na jou eie gesondheid te kyk want dis maar ’n ewigdurende marathon wat ’n mens hardloop. Al kry ’n mens rustige oomblikke of stiltes, moet jy steeds voorberei vir wat gaan kom of genoeg rus inkry sodat jy reg is vir die volgende golf van A-storielyne wat na jou kant toe kom.
“Dit is uitdagend, maar wat ook wonderlik is, is dat jy ook soos familie op stel raak. Jy raak baie close met die crew en die akteurs op ’n vlak wat soos ’n familieband voel. Almal kyk uit vir mekaar, want almal weet wat dit verg en ook hoe brutaal dit kan wees. Dit kan wel ook by tye lig en lekker wees.”
Jy is ook welbekend as musikant. En veral een wat op klankbane werk, soos met Beter as gister.
“Ek geniet dit baie om stories te vertel. Wanneer dit by die skep van klankbane kom – ek leer ontsettend baie deur die akteurs en hoe hulle spel benader. Ek voel of ek myself in iets kan inleef wat basies buite my is.
“Ek en René en Corné van Rooyen (die skrywer-regisseurs van Beter as gister) het al baie lank saamgewerk. Ek het ook aan Summertide met hulle gewerk. Ek verstaan hoe hulle koppe werk met storievertelling. Hulle hou daarvan om bietjie die grense te toets, maar op ’n heilsame manier.
“Dié tipe speel met klanke is altyd ontsettend, amper terapeuties, vir my. Ek vind altyd inspirasie deur die spel en die storievertelling en ek dink René en Corné is wónderlike storievertellers.”
Vertel vir my waar jy dink jou werk as akteur en musikant oorvleuel.
“Hulle voer mekaar. Definitief. Soms is dit maar bietjie van ’n tuimeltreinrit. Daar is nie een spesifieke klank of so wat ek skep nie, maar dis omdat die storie bo alles triomfeer. Daai fokus op prioriteit lê op dieselfde vlak in toneelspel. Dit vra net daarvoor op ’n baie meer obvious manier.
“Ek leer baie van my eie spel (as ek op klankbane werk). En hoe ek sekere oomblikke lees (as akteur) voer dan ook hoe ek my eie musiek benader as ek ’n sekere atmosfeer wil skep.
“Soos Jack Antonoff (bekroonde musikant en musiekvervaardiger) gesê het: “Everything is a mood, everything has a feeling”. So, of jy nou ’n kleur kies of ’n sekere toon gebruik, of dit ’n bietjie vals of perfek op die noot is – dit skep ’n gevoel.
“Ek is baie gefassineer deur dít wat ’n gevoel skep. Hoekom huil mense as hulle daarna kyk? Hoekom huil mense as hulle daarna luister? Hoekom lag mense as hulle ’n sekere ding voel?
“Om musiek te kan speel, gee my die geleentheid om ontsettend intiem en genuanseerd te kan speel met daai ‘hoekom’ en die antwoord te probeer vind – elke dag. Dit is dan presies dieselfde ‘hoekom’ wat ek binne toneelspel vind. En hulle voer mekaar op die mooiste maniere.”
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.