In verskeie onderhoude voor die uitsaai van Beter as Gister se eerste episode op kykNET vandeesweek, vertel dié reeks se draaiboekskrywers en regisseurs, die TV-duo en egpaar, René en Corné van Rooyen, oor die reeks se premis. “Dis ’n reeks oor vaderskap op die ou einde van die dag,” sê René tydens die reeks se bekendstelling. Corné kleur die onderwerp meer in. Vir hom is dit ook om te wys hoe ’n teenwoordige pa – fisiek en emosioneel – in die gesin opdaag. Én hoe anders ’n pa se teenwoordigheid en gedrag deur die samelewing beskou en hanteer word as dié van ’n ma.
Maar as kykers is ons nie gebonde aan die bedoelings van skrywers of skeppers nie. Die surrealistiese TV- en filmreus David Lynch het vroeg reeds dié vrede gevind wat hom dan juis so amper onbegryplik briljant sou maak: “Every viewer is going to get a different thing. That’s the thing about painting, photography, cinema.”
Interpretasie – meaning-making – gebeur eers met die lees, kyk, ervaring, die ontvangs van iets. Dié proses is nie goed of sleg nie, maar wel geheel en al subjektief.
Vir die kyker as sulks – veral die groot gros wat vervreem kan word deur die veronderstelling dat almal ’n ervaring van ’n kerngesin het (hetsy wonderlik of volop trauma) – lê daar dalk meer waarde daarin om konsepte van familie as geheel in heroënskou te neem en te verbreed. In die konteks van Beter as Gister: dat vaderskap vir dié vier pa’s ’n oorbrugging na ’n ander soort kollektiewe gemeenskap, ’n tipe “familie van pa’s”, is. Die reeks gebruik ouerskap as ’n lens, ja, maar die spil is dalk eerder hoe ons optree – in enige rol – teenoor diegene vir wie ons omgee en verbind is in allerlei vorms van familie. Só beskou, gebruik die reeks vier gesinne, vier pa’s, om verskeie tradisionele idees uit te daag en nie net dié van pa-wees nie.
‘Omgekeerde’ rolle
Marco Fouché (Neels van Jaarsveld), al vir tien jaar ’n toegewyde tuisbly-pa, bestuur die huishouding terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar professionele drome as burgemeester van Kaapstad uitleef. Hulle het drie kinders: 17-jarige Jessica (Nina Strydom), agtjarige Coenie (Gerhard Conradie) en sesjarige Luca (Sebastian La Cock). Die Fouchés se lewe begin egter ontrafel wanneer Marco besluit om weer te begin werk. Dié storielyn konfronteer nogal direk vooropgestelde idees van hoe ’n familiestruktuur kwansuis moet werk – veral wanneer Marco ’n professionele geleentheid kry, maar Cecile nie haar onmiddellike ondersteuning gee nie, en hom eerder met banaliteite paai. So asof sy aspirasies nie mag verander het nie. En nou dat dit het, dit nie gelykstaande aan haar ambisie is nie. ’n Bekende refrein – behalwe dat die geslagsrolle gewoonlik omgekeer is.

Pa as primêre versorger
Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n enkelpa en skrywer en sy dogtertjie, Lilly (Luna Coetzer), is op die outisme-spektrum. Hul lewens word egter deurmekaargekrap wanneer Lilly se ma, Sally (Greteli de Swardt), ná jare weer haar verskyning maak. Onmiddellik is daar kommer en vrae oor hoe toesig oor Lilly vorentoe gaan werk. Wat dink die samelewing – en wat sê die regstelsel – oor die ouerskapregte van pa’s en ma’s? Hoeveel onregverdige vooropgestelde idees is daar oor pa’s en hul vermoëns om primêre versorgers vir hul kinders te wees? Is ’n kind altyd “beter af” saam met hul ma? Dié storielyn bring in fokus noodwendighede wat eintlik glad nie so noodwendig is soos wat ’n oorgrote deel van die samelewing wil dink – of weet – nie.
Wanbalans
Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n sakeman wat alles in die stryd werp vir sukses. Teen die tyd wat ons hom ontmoet, is dit duidelik dat dít teen koste van sy familieverhoudings is. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n juffrou, en hulle het twee kinders. Reynard (Sebastian van Niekerk) is ’n 17-jarige tiener in ’n troebel verhouding met sy pa. Dan is daar ook sesjarige Benji (Eben Kotze), wat ses jaar oud is. ’n Traumatiese voorval gooi egter hul lewens in ’n oogwink omver. Daarna moet Bernard herdefinieer wat dit vir hom beteken om ’n man en pa te wees. Hier sien ons deurentyd hoe sy eintlike stryd teen en binne homself is. Hy’s uitwaarts naar, toksies self, maar hy boelie niemand meer as homself nie. “Man up!” skree hy vir homself in oomblikke van kwesbaarheid. So asof om grasie en empatie te hê vir homself – en vir Reynard – sy manlikheid sou skade doen.
Sebastian van Niekerk moet hier uitgesonder word vir sy spel as ’n tiener met waarlike wroeging in sy hart. Hy klim so presies in Reynard se skoene in, sy spel so sekuur en oorweeg. Dis moeilik om te glo dis sy eerste rol; dis maklik om te glo dat hy vir nog baie meer, en groter, bestem is.

Swaar gevolge
Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n afgetrede polisiebeampte en wewenaar. Hy is jare tevore van sy dogter vervreem, maar as sy onverwags sterf, vind hy uit hy is die oupa van sesjarige Katinka (Alexis Newman). Ook sy lewe word omgedompel en verandering is vir hom moeilik. Sy teenstand kom egter uit ’n plek van diepe seer, en diepe spyt – en diepe vrees vir meer daarvan. Sy storielyn wys ook op hoe wat in een verhouding gebeur na ander kan oorspoel. Gevolge kring uit én het ’n lange duur.

Uiteindelik wys die emosionele tesis op familie as ’n veranderende konsep, ’n vloeibare band, waarin ons telkens probeer beter as gister wees (jammer, ek moes!). Maar nie net as pa nie. In elke rol, in welke vorm van “familie”.
Gesinsdrama se gewildheid as genre
As ’n gesinsdrama, trek Beter as Gister voordeel uit die herlewing van dié genre se gewildheid as ’n outentieke spieël wat vir kykers opgehou word met gehore wat herkenbare, morsige personal stakes bo high stakes verkies. Dís deel van ’n groter kulturele skuif in ’n wêreld waarin radikale onsekerheid en angs heers.
René sê hieroor: “ ’n Gesinsdrama kan jy baie outentiek vertel. Jy kan grepe uit jou eie lewe neem en gebruik. Die onderwerp van familie oorbrug maklik grense. Dit is makliker vir mense om raakpunte te vind met dié genre.”
Soos met dié TV-duo se vorige suksesse, waaronder Alles Malan, wou hulle hier vir families as kykers op ’n bank saambring. Saam moet die gesin sit, kyk, ervaar. En hopelik leer, en hopelik gesels.
Beter as Gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.