Menu terloops
In Lysie-lysie [30 Jul 2026]

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom


Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en ‘Ontwaak’ tot die bekroonde ‘Koek’ en ‘Wyfie’ – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Deur Redaksie
Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom
1

Die Toring speel af in die wêreld van beleggingsbankwese en vertel oor ’n groep ambisieuse junior ontleders by ’n elite-firma in Kaapstad en hoe dié groepie die lokkrag van ambisie en mags moet navigeer terwyl hulle teen mekaar om die topposisie meeding. 

By Meyer Peterson Investments (MPI) hang oorlewing immers af van hoe vinnig jy kan aanpas, mense en situasies kan manipuleer en die leer kan klim. Hulle ontdek egter gou dat sukses in dié genadelose hoëdrukwêreld veel meer as net intelligensie vereis.

Jan Combrink, Nichola Viviers, Franka Kirby en Cantona James lei die rolverdeling van Die Toring

2

Reënboogrant is geïnspireer deur Louise van Niekerk se topverkoperboeke vir jong volwassenes wat in die negentigerjare gepubliseer is. Dié tienerreeks speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais (Mooiweer en Warm, Nuwejaar en Summertide) en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder. 

Diepe Waters se Righard van Jaarsveld en Johnny Potsanyane tel ook onder die tienerspelers.

André Velts staan ​​aan die hoof van die regiespan met Sonvelt Media as vervaardigers. Sonvelt Media het in 2024 die Safta-toekenning vir beste TV-fliek vir ’n Tyd van Waterpere gewen.

Die bekroonde aktrise Desiré Gardner dien as die reeks se hoofskrywer.

3

Wyfie is ’n universiteitsdrama wat met sy aanvanklike vrystelling in 2024 die grense van Afrikaanse narratiewe televisie verskuif het. Wyfie kom vanuit die veelbekroonde Homebrew Films-stal (Trompoppie, Magda Louw), en volg vier wildvreemde eerstejaar-kamermaats in die Pantera-koshuis aan die fiktiewe Eike-universiteit. 

Só het Riëtte van der Wat in haar resensie vir Terloops oor dié reeks geskryf: “Amanda en Shay (Beata Bena Green) is die tweemanskap om wie die reeks draai. Dis die einde van hul eerste jaar in Pantera, die eerstejaars se inwyding (“breinspoel?” vra Shay) is agter die rug. Die twee ken mekaar al van hulle laerskooldae af. Dan beland hulle (min of meer deur hul eie toedoen) in ʼn gruwelike nuwe koshuiskamer saam met die konserwatiewe Kyla (Kristen Raath) en wild child Mia (Mienke Ehlers). Hulle sou nooit uit eie keuse saamgebly het nie, maar hier is hulle nou. En dis Pantera, so die naels kan nie anders as uitkom nie en die hare waai beslis.

“Met dié vier karakters skep die skrywers, en die regisseur, ʼn interessante kookpot van identiteitskrisisse: is enigiemand régtig wie hulle voorgee om te wees, of wie hulle dink hulle is? 

“Wat veral verfrissend is van Wyfie, is dat dit ʼn vrou-gedrewe storie is. Hier is nie ʼn sexy/ slim/sportiewe man om alles in ʼn kits beter te maak nie. Inteendeel, die mans wat in Die Grot toegelaat word, is daar omdat ʼn vrou vir hulle gesê het om daar te wees. Die feit dat die ‘ma-en-dogter’-verhoudings op die voorgrond is, eerder as die studente se verhoudings met hul pa’s, dra ook by tot dié dinamika.”

Die reeks, oorspronklik vir Showmax vervaardig, is tans op DStv Stream beskikbaar. 

4

“Die eerste twee episodes van Ontwaak voel met rede soos déjà vu. Dié nuwe reeks, oorspronklik vir Showmax bedoel en nou op DStv Stream beskikbaar, het immers gekiem uit die film Horisonne, wat sowat drie jaar gelede op Showmax uitgereik is. Die film én die reeks is deur Sonvelt Media, onder die regie van André Velts en met Wessel Pretorius as draaiboekskrywer, vervaardig,” skryf Rozanne Els in haar resensie van dié reeks

Die storie draai om Melissa Human (Cindy Swanepoel, Koek), ’n psigiater wat ná jare oorsee terugkeer na Suid-Afrika om by Noordlig, ’n psigatriese inrigting vir misdadigers, te begin werk. Haar nuwe lewe neem ’n onverwagte wending wanneer sy met mense en gebeure uit haar verlede gekonfronteer word.

Die ondersoek na ’n ritualistiese moord lei na Horisonne – ’n afgesonderde gemeenskap wat kwesbare mense lok met die belofte van identiteit, veiligheid en ’n plek waar hulle uiteindelik kan behoort. Maar agter dié belofte skuil ’n donker werklikheid. Wanneer Melissa dieper delf, ontdek sy ’n wêreld waarin trauma, manipulasie en geloof gevaarlik met mekaar verweef is.

Die reeks spog met ’n ensemble-rolverdeling wat, buiten Swanepoel, ook vir Minke Marais, Chris Chameleon, Carel Nel en Sean-Marco Vorster insluit.

5

In die Afrikaanse tennisdrama, Breekpunt, span die aktrise Chelsea Thomas weer kragte saam met haar Spinners– en Arendsvlei-medester Cantona James.

Chelsea speel ’n eiewyse tiener wat alles moontlik doen om op die internasionale tennisverhoog te kan meeding. Daar is etlike uitdagings wat dreig om haar drome en jare se harde werk onklaar te maak. Kykers volg haar reis soos sy die harde realiteite van die lewe op en van die baan af moet trotseer.

Breekpunt se regie is deur Nicola Hanekom. Die skryfspan, gelei deur Ilse van Hemert (Lioness), sluit die Safta-wenner Quanita Adams (Hier.Na) in. Cantona vertolk ’n voormalige tenniskampioen vertolk, met Safta-wenner Lorcia Cooper-Kumalo (Red Ink, Lockdown) en Sherman Pharo (Arendsvlei) as Chelsea se ouers.

6

Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo. 

Erica Wessels vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder wat drie jaar tevore onder ’n donker wolk uit Pretoria ná ’n rampspoedige ondersoek gevlug het. 

Nou moet sy dié haglike saak probeer ontsyfer.

Lees ons resensie hier.

7

Mince Jou Hare is ’n goedvoel-sitkom wat in die fiktiewe dorpie van Hex-vallei in die Wes-Kaap afspeel. Dié bekroonde reeks is die skepping van die veelbekroonde komediant Shimmy Isaacs, bekend vir haar rolle in onder meer Arendsvlei, Magda Louw en Tali’s Joburg Diary.

Die verhaal volg ene Frieda se verhaal soos sy haar pos in ’n fabriek bedank om ’n haarsalon vanuit haar huis te bedryf. 

Melissa de Vries speel Frieda, met die komediant Dugald Pieterse as haar man, Vincent. Bianca Flanders speel Frieda se beste vriendin, Julia.

8

In die eerste seisoen van dié briljante misdaadkomediereeks (’n baie donker een) ontmoet kykers die Kaapstadse huisvrou Christelle Smit (Cindy Swanepoel) wat vermoed dat haar man ’n affair met ’n ontkleedanseres genaamd Candi Floss (I mean…) het. Haar ondersoek neem haar dan binne-in ’n wêreld wat hemelsbreed verskil van die noordelike voorstede-utopie waarmee sy bekend is. Soos in, hemelsbreed.

Die eerste uittog het uiteindelik ’n stroomtreffer op Showmax geword, met die tweede seisoen wat sedert Junie vanjaar op DStv Stream beskikbaar is. 

Wanneer die storiedrade met die aanvang van die tweede seisoen weer opgetel word, is Christelle in ’n stryd om haar lewe te herbou terwyl ’n lelike skeisaak aan die gang is. Haar drome om haar mediese loopbaan te hervat en as enkelma vir haar dogter te sorg, lê egter aan skerwe. Dít terwyl haar eks Adrian (Stian Bam) grotendeels ongeskonde weggestap het nadat Christelle sy nier vir wraak geoes het. Nou dagvaar hy ook vir toesig van hul dogter, Stella (Izebella Louw). Hy is vasbeslote om Christelle van alles te ontneem. 

Wanneer Adrian ’n skelm prokureur aanstel om die saak in sy guns te swaai, volg ’n reeks gebeure wat Christelle terug in die onderwêreld dwing. En Moekie, wat sedert sy as bendebaas “afgetree” het ’n lewe van stille vernedering probeer oorleef, lek haar lippe af wanneer Christelle weer om hulp aanklop.

Seisoen 2 stel ook nuwe, ongure karakters bekend, waaronder Frank Opperman as Thinus “Tjoppie” Terreblanche – die mees gevreesde bendebaas in die Noordelike Voorstede wat sy motorkapingsindikaat met ’n ysterhand vanuit sy rolstoel regeer. Ten spyte van sy kwynende gesondheid weier Tjoppie volstrek om die leisels aan sy lamsakkige seun, Tiny (De Klerk Oelofse), of sy manipulerende sesde vrou, Veronika (Leandie du Randt), oor te gee.

Lees ons resensie van die tweede seisoen hier.

9

“Skrywer-regisseur Nico Scheepers se aanslag is ’n digterlike een. Melodies, selfs. Daar’s geen haas om die storie van die Adendorff-broers te vertel nie,” skryf Rozanne Els in haar resensie van Nerens, Noord-Kaap, ’n storie wat draai om drie vervreemde broers wat die kronkelpad terug na hul ouerplaas in die dorre Noord-Kaap, Nêrens, neem. En daar moet hulle die geheime, hartseer en waarheid oor hul ma se dood jare gelede aanspreek om uiteindelik heling te vind. 

Die storie is gegrond op die gelyknamige verhoogstuk deur Nico Scheepers wat in 2017 sy debuut gemaak het. Dit is sedertdien wyd geloof en Scheepers se omskepping van sy hartroerende verhaal na ’n TV-reeks is iets meesterlik. (Lees Riëtte van der Wat se onderhoud met Scheepers hier.)

10

Magda Louw vertel die storie van Magda en haar man Erhard, wat aan ’n werklikheidsreeks deelneem. So gebeur dit dan dat daar ’n kameraspan is wat hulle oral volg om hul lewens vas te lê. 

Dié storie is  aanvanklik deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk, as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep. Nadat dit eers in 2021 deur kykNET tot ’n storiefilm ontwikkel is, is dit toe in ’n komediereeks omskep. 

Hannes van Wyk is as Erhard te sien, met die bekroonde Koek– en Ontwaak-aktrise Cindy Swanepoel wat vir Cintaine Schutte in die tweede seisoen as Magda en Erhard se dogter, Gertrude, vervang het. Die paartjie se seun, Baltus, word deur Taktiek se Bennie Fourie gespeel. 

Gershwin Mias is die kameraman Shaun, wat die Louws oral heen rondvolg.

Desiré en Hannes  is albei vanjaar vir Silwerskermtoekennings vir hul vertolkings in Magda Louw benoem. So ook Shimmy Isaacs wat as beste byspeler in ’n komedie benoem is.

Rozanne Els skryf in haar resensie van die derde seisoen: “Om waarlik slim-snaaks én ernstig te wees, is vir min beskore. En vir nog minder tekste. Magda Louw is, drie seisoene in, steeds ’n skitterende uitsondering.” 

11

Magda Louw se Desiré Gardner is die draaiboekskrywer van die kykNET-komediereeks waarin die geliefde plaaslike akteur Tobie Cronje die hoofrol vertolk. Pronk Primêr vertel oor ’n groep skoolvriende wat na hul alma mater terugkeer om daar klas te gee – met dieselfde skoolhoof, mnr. Welgehawe (Cronje) wat steeds aan die stuur van (wispelturige) sake staan. 

Die storie begin met Ada (Juanita de Villiers), ’n wiskunde-onderwyser, wat by haar eertydse skoolvriende, Earl (Pietie Beyers), Charl (Solomon Cupido), Driena (Laura-Lee Mostert), en Filip (Jaco Muller), aansluit waar hulle by Pronk Primêr as onnies werk. Soos die storie uitspeel, word die daaglikse lewe en uitdagings van die onderwysers word binne – en buite – die klaskamer, verken. 

12

In Mevrou Fourie & Kie besluit Anita Fourie (Henriëtta Gryffenberg) ná jare van roetine dat sy van haar man, die tandarts Barend (Deon Coetzee), wil skei. Die tydsberekening is egter… minder ideaal. Sien, hul dogter, Melissa (Luandri Reynders), los haar man, Quintin (Arno Greeff), nadat sy van sy ontrouheid uitvind. Op soek na stabiliteit trek sy terug huis toe – net toe Anita self probeer om haar lewe weer op koers te kry.

Dan daag Anita se ma, Tina (Elzabé Zietsman), ook onverwags op. Dié is uit die ouetehuis geskop. Skielik is daar drie sterk vroue, ’n bedorwe seun in sy laat twintigs, Barry (Luan Jacobs), en ’n oorblufte Barend onder een dak in Randburg. Met die een geheim ná die ander wat uit die kas tuimel… Chaos. Met ’n hoofletter. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies