In ’n sterbelaaide rolverdeling wat die bekroonde veterane Sandra Prinsloo en Frank Opperman insluit, en met sterk, magnetiese vertolkings deur medespelers soos Cindy Swanepoel en Jacques Bessenger, kry Leandie du Randt dit steeds reg om die kalklig in Koek se tweede seisoen te steel.
Op eerste oogopslag lyk haar karakter Veronika dalk net soos ’n mooi poppie aan die arm van Bellville se gevaarlike bendebaas Tjoppie Terreblanche (Opperman) – geldgierig en uit vir eie gewin. Maar soos die storie ontvou, blyk daar veel meer aan Veronika te wees. Dis ’n rol met vleis – en Leandie het haar tande behoorlik in dié een gesink.
Vir dié aktrise, wat ook haar eie geselsprogram op VIA (DStv-kanaal 147), Gesels, aanbied en ook ’n skrywer en motiveringspreker is, is hierdie rol die verwesenliking van ’n droom. Om met Christiaan Olwagen, die reeks se draaiboekskrywer en een van die mederegisseurs, te werk, is al etlike jare een van haar grootste doelstellings.
Ompaaie
“Soos die Here altyd ongelooflik in my lewe is, gebruik hy ander goed om my by ’n heel ander ding te kry. Dis hoekom ek altyd vir mense sê, ‘In elke oomblik van jou lewe, daag op as jou 100% beste self. Al is jy nou by ’n werk waarvan jy nie hou nie. Want dalk loop daar iemand in wat iets in jou sien, wat vir jou die werk wat jy wou gehad het, kan gee. Maar as jy nie jou beste self is, of klaar kan dankbaar wees vir waar jy is nie, hoe kan die Here jou met meer toevertrou? En dít is wat met my gebeur het.
“Ek was besig op Gesels en Christiaan was een van my gaste in ’n episode. En ek het uitgefreak! Maar ek was net myself. Ek het vir hom gesê hoe senuweeagtig ek is om ’n onderhoud met hom te doen, want ek wou nog altyd saam met hom werk. Hy kon dit nie glo nie. Maar hy sou dit nie geweet het as ek dit nie vir hom gesê het nie.
“En hy sê daai dag, terwyl ek die onderhoud met hom gevoer het, het hy iets in my gesien wat hy in die karakter Veronika gesien het. ’n Sterkte, ’n diepte wat die karakter het. En toe besluit hy dat hy vir my die rol gaan gee, maar my ook gaan uitdaag. Maar as ek nie daai dag myself was en vir hom gesê het hoe graag ek met hom wou werk nie…”
Hy het sy woord gestand gedoen, vertel Leandie. “Ek was ’n paar keer in trane op stel. Nie omdat hy gemeen is nie, maar omdat hy rêrig iets uit my kry. Hy is vir my briljant en het my rêrig uitgedaag.”
Stories vir, en oor, feilbare mense
Sy wou juis so graag met Christiaan werk omdat hy iemand is wat stories skryf vir mense wie se lewens nie perfek is nie, meen sy. “Ek is ’n dominee se kind, ek is konserwatief grootgemaak. Ek het eers in my universiteitsjare meer liberaal geraak en nou is dit hoe ek kan aanklank vind by mense. Ek connect beter met mense juis as ek wys ek is feilbaar. Om juis te wys ek vloek soms, ek drink soms, ek wonder soms of die Here lief vir my is… Om juis daai onperfekte mens te wees. So ek is ook altyd aangetrokke tot mense wat, soos hy, net hulself is.

“En om saam met iemand te werk wat stories skryf juis vir daardie mens wat so onperfek voel – ek word aangegryp deur daardie mense, want hulle dink anders. Hulle vat kanse, hulle vra vrae. Baie stories is skynheilig; hulle probeer net die mooi van die lewe wys. Hulle wys nie dat ons vloek nie, hulle wys nie dat jy jou vrou verneuk nie, hulle wys nie dat jy skei nie. Maar dít gebeur juis in die werklikheid. En jy kan baie meer mense bereik en inspireer deur daardie stories te vertel eerder as om ’n perfekte weergawe van die mens te probeer uitbeeld,” voeg sy by.
‘Liefde-haat-verhouding’
Koek se tweede seisoen is nou al verby die halfpadmerk en hoewel Leandie wel haar eie werk kyk, wag sy gewoonlik totdat die reeks klaar uitgesaai het.
“Dit is ook so ’n liefde-haat-verhouding met die besluif of jy vir jouself kyk of nie. Ek kyk 100% my werk om daaruit te leer. Ek is ’n verskriklike eerlike mens en ek is nie sensitief nie. Ek is gaande daaroor as ’n regisseur vir my sê, ‘Daai was kak, jy kan beter doen.’ Sê vir my hoe ek dit beter kan doen sodat ek ná die tyd trots kan wees, eerder as dat jy op die dag my gevoelens probeer spaar.
“Uiteindelik is dit my werk om na jou, die regisseur, te luister. Dit is hoekom ek ’n akteur en nie ’n regisseur is nie. Ek wil hê jou visie moet gerealiseer word, want dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor daai karakter en die storie en dat ons dit saam so goed as wat ons kan, vertel.”
Oor deernis, empatie en menswees
Veronika is een van die reeks se grootste verrassings – deels oor die karakter se kompleksiteite en kinkels wat ’n mens onkant vang, maar ook omdat Leandie haar grimmige juk met deernis opneem.
“Ek wens altyd mens kan ’n reeks ’n tweede keer skiet. Nadat die karakter en die storie bietjie by jou gesit het. Want rêrig, soos jy haar leer ken – dis soos die maatjie op skool wat jy eers gedink het, is rof, maar dan leer jy haar ken en jy besef hoeveel deernis jy vir haar het en hoe oulik sy is en dat sy ook net liefde wil hê en net ’n normale mens is. Maar jy het haar so veroordeel aan die begin… Dis presies hoe dit vir my was met Veronika. En dit vat my ’n ruk wanneer ek ’n karakter speel wat so anders as ek is, om net te gaan, ‘Dis oukei, dis oukei, jy kan haar nie veroordeel nie’,” vertel sy oor haar begindae as Veronika.

“Ek het baie vir Christiaan gevra, ‘Hoekom de f-k slaap sy met hierdie ou as sy net kan weghardloop? Dit maak nie vir my sin nie. Is sy dom? Hoekom klim sy nie net in haar kar en sy f–f nie?’ En dan sê hy, ‘Dis goed dat jy sulke vrae vra, want jy gaan haar nie kan speel as jy haar aanhou oordeel nie. Jy gaan moet besluit hoekom, as sy dan so sterk is, sy so optree. Jy gaan ’n rede moet vind. Jy gaan vir die kyker moet oortuig van wat daai rede is’,” deel sy.
Maar Leandie luister as mense wat sy vertrou raad of terugvoer gee. En die wyse waarhede wat sy oor die jare van kollegas soos juwele versamel het, vergeet sy nooit nie. “Ek onthou, Brümilda van Rensburg het jare terug vir my gesê, ‘As jy ooit ’n antagonis speel, moet jy haar speel op ’n manier wat mense van haar kan hou. Hulle moet kan verstaan hoekom sy daar is. Al is sy so ’n kak mens soos wat sy is – daar is tog iemand wat lief is vir haar. Of daar is tog ’n rede. Sodat hulle haar eerder begin jammer kry en verstaan as wat hulle haar haat.’
“En daai’s ’n fyn lyn as jy so iemand speel, want ek dink dit is een van die grootste uitdagings in toneelspel. En wat ek in my werk gevind het, is om dan eers te gaan, ‘Oukei, ek gaan haar nie oordeel nie, ek gaan probeer lief wees vir haar en empatie hê met haar en kyk hoe ek haar aan die kykers kan verkoop’.”
Leandie, die labrador en Veronika, die kat
Hoewel sy en Veronika albei sterk vroue is, leef en druk hulle dít op heeltemal verskillende maniere uit. Aanvanklik het sy hiermee gestoei, sê sy. “Christiaan het eendag vir my probeer verduidelik dat ek, Leandie, ’n labrador is, maar my karakter is ’n kat. So ek moet eers heeltemal van dier-persoonlikheid verander voordat ek in Veronika klim, want Leandie het die hele tyd uitgekom. En dit is nogal iets wat ek baie met my rolle doen. Ja, dit is onafwendbaar dat jy ’n deel van jouself in jou rolle ploeg – jy moet dit eenvoudig doen. Maar die dele van jou wat met die karakter ooreenstem, moet jy aandraai en die dele wat nie dieselfde is nie, moet jy afdraai.”
En dis nie te sê jy gaan dit altyd regkry nie – inteendeel. “Akteurs is maar baie onsekere wesens. Ons sal altyd en heeltyd wil hoor, ‘Welgedaan! Mooi! Hier is vir jou ’n handeklap, jy het dit reg gedoen.’ Maar dis nie hoe TV werk nie. TV is eintlik ’n baie ondankbare werk en dit is hoekom jy baie hard aan jou selfvertroue en jou motivering moet werk, want jy kry nie noodwendig daardie direkte terugvoer of goedkeuring van die regisseur op stel of selfs van die publiek nie.
“Dís eintlik ook hoekom ek eers die reeks gaan kyk as al die episodes uit is – sodat ek terugvoer kan kry van mense na wie ek opkyk en wat ek vertrou. Ek sal kyk na wat die kykers gesê het, maar uiteindelik moet ek self besluit hoe ek daaroor voel, eerder as dat hul reaksie my beïnvloed,” sê sy.

‘My vertolking moet hulle aangryp en eg voel’
“Een ding wat ek geleer het wat my lewe verander het, kom van een van my eerste regisseurs saam met wie ek gewerk het, Cobus Rossouw jr.. Ek was so senuweeagtig en kon nie van daardie angs ontslae raak nie. Toe sê hy vir my: ‘Wees senuweeagtig. Die karakter kan ook angstig wees; enige mens is angstig. Maar kyk hoe jy dit in die toneel kan gebruik. Miskien hou sy van die outjie en dis hoekom sy angstig is.’
“So moenie dit probeer wegsteek nie. Gebruik dit, want jy speel ’n mens met gevoelens. Ek dink dit is wat jy baie keer vergeet as jy ’n akteur is. Maak nie saak wat jy voel nie, jy speel ’n karakter wat ook gevoelens het. En jy wil juis hê mense moet aanklank vind by ’n opregte gevoel. My vertolking moet hulle aangryp en eg voel.”
‘Jy het dit in jou of jy het dit nie’
Om eg en empaties as akteur te speel, noodsaak egter deurlopende groei as mens, meen Leandie. “Vir lank het ek gesê ek gaan nooit so ’n goeie akteur wees soos die akteurs wat dit geswot het nie. Jacques Bessenger het vir my gesê, ‘Leandi, hou nou op, jy is besig om my te irriteer as jy dit sê. Net omdat jy dit nie geswot het nie, beteken dit nie jy is nie ’n goeie akteur of jy is nie waardig nie. As jy ’n mens is wat leer en groei en jy verstaan mense se psiges en persoonlikhede, dan gaan jy ’n karakter kan vertolk’,” vertel sy.
Sy voeg by: “Jy het dit in jou of jy het dit nie. Mens kan nie eintlik leer om ’n akteur te wees nie. Jy kan vaardighede aanleer, natuurlik. Jy kan leer hoe om vinniger te huil, byvoorbeeld. Maar om die essensie van ’n emosie te verstaan… En dit is weereens hoe die Here my ondersteun het: deur my eers bedryfsielkunde te laat swot; deur my pa ’n dominee te maak wie my geleer het om vir almal lief te wees, maak nie saak watter tipe mens hulle is nie. Om te verstaan hoekom hierdie meisie op 16 swanger is en hoekom daai een nie is nie. Hoekom daai tannie dwelms doen en daai een nie. Nie om hulle te veroordeel nie, maar om te verstaan hoekom, en om te verstaan watter omstandighede en keuses jou daar kan bring.”
Toneelspel ‘soos berading’
Juis daarom verwelkom sy ook die uitdagings in haar lewe. “Soos met my egskeiding, soos met my ma se afsterwe. Want nog elke keer weet ek dit gaan vir my vaardighede gee om te kan verstaan wanneer ek ’n karakter moet speel wat deur dieselfde tipe ervaring gaan. Ek dink die Here het my elke keer nog ’n rol gegee om my te help genees.
“Toe ek skei, het ek Meisies wat Fluit gekry, en dit is presies dieselfde storielyn. Hulle het nie op dieselfde manier geskei of vir dieselfde redes nie, maar dit was ongelooflik moeilik en seer. Ek onthou Johan (Cronjé), die regisseur, het my nog gebel en gesê, ‘Ons wil baie graag vir jou die rol gee, maar ons is so bang jy is nog te seer of dat dit jou gaan opf-k.’ Toe’s ek soos, ‘Nee! Dit is juis die rede hoekom ek dit moet speel, want dit gaan my help.’
“Toneelspel is vir my soos berading. Die kans om goed te herleef, emosies te verwerk, om weer daaroor te dink, te huil daaroor. Daar is baie goeters wat ek só leer. Dit is hoe ek die seer verwerk.”
Een hand was die ander

Leandie is vinnig om te erken dat sy nie iemand is wat kan stilsit nie. Haar werke as aanbieder, aktrise, skrywer en motiveringspreker word egter aanmekaar geweef deur haar opregte belangstelling in mense. Die saadjies hiervoor is vroeg deur haar pa, met wie sy tans ’n boek skryf, geplant, meen sy.
“Omdat my pa my met so ’n oopkop-ingesteldheid grootgemaak het, het dit my laat belangstel in mense. Dit is juis hoekom ek dit so geniet om ’n geselsprogram aan te bied. Ek glo ons kan by elke liewe mens iets leer. Nie een mens is beter as ’n ander nie. Iemand is dalk meer bevoorreg grootgemaak en steek sy foute beter weg of kruip makliker agter geld of die kerk weg, maar dit beteken nie dat hy minder feilbaar as jy is nie,” sê sy.
“Dis soos die liggaam van Christus, dis hoe my werke alles bymekaar aansluit. Ek dink die Here het geweet ek gaan te verveeld raak met een ding. Met my lewe is ek baie geseënd, want die een hand was letterlik die ander hand.”
’n Ewige leerskool
Om aan te hou leer uit elke geleentheid wat oor haar pad kom, is ’n deurlopende tema in ons gesprek. “My pa sê die dag wat jy ophou leer, is jy dood. En dis ’n gevaarlike ding as jy dink jy weet als en jy het niks meer om te leer nie. Dan is jy lui. Ek dink wanneer jy só voel, moet jy iets nuuts begin, ’n nuwe vaardigheid leer. Sodat jy net terugkom aarde toe.”
Dís ook hoekom dit so belangrik is om ’n goeie groep vriende te hê, meen sy. “My vriende kyk nie my reekse nie, hulle weet nie eens eintlik waarin ek al gespeel het. Hulle ken my al van voordat ek op die TV was, en hulle hou my nederig. Wanneer ons mekaar sien, praat ons oor die lewe en real goed. Niemand gee om of ek op TV is nie; dit maak nie saak nie. So jy moet aanhou leer, en aanhou om jouself uit te daag. Maak die lewe vir jouself interessant.”
Sy het dalk nog nie haar Oscar nie – “ek het solank ’n plastiek een gekoop en dit staan hier op my kas en dit het al drie keer gebreek” – maar dis op haar visiebord. Sedert sy in 2012 haar eerste ’n jaarlikse visiebord gemaak het, het alles waargeword. So sy sal aanhou leer en aanhou werk – met elke rol kom sy ’n bietjie nader aan die verwesenliking van nog ’n droom.
Nuwe episodes van Koek S2 word weekliks op Dinsdae op DStv Stream beskikbaar gestel.