Menu terloops
In Resensies [9 Jun 2026]

‘Koek’ se tweede seisoen ’n tuimeltreinrit van oorlewing in hoogste rat


Die tweede seisoen van die bekroonde Afrikaanse misdaadkomedie ‘Koek’ ontgin ’n wêreld van kontraste waarin meeslepende Machiavellisme soos room bo-op die morsige chaos van ’n vrou se alledaags geskep word. 

Deur Rozanne Els
‘Koek’ se tweede seisoen ’n tuimeltreinrit van oorlewing in hoogste rat

Daar is min getroue bondgenote in die lewe van ’n vrou. Iewers, in ’n stadium, selfs in hierdie oomblik, is daar ’n vrou wat die les van verraad leer. Dalk is die dolk in die hand van ’n vreemdeling. Of dalk is die seer meer sekuur; vriende, familie, vertrouelinge – húlle weet mos waar die rouste wonde lê. Maar ná ’n paar rondtes in die lewenskryt sal enige vrou vir jou sê dat geen mes skerper as jou eie is nie. Om jouself te verraai, klink verregaande. Wie sou nou dít wil doen? Tog, dit gebeur – in ’n oogwink, in minder as ’n asemteug – as jy vergeet wie jy is. 

En Koek se oorblufde Christelle het lankal vergeet wie sy is. Flitsende neonligte dans oor haar gesig wanneer Moekie mond uitspoel: “Tot vrouens haat vrouens. As jy met ’n koek deur die wêreld rondloop, dan is elke donnerse dag ’n oorlog.” 

Tematiese wipwarit

In ’n onderhoud met Eva du Preez, wat dié seisoen bykom as beide redigeerder en as ’n mederegisseur, vra ek of daar ’n deel van Christiaan Olwagen se teks is wat haar dronkgeslaan het. Ek deel toe eers myne – juis die toneel tussen Moekie en Christelle waarin Sandra Prinsloo dan dié lyn uiter. Eva lag. Selfde, sê sy. 

Dié toneel is vroeg in die nuwe reeks en die gesprek tussen die twee karakters is tekenend van waarheen Olwagen met sy draaiboek mik. Dit volg ook op ander sonderlinge toneel – en terselfdertyd ’n té bekende vrou-ervaring – waarin Christelle laat los op ’n motorhandelaar wat sy chauvinisme agter ’n grinnik met te veel tande probeer wegsteek. Dis duidelik watter temas in die voorste waentjie van dié wipwarit gaan sit… vir die van ons wat dié temas leef. Vir ons is Olwagen se ondersoek na hoe die wêreld vroue gebruik en misbruik as blote teerpaaie wat gaar gery word in die najaag van goud, soos koue water in die gesig. Dis pynigend om stukkies hier en stukkies daar van jou eie ervarings in dié storie se spieël te sien. Hoe sing Noah Kahan? “Pain is cold water.” 

Vir ander is Olwagen se skrywe – met woorde kan hy toor, werklik – dalk meer soos subtiele rigtingwysers na baie spesifieke wonde in ons samelewing. En, uit daardie lens beskou, val ’n mens se hart so bietjie in jou skoene. Want hier is ’n deurtastende verhaal geskep, een wat fantasties-vermaaklik is terwyl dit ’n reuse-golf van realisme ry… en dit gaan bo té veel mense se koppe gaan. Nie omdat hulle te dom is nie – geensins. Eerder opsetlik onbewus. Jy hoef mos nie om te gee oor ’n probleem as jy nie erken daar is een nie. 

Koek, Sandra Prinsloo, Cindy Swanepoel
“Tot vrouens haat vrouens. As jy met ’n koek deur die wêreld rondloop, dan is elke donnerse dag ’n oorlog,” deel Moeki (Sandra Prinsloo) met Christelle (Cindy Swanepoel). Foto’s: Verskaf

Onperfekte beste

Die tweede seisoen van Koek, oorspronklik ’n Showmax-projek en nou eksklusief op DStv Stream beskikbaar, hervat die storie met Christelle midde-in ’n stryd om haar lewe te herbou. Sy’s skynbaar klaar met niere oes, maar met die skeisaak tussen haar en Adrian (Stian Bam) wat lelik raak, haar toesig oor hul dogter op die spel, en haar drome om haar mediese loopbaan te hervat aan skerwe, ontkiem nuwe sade van desperaatheid.

Dit word op ’n spits gedryf wanneer Adrian ’n sluwe prokureur aanstel en vuil speel om die saak in sy guns te swaai. Christelle, skynbaar vasgevang in die onwrikbare houvas van haar eie goedgelowigheid, draai dan na Moekie (Sandra Prinsloo) om hulp. Maar dié girl het oënskynlik vergeet dat niks in hierdie wêreld verniet is nie. Definitief nie lojaliteit nie. Moekie, ’n onwillige pensioenaris, is gevaarlik verveeld en sien in Christelle se situasie ’n geleentheid om haar terugkeer as formidabele misdaadbaas te orkestreer. Christelle is eensklaps terug in die onderwêreld. 

Koek, Moekie, Sandra Prinsloo
Moekie (Sandra Prinsloo) was beslis nie vir aftrede bedoel nie…

As mens haar so bekyk met die gedempte pastel van suburbia wat aan haar kleef, wil-wil ’n mens haar aan haar skouers skud. Maar dan is daar ook die besef: sy doen wat sy kan; sy probeer haar onperfekte beste. Dat haar besluite in alle waarskynlikheid tot ’n helse, goddelose fokop gaan lei, is dus weliswaar eintlik nie haar skuld nie – of hoe? 

As vertellers storie snap

Dat jy haar kan vergewe, hierdie menslike versinnebeelding van “hold my beer”, is weer aanduidend van Olwagen – en sy mederegisseurs, Du Preez en Johannes Pieter Nel – se deurdringende begrip van storie én die vertelling daarvan. Daarsonder sou dit nie net onverwags wees dat ’n man ’n vrou-ervaring so feilloos kon raakskryf nie, maar eintlik ondenkbaar.

In een van die honderde onderhoude wat die regisseur en draaiboekskrywer Jacob Tierney oor die afgelope jaar oor die trefferreeks Heated Rivalry gedoen het, laat val hy – amper terloops – die rede hoekom hy “vinnig” kan skiet sonder om kreatiwiteit, gehalte of visie in te boet: As jy as storieverteller teen take 6, 7 of 8 nie kan kry wat jy uit ’n toneel soek nie, is die fout nie by die akteur se spel nie. Dis in jou storie. Dís ’n les wat Olwagen, Du Preez en Nel nie hoef te leer nie.

Storie word hier gedra op die skouers van die akteurs wat met oorgawe in hul rolle klim. Vinette Ebrahim speel die stille hel uit Bybie uit. Jacques Bessenger dra ’n tragi-kleed in sy omarming van Ryno. Leandie du Randt, ’n nuwe toevoeging as die sesde vrou van Frank Opperman se Tjoppie Terreblanche, die hoof van ’n motorkapingsindikaat, se litte is los in ’n loopbaanbeste vertolking. As Veronika is sy in ’n gemaskerde stryd om oorlewing. Nes Christelle, nes Bybie, nes Moekie, nes elke ander vrou. 

Koek, Leandie dur Randt
Leandie du Randt as Veronika, een van die nuwe karakters in Koek se tweede seisoen.

En in hierdie stryd word die vroue emblematies van ’n tipe Machiavellisme; weliswaar op ’n spektrum waarin die doel die middele – manipulasie, seks, leuens, morele verrotting – regverdig. Aan die een uiterste van hierdie spektrum is Moekie wat al haar verhoudings as strategiese geleenthede beskou; ’n gewillige deelnemer aan dié “speletjie”. En dan het ons vir Christelle, ’n gedwonge speler wat reaktiewe skuiwe maak vir blote behoud. Waar Moekie se moraliteit lankal verlore is, klou Christelle verbete vas. En dan kyk ek die twee so en wonder of daar werklik ’n manier vir vroue is om onsself te laat geld sonder om onsself te verloor. Everything’s got a price, right? Even authenticity. 

Diep herkenbaar, dié rit

Koek is reeds met sy eerste seisoen gekenmerk as ’n storie wat ’n groot swart kruis deur stereotipiese uitbeeldings van vroue trek. Die tweede uittog vat dit ’n stap verder. Daar is meer ruimte vir die uitbeelding van rou kwesbaarheid, van (self-)verwyt, van shame, van oorvloedige spyt, van self-deprication, van ’n multi-dimensionaliteit wat die duisende wêrelde en mense wat binne ons bestaan, uiting gee.  

Koek, gestroop tot sy naakte kern, is diep, diep, diep herkenbaar. Dit floreer in Olwagen, Du Preez en Nel se balans tussen die alledaags en “warrefok?”. Die storie-spronge is ewe lukraak as “oh, of course.” Dan is Christelle besig om oor toesig van haar dogter te baklei en dan tob sy oor verlore liefde en verkeerde besluite en spyt en dan is haar hande weer bebloed. Onderdrukte chaos; hoe ons voetjies verbete en desperaat skop onder die water waar niemand kan sien hoe naby ons kom aan sink nie. 


Koek S2 première met twee episodes op Dinsdag 9 Junie. Daarna word een nuwe episode weekliks vrygestel. Die reeks sal op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette beskikbaar wees. DStv Stream is gratis vir alle intekenare, maar ook beskibaar as ’n losstaande stroomdiens. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer
Sien alle opsies