Menu terloops
In Onderhoude [10 Mar 2025]

Aktrise Lorcia Cooper Kumalo oor ‘Breekpunt’, toneelspel en Afrikaans op TV


Vir haar spel as Tyson in ‘Lockdown’ het sy ’n Safta gewen. En vir haar vertolking as speurder Morapedi in die Showmax Original-treffer ‘Red Ink’, is sy by die Nasionale Rolprent- en TV-pryse vereer. Nou vat Lorcia Cooper Kumalo die tenniswêreld in die nuwe Showmax Original-dramareeks, ‘Breekpunt’, aan.

Deur Rozanne Els

Kyk 'Breekpunt'

Aktrise Lorcia Cooper Kumalo oor ‘Breekpunt’, toneelspel en Afrikaans op TV
Kyk lokprent

“Dit was ’n loopbaanhoogtepunt om só trots outentiek te kon wees,” vertel die bekroonde aktrise Lorcia Cooper Kumalo oor haar rol as Rozlynne Joshua in Showmax se nuwe Afrikaanse dramareeks, Breekpunt.

Dié reeks draai grotendeels om Rozlynne se tienerdogter, Ashleigh (Spinners-ster Chelsea Thomas), en dié se grootse drome om op die internasionale tennisverhoog mee te ding. Ashleigh se uitdagings is egter nie net op die tennisbaan nie. Haar pa (vertolk deur Arendsvlei se Sherman Pharo) is veral hewig gekant teen Ashleigh se planne om ’n professionele tennisspeler te word (weens duistere redes wat al duideliker word soos die storie ontvou) en sy het net-net haar ma se steun – maar ook haar konstante kritiek oor als en wat nog. Delf egter ’n bietjie dieper en Rozlynne se haas onmoontlike posisie kom in skerp fokus.

“Rozlynne en haar man stem nie saam oor hul dogter se gawe en potensiaal nie, so wat doen jy as ouer? Doen jy wat jy dink jou kind nodig het? Of doen jy wat jou man wil hê?” verduidelik Lorcia. “Vir my bring dié konflik die menslike verhaal van die keuses waarmee ’n ma worstel onder die loep. Kies sy haar kind? Of eer sy die heilige ooreenkoms tussen man en vrou? Die keuse is kompleks.”

Dis juis haar karakter se eie kompleksiteit wat dié aktrise tot die rol gelok het, vertel sy. “Ek het ’n hele paar vrae gehad nadat ek die draaiboek gelees het. Ek moes myself afvra of sy skynheilig optree, en of sy tog net menslik is. Ek hou ook daarvan om ’n uitdaging aan te pak. Dít laat my toe om dieper in myself te delf, maar ook om meer vrae oor die menslike toestand te vra. Ek was ook gelok deur haar pogings om ’n miljoen verskillende ruimtes te navigeer terwyl sy aan haar eie integriteit probeer vashou, maar só ook haar man, dogter én seun se integriteit,” sê sy.

Breekpunt Lorcia Cooper, Rozlynne, Showmax

Lorcia Cooper Kumalo as Rozlynne in Breekpunt. Foto: Verskaf

Egtheid en ma-wees

Hoe gemaak om ’n outentieke lewe te lei as ’n mens in soveel verskillende rigtings getrek word? “Daar is ’n verwagting dat vroue goed moet wees in alles wat hulle doen. Hulle moet ’n goeie vrou, ’n goeie ma, ’n goeie vriendin, ’n goeie werker wees. Ek dink die druk om dié fasade van perfeksie te probeer volhou, belemmer eerder mense se pogings om ’n egte lewe te lei,” meen Lorcia.

Die reeks se temas spreek ook onder meer tot die samelewing se gedeelde ervarings van ouerskap se uitdagings. “Om ’n ouer te wees, is nie eenvoudig nie,” brei Lorcia daaroor uit. “Net omdat ons kinders talentvol in iets is, beteken nie dat dit (daardie talente) hulle gelukkig maak nie. Soos my seun in Breekpunt, Carl (Nahum Hughes). Hy is baie akademies en die verwagting is dat hy iets intellektueel moet doen. Maar wat as dit nie by hom pas nie? Wat as dit wat hom werklik gelukkig maak, iets is wat jy as ouer nie van hou nie? Soms word dit wat ons wil hê groter as wie ons kinders is en wat hulle wil hê. So dít is een deel daarvan: om ons kinders te sien vir wie hulle is, eerder as wie ons wil hê hulle moet wees.”

Lorcia dui ook op die storie se uitbeelding van ’n ma se liefde – liefde wat van “onskatbare waarde” is, sê sy. “Die storie wys hoe die liefde van ’n ma soms enige soort logika oortref. Ons sien baie gevalle waar ma’s hul kinders gefaal het. Maar ek wil mense herinner dat daardie soort liefde wel steeds bestaan.”

Aparte wêrelde

Die aktrise, wat haar TV-debuut meer as 20 jaar gelede as Charmaine in e.tv se Backstage gemaak het, vertel dat sy nie ’n toneelspeler is wat haar eie ervarings gebruik om haar karakters te vorm nie.

Lorcia Cooper
Lorcia Cooper Kumalo as speurder Morapedi in die Showmax Original-treffer Red Ink. Foto: Verskaf

“Die werk wat ek doen en die lewe wat ek leef, is baie ver verwyderd van mekaar. Ek gebruik nie my persoonlike ervarings om ’n karakter in te kleur nie; ek maak op die draaiboek staat. Ons het al almal uitdagings gehad – dalk moeilike kinderjare of traumatiese dinge wat met ons gebeur het. Ons gaan na terapie vir daardie dinge. Ek glo nie daarin om goed te herleef of om my lewe as inspirasie vir my kuns te gebruik nie.

“Ek dink die gawe wat God vir my gegee het, en die deernis wat ek vir alle mense het, is genoeg vir my om enige tipe karakter te bou.”

Lorcia Cooper
Lorcia Cooper Kumalo het ’n Safta vir haar rol as Tyson in Lockdown op Showmax gewen. Fotot: Verskaf

“Pragtige” eerste vir Lorcia

Maar, ten spyte van al haar jare as aktrise, was Breekpunt haar eerste ervaring as deel van ’n hoofsaaklik bruin rolverdeling. “Dit was so ’n pragtige ervaring,” sê sy. “Om, byvoorbeeld, in ’n aksent te kan praat wat getrou aan Kaapstad en ons gemeenskap was. Dikwels, as ons Afrikaans op skerm praat, word ons gedwing om dit ‘netjies’ te maak. Om, byvoorbeeld, ‘jy’ in plaas van ‘djy’ te sê al kom jou karakter van Athlone of Eersterivier waar ons oorwegend ‘djy’ sê. Bruin mense se dialekte is uiteenlopend. Ek voel dat dít juis deel uitmaak van wat so wonderlik daarvan is om bruin te wees.”

Wat veral vir haar uitsonderlik van haar ervaring op dié reeks was, vertel Lorcia, is dat dit nie nodig vir haar was om te baklei om die Afrikaans waarmee sy grootgemaak is te praat nie. “Ek dink vervaardigers, skrywers en uitsaaiers faal ons dikwels wanneer hulle ons dwing om die Afrikaans te praat wat eie aan hulle, eerder as die karakter, is. Dis nie nodig om ons (taalgebruik) ‘skoon’ te maak nie; ons hoef nie ‘aanvaarbaar’ te wees of te word nie. Ons hoef nie skaam te wees oor hoe ons praat nie.

“As bruin mense moet ons ’n identiteit kan hê wat meer is as net, ‘O, ja, hulle kom van die Kaapse Vlakte.’ Nee, ons identiteit is ook hoe ons praat, hoe ons lyk, en hoe anders ons almal lyk en klink, ons verskillende gelowe en verskillende kulture. Ons is nie een ding nie, net soos daar nie net een manier is om Afrikaans te praat nie. In die bruin gemeenskap verskil die dialekte heeltemal van een persoon tot die volgende, so ons behoort nie net een tong op die skerm te hoor nie.

“Dit was ’n loopbaanhoogtepunt om só trots outentiek te kon wees.”

Jong akteurs herinner aan passie vir toneelspel

Buiten Chelsea Thomas as Asheligh, is daar ’n rits jong akteurs wat deel van die rolverdeling uitmaak. Daaronder tel ook die Spinners– en Arendsvlei-ster Cantona James as ’n voormalige tenniskampioen en N’kone Mametja as Ashleigh se beste vriendin. Ten spyte van haar meer as twee dekades se ondervinding, hou Lorcia nie daarvan om as rolmodel of mentor vir jonger akteurs bestempel te word nie. Sy is, sê sy beslis, eerder net “regtig bewus daarvan om oop met mense te wees, hulle te sien en ruimte vir hulle te hou.

“Wanneer jy op ’n stel werk, leer jy mense goed ken; jy raak verlief op hulle. Elke enkele jong persoon op daardie reeks was vir my mense by wie ek kon leer en wat vir my gewys het hoe passievol hulle is oor wat hulle doen. Hulle was toegewyd, heeltemal verdiep (in hul werk), en 100% teenwoordig,” deel sy.

“Die professionaliteit was net onwerklik… Om die jonger kunstenaars dop te hou, het my herinner aan hoe ons moet voel oor wat ons doen. Hulle inspireer my en ek het ’n weergawe van myself in elkeen van hulle waargeneem.”


Breekpunt is vanaf vandag, 10 Maart 2025, op Showmax beskikbaar. Nuwe episodes word weekliks op Maandae tot en met 28 April vrygestel.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies