Vir maande lank al is Skemergrond-kykers op ’n emosionele wipwarit soos ons toekyk hoe Gloria midde die gevaarlike wêreld van misdaadbaas Beeno (Duncan Johnson) probeer koershou. Gloria se verhaal, met merkwaardige diepte vertolk deur die aktrise Hunter Plaatjies, is hartverskeurend en boeiend. Veral haar besluit om haar eie geluk en verhouding met Kevin (Gershwin Mias) op te offer om só haar geliefdes te beskerm, trek-trek aan die hartsnare. Maar met Beeno wat nou op ’n huwelik aandring, is Kevin vasbeslote om Gloria nie net uit dié penarie te bevry nie, maar ook om die bendeleier agter tralies te sit.

“Toneelspel was nog altyd ’n groot passie,” deel Hunter. Maar hoewel Hunter, ’n 28-jarige aktrise van Kuilsriver in Kaapstad, op skool in poësie, eisteddfods en debat uitgeblink het, is sport ook diep in haar lewe gewortel – soveel so dat sy sportwetenskap as haar studieveld oorweeg het voordat haar liefde vir die kunste haar oortuig het om ’n dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch na te jaag.
“Nadat ek my honneurs (in drama) voltooi het, het ek by die kampus-radiostasie gewerk en Half Time with Hunter op MFM aangebied, maar my eerste TV-rol het in 2019 met Arendsvlei as Saartjie gekom. Dit het gevoel of ek in die diep kant ingegooi is, maar dit was die beste ding wat kon gebeur het. Ek het so baie by die mense en die produksiespan geleer,” vertel sy oor haar die beginjare van haar loopbaan.
Van sorgvrye Saartjie tot weerbare Gloria
Sedert haar TV-debuut in Arendsvlei het Hunter haar veelsydigheid as aktrise in reekse soos Showmax se Trompoppie, die bekroonde Koek en die Afrikaanse misdaaddrama, Die Byl, gewys. Dit is egter haar huidige rol as Gloria wat haar sover die meeste uitgedaag het, vertel sy.

“Saartjie en Gloria verskil op baie maniere. Saartjie was sorgvry en nog op skool. Sy het min verantwoordelikhede gehad, wat uiteindelik tot haar probleme met dwelms gelei het. Gloria, aan die ander kant, is gedwing om vroeër volwasse te word. Sy moet ’n huishouding onderhou en vir haar broer sorg. Waar Saartjie ’n meisie was, is Gloria ’n vrou.”
Ek ken ’n paar regte Glorias – vroue wat hulself altyd tweede stel vir hul families of in verhoudings vasgevang is waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Ek wou hul stories vertel.
Hunter Plaatjies
Gloria se huidige storielyn het baie emosionele diepte van Hunter geverg, maar sy skram nie sommer weg van ’n uitdaging nie.
“Sy (Gloria) is in ’n verhouding waarin sy nie wil wees nie, maar sy bly daarin weens haar verantwoordelikhede teenoor haar broer en haar liefde vir Kevin. Dit is ’n komplekse situasie waarmee baie vroue in die regte lewe kan vereenselwig. Ek het besef dat slegte dinge soms met goeie mense gebeur, en dit is presies wat met Gloria gebeur het.”
Die emosionele tol van Gloria se reis
Om Gloria se stryd uit te beeld was nie maklik nie, maar Hunter benader die rol met groot sorg en empatie. “Ek ken ’n paar regte Glorias – vroue wat hulself altyd tweede stel vir hul families of in verhoudings vasgevang is waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Ek wou hul stories vertel. In Suid-Afrika is geslagsgebaseerde geweld, sowel emosionele as fisieke mishandeling, ’n realiteit vir so baie mense,” benadruk sy.
Tog is dit vir Hunter noodsaaklik om teen die einde van die dag uit Gloria se skoene te klim. “Ek moet myself herinner dat dit ’n karakter is wat ek vertolk. As akteurs voel ons emosies op ’n baie intense vlak, en ons neem dikwels ons rolle se emosies saam met ons. Maar ek moet Gloria en Hunter skei. Daarom bid ek voor werk en ek maak seker ek skud dit daarna af – of dit nou is wanneer ek netbal met vriende speel of net by die huis ontspan.”

Haar kollegas, die veteraanakteur Duncan Johnson as Beeno, en Gershwin Mias as Kevin, het ook deurslaggewende rolle gespeel in die skep van ’n veilige ruimte vir Hunter. “Duncan en Gershwin is albei ongelooflik ondersteunend. Duncan se karakter is boos en intens, maar hy het ’n ruimte geskep waarin ek as aktrise kon veilig voel. Dit het my toegelaat om Gloria se pyn en stryd met egtheid te kan uitbeeld. Kwesbaarheid is noodsaaklik in ’n storielyn soos hierdie. Die ondersteuning van my mede-akteurs, span en regisseurs het ’n groot verskil gemaak. Dit was regtig ‘n spanpoging.”
Groei, uitdagings en hoop vir Gloria
Gloria se karakter het ook aansienlik ontwikkel sedert haar eerste verskyning in die reeks, meen Hunter. “Sy is nou sterker, minder bang en meer bewus. Aanvanklik was sy dalk naïef, maar nou het sy haar oë oopgemaak. Sommige kykers verstaan dalk nie altyd haar optrede nie. Maar as jy nie in haar situasie is nie, is dit maklik om van buite af te oordeel. Hulle sê liefde laat die wêreld draai, en dit is presies hoekom sy doen wat sy doen. (Dis als) vir die mense wat sy liefhet.”
Hunter is boonop trots op die impak wat Skemergrond op die gemeenskap het en haar rol in dié belangrike storielyn. “Ek is geëerd om deel te wees van iets groter as myself en om te help met bewusmaking rondom hierdie belangrike onderwerp. Ek glo daar is altyd lesse om te leer. Soms is dit om jou eie gedrag te erken of selfs om ander se stryd beter te kan verstaan.”
Oor Gloria en Kevin wou sy nie juis baie sê nie, maar stem wel saam met kykers dat hulle ’n goeie paartjie is! “Ek sou nie teen ’n reunion wees nie! Dit is soos twee mense wat mekaar altyd op die verkeerde tyd mis. Jy wil net hê hulle moet by mekaar uitkom, en Kevin was nog altyd daar vir haar. Wie weet wat volgende gaan gebeur…”

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.