White Lotus se regisseur en skrywer, Mike White, het met dié eiesoortige reeks se blik – en houvas op die TV-zeitgeist – vir ’n derde keer ’n storie geskep waarin ’n heftige sarsie geheime en gewigtige leuens oor die verloop van agt episodes ontvou. Dís die meeste episodes nog vir ’n White Lotus-seisoen en verleen aan die oorhoofse vertelling ’n ongejaagdheid wat ook in die idilliese Thaise agtergrond, met ape en Bhoeddas as ’n volgehoue motief, gestalte vind.
Die effense stadiger, meer terloopse ontwikkeling van dié seisoen se raaisels beteken egter nie dat daar minder op die spel is nie; steeds kleef daar ’n dringendheid aan elke toneel en skoot. Teen die einde van die vyfde episode (ses uit die agt episodes is vooraf aan die media beskikbaar gestel) is dit juis die langsaamheid van vertelling, tesame met etlike voorbeelde van ontsaghebbende toneelspel, wat onontbeerlik raak.
Hoewel die tematiese fokus verander soos die een episode in ’n ander een vloei, is White se oorkoepelende fokus en bytende satiriese kommentaar op die samelewing se rykstes soos ’n dadelik herkenbare kenwysie wat al drie seisoene tot dieselfde ideologiese pot voeg. Onder meer, en in kort: geld kan vir jou enigiets koop (selfs geluk tot ’n mate), maar daar’s ’n wesenlike verskil tussen dit wat ons wil hê en dit wat ons nodig het – en weinig mense kan die onderskeid (betyds) tref. Ook – ryk of arm – ons almal dra ons sakke sout saam met ons waarheen ons ook al gaan. Jy kan eenvoudig nie daarvan weghardloop of wegkruip nie. Altans, nie verewig nie. Maar probeer, sal ons. En dis waar grootse leuens wortel skiet.
Op sy eie gemeet, is die derde seisoen van White Lotus ’n indringende blik op hoe die dinamiek tussen status, geld, klas en mag kán uitspeel – dis donkerder as die vorige twee aflewerings, met geloof, geestelikheid en die soeke na “self” wat deel van die vertelling se fondasie vorm. White se karakters wroeg en wroeg in dié uittog. Dis juis die aanvanklike stadiger pas wat dan ruimte laat vir meer spesifisiteit – nie net van die karakters nie, maar ook in die verhoudings tussen hulle. Dit laat my wonder of sy skrywes dié keer so sekuur en bytend snaaks sou gewees het, so in die kol sou getref het, sonder dié noukeurige inkleurwerk.
Die derde seisoen begin, soos die voriges, met ’n lyk – dié keer een wat onderstebo in die kalm waters by die White Lotus-oord op Koh Samui in Thailand dobber. Om te verstaan hoe ons hier gekom het, word die horlosie met ’n week na ’n groep vakansiegangers se aankoms by die oord teruggedraai.

White se teks word haas perfek uitgevoer deur die robuuste rolverdeling, maar dis die kombinasie van Sex Education se Aimee Lou Wood en Justified se Walter Goggins wat as ’n ware openbaring ontluik.
Die effense woo-woo Chelsea staan in skrille kontras tot haar haar veel ouer kêrel, Rick (Goggins), en dis juis daardie kontras wat bydra tot beide karakters se onwaarskynlike diepte. Want ja, Chelsea kom aanvanklik as die verpersoonliking van die kleur pienk oor, lig in die broek en vinnig om te vergewe, maar sy is eintlik allesbehalwe. Nes daar agter Rick se prima doosagtigheid hartverskeurende trauma uit sy kinderjare (en waarskynlik kliniese depressie) skuil. Beide beweeg soos ontdekkingsreisigers binne hul karakters rond, wat as kyker intens bevredigend is. Goggins se Rick is een wat sy woede teenoor die wêreld goed ken, maar terselfdertyd glad nie homself nie. Dié struweling speel uit in ’n toneel waarin een van die oord se leefstyl-instrukteurs, Amrita (Shalini Peiris), hom aanpor om homself los te maak van die wêreld om hom.
Rick: I don’t need to detach, I’m already nothing.
Amrita: Even nothing can be an illusion you tell yourself.
Rick: If nobody puts gas into the tank, the tank is empty. That’s not an illusion. The car won’t start. And nothing comes from nothing, right?
Aan die ander kant van die spektrum, is daar die Ratliff-gesin, so ryk jy weet in jou beendere dis te goed om waar te wees. En dit is, want pa Tim (Jason Isaacs in ’n besonderse vertolking) se geldwassery-skelmstreke dreig om sy hele wêreld inmekaar te laat tuimel. Hy probeer naarstig keer dat sy vrou, Victoria (indie-liefling Parker Posey), en hul drie kinders, Saxon (Patrick Schwarzenegger), Lochlan (Sam Nivoal), en Piper (Sarah Catherine Hook) daarvan uitvind. Schwarzenegger is uiters vermaaklik as ’n weergawe van die stereotipiese finance bro wat diep in sy eie gat opgekruip is, terwyl Posey se Victoria meer liefbaar as onnosel oorkom as ’n bedwelmde ma wat met ’n houer vol Lorazepam haar “angs” onder bedwang probeer hou.

Ook onder die loep is drie beste vrinne – Jaclyn (Michelle Monaghan), Kate (Leslie Bibb), en Laurie (Carrie Coon). Jaclyn is ’n bekende TV-ster, Kate is heimlik (dalk) ’n Trump-ondersteuner wat in Austin, Texas met haar gesin woon en Laurie is geskei en pas vir ’n bevordering by ’n regspraktyk oorgesien. Dis die tipe vriendskap wat as kinders begin het – en waarskynlik al vaarwel geroep moes word. Wanneer net twee van die drie bymekaar is, word daar venynig oor die ander een geskinder.
White se genuanseerde begrip van menslike konflik en die veranderlikheid van menseverhoudings, is op sy skerpste in dié drie se storielyn. Dié blik op vriendskap tussen vroue, het White in ’n onderhoud verduidelik, is gegrond in die Boeddhistiese idee van hoe ons onsself in ander sien en hoe sekere mense in ons lewens maatstawwe is wat vir ons pyn veroorsaak deur hul blote bestaan. Daar was welke raakpunte in menigde karakters vir dié resensent, maar dit was dié drie se dinamika wat veral ’n harde hou geslaan het – en ek dink dieselfde gaan vir veral vroue-kykers geld.

Dan is daar ook die eerste seisoen se Belinda (Natasha Rothwell) wat as deel van ’n White Lotus-uitruilprogram by die Thaise oord aandoen om nuwe tegnieke as ’n masseuse te leer. Haar teenwoordigheid voel aanvanklik oorbodig, maar haar rol in een van die tergendste storielyne word gou duidelik.
Ek waag om die ape as karakters in te sluit – minstens as waarnemers wat in die plek van kykers alomteenwoordig is. Stilletjies sittend tussen die takke met hul oë op alles en almal. Al kan jy hulle nie sien nie, kan jy hulle hoor, of dit nou hul geblaf is of in die ritselende naggeluide soos hulle rondskarrel. Dis asof White speel met die idee van ’n alomteenwoordige god – een wat áls, regtig álles, wat jy doen, kan sien en hoor. As ’n mens daardie idee ’n bietjie verder uitbou – dié karakters steek dus tevergeefs hul diepste, donkerste geheime weg. Nou of later – onder die blink Thaise son gaan elke liewe een ontrafel word (met of sonder die ape se hulp…) Al daai sakke sout.
Deel van die reeks se groot sukses is te danke aan schadenfreude – hier is oorgenoeg leed om jou vir jare te verlekker – en White se posisionering van die storie as iets wat ewe ernstig as speels is. As sulks is enige gegewe toneel so oop vir interpretasie dat die kykerervaring werklik veelvlakkig is. Dit maak dit ook makliker om ’n houvas te kry op hoe White ook idees en vrae opper oor ons dierlike aard en ons uitdrukking en/of onderdrukking daarvan.
Dis nog vroeg in die jaar, maar buiten die tweede seisoen van Mo op Netflix – waaroor dik boekdele geskryf kan word – is die derde seisoen van The White Lotus van die beste TV wat jy kan, en moet, kyk.
Stroom al drie seisoene van White Lotus op Showmax.