Menu terloops
In Recaps & Resensies [18 Feb 2025]

’n Bom sonder plofstof – ‘Tiek Tok Boem!’ kon soveel meer wees


‘Tiek Tok Boem!’ het die potensiaal om ’n ontnugterende en plofbare dokumentêre prent te wees, maar daarvoor sou die storievertellers hulself tot ’n waarlik omvattende ondersoek – met die tipe indringende vrae wat ’n komplekse onderwerp soos dié vereis – moes toewy.  

Deur Rozanne Els
’n Bom sonder plofstof – ‘Tiek Tok Boem!’ kon soveel meer wees

Showmax se Tiek Tok Boem!, vervaardig deur Rian van Heerden en Provoco, begin met ’n belowende premis. Ook dié dokumentêre film se lokprent skep die indruk van ’n teatrale verhaal wat oor die verloop van sowat 90 minute gaan ontvou. Onder die loep is hoe Afrikaanse TikTokkers die sosiale media platform TikTok gebruik, hetsy met grappies en komediesketse (soos dié van Bouwer Bosch en Themba Robin) of met dramabelaaide verbale boksgevegte en geweld (gebruikers soos Tippex en Queen Amelda), om hul lewens bloot te lê.

Dis ’n onderwerpsveld met legio moontlikhede – veral met Afrikaans en Afrikaanssprekendes as die spesifieke fokus en beskou as deel van die groter konteks van onder meer die huidige tech bro-politieke klimaat, vraagstukke rondom hoe gebruikers se data deur verskillende sosiale media platforms gebruik word, en die noodsaaklikheid van moderators om haatlike inhoud te verwyder om so die aanhitsing van geweld en konflik in die “regte” wêreld te verhoed. 

Die eindproduk is egter ’n deurmekaarspul van verskillende idees wat nie een behoorlik uitgebou of ondersoek word nie en ’n gebrekkige kundigheid om enige van die vele, vele afdraaipaaie wat dié dokkiefilm neem binne ’n groter konteks te plaas. 

Die tekortkominge begin, ongelukkig, by die begin. Tiek Tok Boem! is ’n dokkie wat te veel stories gelyk probeer vertel en so die diepte van ’n genuanseerde blik wat deur deeglike navorsing onderskraag word, misken. Die vrae wat nie gevra word nie – veral opvolgvrae wat aan welke karakter gestel kon word ná hul dikwels teenstrydige antwoorde – is kliphard in hul afwesigheid. So ook is die keuse van kenners, wat oor onder meer die impak van sosiale media op die menslike psige praat, by tye verwarrend. In ’n stadium word dit byvoorbeeld aan ’n plaaslike sielkundige gestel om meer oor TikTok se operasionele metodiek te verduidelik. As iemand wat wél bedryfskennis hiervan dra, was die antwoord vaag, niksseggend. Daar is etlike plaaslike kenners wat in-diepte en met geloofwaardigheid hieroor kon praat, so waarom nie vir hulle inbring nie?

Die gebruik van die joernalis Marizka Coetzer as ’n tipe verteller, óftewel ’n rigtingwyser wat die kyker op koers moet hou, het wel sy voordele. Sy is ’n bekende gesig wat ware misdaadstories op Showmax betref (Devilsdorp, Stella Murders) maar haar teenwoordigheid as karakter en die redes daarvoor is in dié geval flenterig. Tog – haar vermoë om juiste gevolgtrekkings te maak – en op haar baie spesifieke, prontuit manier – verleen broodnodige gravitas.

Die keuse van die verskillende karakters wie se ervaring as TikTokkers gedeel word, is nog ’n pluimpie vir die vervaardigers. En dis juis daarom dat die onbeantwoorde vrae, die missed opportunities, so spook. Jinne, hier lê nog lae en lae… Maar dis asof wie ook al oorkant TikTokkers soos King Binlaken, Queen Amelda en Leigh Pascheka gesit het, ’n lys vrae gekry het en come hell or high water by dié lys – en net dié lys – gehou het. Asof hulle bang was om dié karakters te vervreem met die tipe indringende, moeilike en selfs ongemaklike vrae wat ’n dokumentêre film – en dié onderwerp – vereis. 

Tiek Tok Boem Leigh Pascheka
Leigh Pascheka. Foto: Verskaf

Dis Leigh Pascheka wat amper terloops ’n opmerking maak wat veel meer aandag moes kry as sy verwys na die gebrek aan Afrikaanssprekende moderators op platforms soos TikTok. Dis lank reeds ’n probleem en ’n mens hoef nie ver te soek om op die allerverskriklikste haat – in pragtige, suiwer Afrikaans – af te kom nie. Sou dié tipe inhoud en kommentaar in Engels verskyn, was dit vinnig basta met jou. Dis agter, en in, Afrikaans wat rassiste, kuberboelies, homofobe en ander haatdraers maklik op sosiale media kan wegkruip. 

In ’n ander formaat, dalk as kort episodes, sou die gebrek aan ’n duidelike aanslag dalk nie so gepla het nie. Inteendeel – dit sou ruimte geskep het vir die storievertellers om al die afdraaipaaie wat hulle neem van nader te bekyk en te ontleed. Maar ná 90 minute van Tiek Tok Boem! wonder ek steeds waarheen dié dokkie op pad was. 


Tiek Tok Boem! is vanaf 18 Februarie 2025 op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies