Menu terloops
In Recaps & Resensies [18 Feb 2025]

’n Bom sonder plofstof – ‘Tiek Tok Boem!’ kon soveel meer wees


‘Tiek Tok Boem!’ het die potensiaal om ’n ontnugterende en plofbare dokumentêre prent te wees, maar daarvoor sou die storievertellers hulself tot ’n waarlik omvattende ondersoek – met die tipe indringende vrae wat ’n komplekse onderwerp soos dié vereis – moes toewy.  

Deur Rozanne Els
’n Bom sonder plofstof – ‘Tiek Tok Boem!’ kon soveel meer wees

Showmax se Tiek Tok Boem!, vervaardig deur Rian van Heerden en Provoco, begin met ’n belowende premis. Ook dié dokumentêre film se lokprent skep die indruk van ’n teatrale verhaal wat oor die verloop van sowat 90 minute gaan ontvou. Onder die loep is hoe Afrikaanse TikTokkers die sosiale media platform TikTok gebruik, hetsy met grappies en komediesketse (soos dié van Bouwer Bosch en Themba Robin) of met dramabelaaide verbale boksgevegte en geweld (gebruikers soos Tippex en Queen Amelda), om hul lewens bloot te lê.

Dis ’n onderwerpsveld met legio moontlikhede – veral met Afrikaans en Afrikaanssprekendes as die spesifieke fokus en beskou as deel van die groter konteks van onder meer die huidige tech bro-politieke klimaat, vraagstukke rondom hoe gebruikers se data deur verskillende sosiale media platforms gebruik word, en die noodsaaklikheid van moderators om haatlike inhoud te verwyder om so die aanhitsing van geweld en konflik in die “regte” wêreld te verhoed. 

Die eindproduk is egter ’n deurmekaarspul van verskillende idees wat nie een behoorlik uitgebou of ondersoek word nie en ’n gebrekkige kundigheid om enige van die vele, vele afdraaipaaie wat dié dokkiefilm neem binne ’n groter konteks te plaas. 

Die tekortkominge begin, ongelukkig, by die begin. Tiek Tok Boem! is ’n dokkie wat te veel stories gelyk probeer vertel en so die diepte van ’n genuanseerde blik wat deur deeglike navorsing onderskraag word, misken. Die vrae wat nie gevra word nie – veral opvolgvrae wat aan welke karakter gestel kon word ná hul dikwels teenstrydige antwoorde – is kliphard in hul afwesigheid. So ook is die keuse van kenners, wat oor onder meer die impak van sosiale media op die menslike psige praat, by tye verwarrend. In ’n stadium word dit byvoorbeeld aan ’n plaaslike sielkundige gestel om meer oor TikTok se operasionele metodiek te verduidelik. As iemand wat wél bedryfskennis hiervan dra, was die antwoord vaag, niksseggend. Daar is etlike plaaslike kenners wat in-diepte en met geloofwaardigheid hieroor kon praat, so waarom nie vir hulle inbring nie?

Die gebruik van die joernalis Marizka Coetzer as ’n tipe verteller, óftewel ’n rigtingwyser wat die kyker op koers moet hou, het wel sy voordele. Sy is ’n bekende gesig wat ware misdaadstories op Showmax betref (Devilsdorp, Stella Murders) maar haar teenwoordigheid as karakter en die redes daarvoor is in dié geval flenterig. Tog – haar vermoë om juiste gevolgtrekkings te maak – en op haar baie spesifieke, prontuit manier – verleen broodnodige gravitas.

Die keuse van die verskillende karakters wie se ervaring as TikTokkers gedeel word, is nog ’n pluimpie vir die vervaardigers. En dis juis daarom dat die onbeantwoorde vrae, die missed opportunities, so spook. Jinne, hier lê nog lae en lae… Maar dis asof wie ook al oorkant TikTokkers soos King Binlaken, Queen Amelda en Leigh Pascheka gesit het, ’n lys vrae gekry het en come hell or high water by dié lys – en net dié lys – gehou het. Asof hulle bang was om dié karakters te vervreem met die tipe indringende, moeilike en selfs ongemaklike vrae wat ’n dokumentêre film – en dié onderwerp – vereis. 

Tiek Tok Boem Leigh Pascheka
Leigh Pascheka. Foto: Verskaf

Dis Leigh Pascheka wat amper terloops ’n opmerking maak wat veel meer aandag moes kry as sy verwys na die gebrek aan Afrikaanssprekende moderators op platforms soos TikTok. Dis lank reeds ’n probleem en ’n mens hoef nie ver te soek om op die allerverskriklikste haat – in pragtige, suiwer Afrikaans – af te kom nie. Sou dié tipe inhoud en kommentaar in Engels verskyn, was dit vinnig basta met jou. Dis agter, en in, Afrikaans wat rassiste, kuberboelies, homofobe en ander haatdraers maklik op sosiale media kan wegkruip. 

In ’n ander formaat, dalk as kort episodes, sou die gebrek aan ’n duidelike aanslag dalk nie so gepla het nie. Inteendeel – dit sou ruimte geskep het vir die storievertellers om al die afdraaipaaie wat hulle neem van nader te bekyk en te ontleed. Maar ná 90 minute van Tiek Tok Boem! wonder ek steeds waarheen dié dokkie op pad was. 


Tiek Tok Boem! is vanaf 18 Februarie 2025 op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies