Menu terloops
In Onderhoude [19 Feb 2025]

‘Tuiskoms’: Afrikaanse storie met ’n universele hart


Afrikaanse televisiereekse deur die kreatiewe-duo Louis Pretorius en Albert Snyman van Infinity Films is ongeëwenaar en van 28 Februarie af word die reikwydte van hul storiekuns vergroot na ’n internasionale gehoor, wanneer die reeks ‘Tuiskoms’ op Netflix vrygestel word.

Deur Riëtte van der Wat
‘Tuiskoms’: Afrikaanse storie met ’n universele hart
Kyk lokprent

Wanneer die sewe episodes van Tuiskoms op 28 Februarie op Netflix uitgereik word, sal kykers in 190 lande toegang hê tot hierdie reeks met Amalia Uys, Michelle Botes,  Jane de Wet en Armand Aucamp in die hoofrolle. Boonop sal kykers bekendgestel word aan die lieflike kuslyn en natuurskoon van Wildernis aan die Tuinroete, waar die reeks afspeel.

“Dink, Virgin River, met meer humor en baie meer blomme,” skerts die bemarkingsmateriaal oor hierdie verhaal van Fleur (Uys), wat deur teëspoed getref word en saam met haar tienerdogter (De Wet) moet terugtrek na haar ouerhuis op Wildernis. Hier kry sy ’n werk by ’n blommewinkel en begin sy haar lewe herbou. Die ontslape Botes en Dawid Minnaar vertolk die rolle van Fleur se ouers.

Mense wat ook net leef

Die feit dat Tuiskoms deur ’n internasionale stromingskanaal ontwikkel is, bied  fantastiese blootstelling vir die Afrikaanse televisiebedryf. Maar dit bied, meer as enigiets anders, ’n geleentheid om internasionale gehore vir ’n slag aan ’n ander kant van Suid-Afrika bloot te stel as die donker prentjie oor die land wat in die media geskets word, meen Louis Pretorius van Infinity Films.

Tuiskoms
is dié bekroonde produksiehuis, met reekse soos Die Boekklub, Fraksie en Fynskrif op hul kerfstok, se eerste projek vir Netflix. Dié reekse, asook Infinity Films se Troukoors, is tans op Showmax beskikbaar. 

“Netflix bied ’n platform om ’n ander kant van Suid-Afrika te wys en om ’n storie te vertel van liefde, romanse, komedie en hoop. Dit wys daar is ook maar net mense hier in Suid-Afrika wat elke dag lééf,” sê Louis, wat die reeks geskryf het saam met sy vennoot Albert Snyman; Rosalind Butler en Sandra Vaughn.

Dis uiteraard baie lekker om ’n storie in jou eie taal te hoor, maar die eintlike sukses van ’n reeks kom neer op stórie, meen Louis.

Maar waarom dan in die eerste plek ’n Afrikaanse reeks maak vir ’n platform soos Netflix?

“Die ding is, as jy ’n storie in jou taal vertel, vertel jy ook iets van die kultuur van daardie taal. Taal verleen ’n spesifisiteit aan karakters: iemand wat Afrikaans praat, het ’n spesifieke uitkyk op die lewe, ’n sekere agtergrond, ’n konteks waarbinne hulle grootgeword het.

“Om iets in Afrikaans te doen, verleen aan jou die geleentheid om iets in ’n baie spesifieke konteks te plaas en baie spesifieke karakters te skep. Maar uiteindelik is die groot ding vir my met stories, dat hoe meer spesifiek dit is, hoe meer universeel dit ook kan word,” sê Louis.

“Daar is ’n teenargument dat taal slegs ’n instrument is om jou storie te vertel, maar as jy byvoorbeeld na ’n reeks soos Derry Girls (ook op Netflix) kyk, wat in Noord-Ierland in die 90’s afspeel, sien jy duidelik hoe taal ’n spesifisiteit aan daardie karakters gee. Die taal, konteks en landskap maak die storie ‘werklik’.”

Louis meen Suid-Afrikaanse stories kan op dieselfde manier internasionaal resoneer. “Die ongelooflike ding van Suid-Afrika was nog altyd dat ons, ten spyte van ons verskille, ’n samehorigheid en menslikheid het. En ek dink daar is stories uit Suid-Afrika en oor ons gemeenskappe wat kan hoop bring in hierdie distopiese Orwelliaanse-wêreld waarin ons leef.”

Die rolverdeling: TV-familie met gravitas

Drie generasies vroue vorm die spilpunt waarom Tuiskoms wentel en Louis vertel die drie aktrises in die hoofrolle, het ’n ongelooflike driemanskap gevorm.
“Dit was wonderlik om met Michelle Botes te werk. Haar siekte was baie privaat en het eintlik geen rol in die verfilming gespeel nie. Ook nie in haar performance nie,” vertel Louis.
Amalia, wat Fleur speel, het daai ongelooflike vermoë om subtiel te vervorm tot wat jy nodig het vir ’n karakter. Sy is uiteindelik soos ’n diamant wat jy in die lig hou en net kan draai om ’n ander refleksie te kry.”
“Sy het ’n ongelooflike reis deur die reeks geskep en was tydens verfilming, wat nie chronologies was nie, baie gesteld daarop om Fleur se karakterontwikkeling op die reg te plaas. Sy het geweet waar haar karakter vandaan kom en waarheen sy op pad is.”
As Kelley, is Jane de Wet “genuanseerd snaaks en deernisvol”, sê Louis.
“Jane is so intelligent en werk ewe hard met haar kop en haar hart. Eindelik sien jy net ’n eerlikheid. Sy het ’n lieflike Kelley geskep.
“Die hele geselskap was fantasties en daar was nie ’n vals noot nie. Ons het vyf en ’n half weke saam deurgebring op stel, so jy leer almal ken en word later soos ’n familie wat alles gee om hierdie projek op die skerm te kry.”
Tuiskoms
Michelle Botes as Abigail in Tuiskoms. Foto: Netflix

Wêrelde wat groei en verander

As skrywer is dit nie altyd moontlik om te verwoord waar stories vandaan kom nie en in sekere opsigte is Louis heel prakties daaroor. “Dit gaan op die ou einde oor die kykersmark en die feit dat alle uitsaaiers kykers of intekenare soek. Dis dalk sinies en donker, maar dis waar en jy moet weet jy is deel van daai masjien,” verduidelik hy.

“Binne daardie konteks moet jy probeer om stories te vertel – of dit nou is vir ’n drama wat oor drie seisoene hardloop, of ’n romanse wat deur ’n kanaal of netwerk aangevra is.”

Die verkenning van verskillende wêrelde binne hierdie “storiemasjien” laat hom tiek. Of dit nou die regswêreld van Fynskrif, of die lewe van ’n ambisieuse beleggingsbestuurder, soos in Fraksie, is.

“In die geval van Tuiskoms, het die idee by Wildernis begin. Dis so ’n ongelooflike plek om ’n storie te kan vertel. Toe het ek gedink ek wil met blomme werk en ’n blommewinkel, en so begin die storie ontwikkel,” sê Louis.

“Die ander kant daarvan is dat ek vra wie die karakters is en hoe hulle verander. Vir televisie is die groot ding daai oomblik wanneer die karakter se lewe vir altyd verander, of in ’n nuwe rigting gestuur word. In Die Boekklub is dit Tom se ouma wat sterf en die gastehuis wat hy erf. In Fynskrif is dit Ben wat terugkom. En in Tuiskoms, begin dit met Fleur (Uys) wat haar restaurant verloor.

“Daardie oomblik wat die karakters op reis stuur en die manier waarop hulle binne ’n nuwe wêreld verander, is baie belangrik.”

Dis nie die eerste keer wat stories uit Afrika op Netflix vertel word nie: “Die mense met wie ons werk by Netflix Africa, in Amsterdam, is onder meer van Suid-Afrika en Nigerië. Omdat hulle al ander Suid-Afrikaanse stories vertel het, kén hulle hierdie wêreld,” sê Louis. “Daar is in elke voorlegging ’n afdeling waar jy die wêreld moet beskryf en nogal baie tyd word bestee om die spesifisiteit van alles te probeer vasvang.”

Tuiskoms
Amalia Uys as Fleur, Armand Aucamp as Werner in Tuiskoms. Oor Armand sê Louis: “Ek en Armand stap ’n geweldige lang pad. Hy verstaan my tekste en waar om dit te plaas soos min ander kan.” Foto: Netflix.

Die luukse van tyd

Die idee vir Tuiskoms kom al van 2021 af. Louis-hulle het die reeks vir die eerste keer in Augustus van 2022 aan Netflix voorgelê en die ontwikkelingsproses, wat sowat twee jaar geduur het, was meer intens as enigiets wat hy al vantevore gedoen het.

“Die oorpronklike titel was Wilder Hearts en die reeks het aanvanklik meer episodes gehad. Nadat Netflix dit aanvaar het, moes ons die konsep tot sewe episodes herskryf. Ons vier, ek, Albert, Sandra en Rosalind, het Wildernis toe gery om idees te gaan soek en het so op die blommewinkel en proteaplaas afgekom.

“Daarna het ons twee weke lank in ’n konferensiekamer gesit en die basiese struktuur van die reeks uitgewerk, voor ons terugvoer gekry het en die storiebybel kon skryf. Werk aan die draaiboek kon eers ná nog verdere terugvoer begin.” 

Die uurglas loop meestal maar vinnig uit wanneer televisieprojekte in Suid-Afrika aangepak word, maar met dié stromingsreus aan die stuur van sake, het Louis-hulle die luukse van tyd ervaar.

Die ongelooflike ding van Suid-Afrika was nog altyd dat ons, ten spyte van ons verskille, ’n samehorigheid en menslikheid het. En ek dink daar is stories uit Suid-Afrika en oor ons gemeenskappe wat kan hoop bring in hierdie distopiese Orwelliaanse-wêreld waarin ons leef.

Louis Pretorius

“Omdat ek so lank met die projek saamgeloop het, het dit bly vervorm en verander. Die wonderlike ding van tyd, is dat dit jou onderbewuste ruimte gee om dinge verder te vat en patrone raak te sien,” sê Louis. “Daar sit ’n hele masjien agter Netflix waarvan ’n mens nie eintlik weet nie. Elke rat in die hele stuk word meer as een keer oorweeg en opnuut aanmekaargesit en die skaal van die post-produksieproses was meer intensief as enigiets waaraan ons al ooit gewerk het.

“En dan is daar ook al die verwagtinge rondom die feit dat die reeks in soveel lande en op enige moontlike tipe toestel gekyk kan word.”

Netflix het die oorklanking van die reeks behartig. “Ons het die projek in Afrikaans gelewer, met Engelse onderskrifte, en dan word dit deur Netflix gelokaliseer vir verskillende gehore,” verduidelik Louis dié proses.

Met die stromingsreus se ondersteuning, kon Louis-hulle dit vermag om ’n projek te vervaardig wat op dieselfde standaard is as internasionale reekse waaraan visueel geletterde gehore so gewoond is. 

Reg vir gehore, wêreldwyd

En hoe voel dit, om ná soveel maande, die eindproduk te sien? “Ek sê altyd ek gaan vier keer deur die proses: eers die skryfproses, dan die pre- en postproduksie en uiteindelik hoe die reeks ontvang word. Ons is nou in daai tussenfase waar die reeks voltooi is, maar dit nog nie deur die gehoor gesien is nie.

“Ons is geweldig gelukkig en trots op wat ons gedoen het en ek dink ons het ’n baie mooi storie vertel. Maar ek, Albert en Nina Swart (die regisseur), praat altyd daaroor dat die probleem met enige reeks wat jy self geskep het, is dat jy presies onthou watter uitdaging of probleem daar met elke skoot was.

“Maar partykeer kan jy jouself losmaak van daai goed en dit net kyk vir wat jy bereik het. Toe die lokprent uitgereik is, kon ek voel, ‘Hier is dit nou, ons het dit gedoen’. Nou is dit wag en kyk wat die wêreld daarmee gaan maak. En dis regtig ’n ondenkbare ding vir my om te sê die reeks gaan potensieel deur mense van regoor die wêreld gekyk word.”

Oor Nina Swart, regisseur

Vir die regisseur, Nina Swart, het Louis net lof.
“Sedert Fynskrif het sy, buiten vir Kompleks, die regie van al Infinity se reekse gedoen. Nina beskou haarself nie as ’n akteur nie, al ís sy een. Sy is ’n ongelooflike spelleier en verstaan teks soos niemand anders nie. Dit is nooit vir my nodig om te verduidelik wat ek met iets bedoel nie, want sy verstaan dit intuïtief.
“Nina glo in storie, karakter en spel bo enigiets anders. Sy is tegnies briljant en werk so visueel sterk as moontlik, maar sy plaas die storie altyd eerste.
“In Sunel Haasbroek het ons ’n fantastiese kinematograaf (DOP) gehad. Al die afdelings het saamgewerk om van Tuiskoms ’n visuele skouspel te maak.”

Die belangrikste gehoor is tuis

Plaaslike kykers, en spesifiek Afrikaanse kykers in die geval van Tuiskoms, was egter nog altyd Louis-hulle se belangrikste gehoor. 

“Ek dink die Afrikaanse gehoor word nog partykeer onderskat,” sê hy. “Die Afrikaanse kyker het die afgelope tien, vyftien jaar geweldig verander. Daar is soveel verskillende gemeenskappe binne die Afrikaanse kykersmark en almal soek hul eie stories. 

“Toe my pa so ruk terug by my kom kuier het, het ek vir hom Jack Ryan op Prime gewys en hy was mal daaroor. Want almal, ongeag ouderdom of kultuurverskille, is eintlik visueel geletterd. En almal soek ’n goeie storie.”


Vanaf 28 Februarie 2025 op Netflix.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies