Menu terloops
In Onderhoude [11 Feb 2025]

Gys en Zelda se romantiese wipwarit in ‘Diepe Waters’


Ons weet nie wat die toekoms vir ‘Diepe Waters’ se Zelda en Gys inhou nie – dis maar ’n wispelturige romanse – maar van die liefde ken hulle goed, op en van die skerm af. Ons het met dié twee veteraanakteurs oor hul karakters se liefdesverhaal, intimiteit op stel en hul advies aan jong verliefdes gesels. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Gys en Zelda se romantiese wipwarit in ‘Diepe Waters’

As dit by die liefde kom, is dinge nie altyd maanskyn en rose in sepieland nie. En dis juis paartjies soos Diepe Waters se Gys (vertolk deur Justin Strydom) en Zelda (vertolk deur Sandi Schultz) wat van sepieliefde ’n opwindende avontuur maak en kykers op hul tone hou. 

Toe Zelda aan die begin van hierdie gewilde kykNET-telenovela haar mag oor Gys om elke hoek en draai probeer wys het, sou ek nooit kon raai dat hulle nou op trou sou staan nie. Ek sou nog minder kon raai dat Zelda se dogter se lang verlore biologiese pa toe heeltyd Gys is. Tog bring hul liefde ’n sagter kant in die ander uit. 

Ons het met dié twee veteraanakteurs oor hul karakters, intimiteit op stel en hul advies aan jong verliefdes gesels. 

Diepe Waters, Sandie Schultz
Sandi Schultz vertolk Zelda in Diepe Waters. Foto: Verskaf
Justin Strydom vertolk die rol van Gys in Diepe Waters. Foto: Verskaf
Justin Strydom vertolk die rol van Gys in Diepe Waters. Foto: Verskaf

Ná seisoen een se aanvanklike drama tussen Gys en Zelda – wat was jou eerste reaksie toe jy sien hierdie twee gaan weer probeer? 

Justin: “Mens sou dink Gys sou geleer het ná seisoen een se drama, maar néé, ou Gys is soos ’n stout kind met ’n boks vuurhoutjies – hy kan net nie ophou speel met vuur nie! Toe ek daardie teks lees en sien Gys gaan haar wéér seermaak, het ek net my kop geskud en gesê, ‘Gys, my ou maat, jy is jou eie grootste vyand.’ Dit is soos om vir ’n krokodil ’n drukkie te gee en te hoop hy byt nie weer nie.” 

Sandi: “Ek dink as akteurs was ons van die begin af bewus dat die plan was om hierdie karakters weer bymekaar te kry. Ons het geweet dit gaan gebeur en natuurlik is die aard van ’n telenovela dat daar nie regtig ’n storie is as karakters gelukkig is nie. Die storie kom eintlik wanneer daar konflik en drama tussen mense is. So ons het nie gedink hulle sou happily ever after lewe nie.” 

Mens sien hierdie warm en koud, aan en af-storielyn gereeld met die jong verliefdes in sepies, maar dink julle dat kykers beter van julle verwag omdat jul karakters nou al ouer en volwasse is, ?

Sandi: “Wanneer ’n mens die rol van ’n skurk vertolk, is dit nogal lekker wanneer jy vir die kykers kan wys dat daardie persoon ook maar net mens is. Hul aksies word deur pyn, teleurstelling en hartseer gedryf. Ek dink die gehoor vind tans aanklank by Zelda want hulle kan nou sien wat met haar gebeur het. Aanvanklik het hulle nie geweet wat haar so bitter gemaak het nie. Maar nou dat hulle gesien het hoe Gys haar hart gebreek het, verstaan hulle hoekom sy dit gedoen het en kan hulle haar vergewe.” 

Justin: “Verseker is mense harder op Gys! As Tsepho k@%k aanjaag, sê almal, ‘Ag shame, hy is nog jonk.’ Maar as Gys dit doen, is dit, ‘Jy is oud genoeg om te weet wat jy doen, my vriend!’ En dís waar. Die kykers se reaksies is vuurwarm, want ’n ouer paartjie met lewenservaring hóórt nie meer in hierdie drama te wees nie. Hulle behoort nou in hul gelukkige ‘ons plant tamaties in die agterplaas’-fase te wees! Maar kom ons wees eerlik – dit sou dan darem maar ’n vervelige storie wees, né?”

Diepe Waters, Gys, Zelda
Die groot oomblik wat kykers se harte vermurwe het. Foto: Verskaf

Daar is baie lae aan Gys en Zelda se liefdesverhaal in Diepe Waters. Hoe verskil hoe jy hierdie verhouding storielyn nou aanpak in vergelyking met toe jy ’n jonger akteur was?

Justin: “As ek hierdie storielyn tien jaar terug moes aanpak, sou ek waarskynlik net gefokus het op hoe mooi en passievol die verhouding is. Nou, met ’n bietjie meer lewensbagasie, sien ek die fynere lae—die bagasie, die teleurstellings, die onbeantwoorde vrae. Dit is nie net ’n ‘liefde oorwin alles’-storie nie; dit is ’n liefde is ingewikkeld en mens mors soms dinge op storie. Ek voel beslis meer gemaklik nou as wat ek as jong akteur sou gevoel het. Ek weet hoe om die emosie eerliker te speel en nie net vir die drama nie.”

Sandi: “Ek het nog altyd volgehou as jy nie empatie met jou karakter kan hê nie, moet jy nie daai karakter speel nie. As jy die karakter gaan oordeel sal jy nie outentiek in hul skoene kan staan nie. Ek het al baie met Zelda se keuses gesukkel, maar ek moes die waarheid in haar aksies vind en glo in haar waarheid. Ek het empatie vir haar en ek is bly dat ek haar sagter kant en diep pyn kan wys. Ek is seker ek vertolk haar nou anders as wat ek sou, want as akteurs vertolk ons maar eintlik ons eie lewenservaringe deur karakters. Oor die afgelope tien jaar voel dit asof ek ’n hele ander lewe gelewe het sedert ek 40 geword het. En alles wat ’n mens ervaar en deurmaak, gee jou meer om mee te speel as akteur.” 

Ek moes nog nooit voor kameras soen of kwesbaar wees nie, maar as akteur is dit deel van jul werk. Is dit steeds soms ongemaklik en gebruik julle ‘n intimiteitskoördineerder op stel?

Justin: “Kyk, daai eerste intieme toneel as jong akteur was ’n nagmerrie! Ek het soos ’n graad 8-leerder, wat vir die eerste keer in ’n Valentynsbal se slow dance vasgevang word, gevoel. My palms was vol sweet, ek het nie geweet waar om my hande te sit nie, en ek was só bewus van die kamera dat ek amper vir die lense ’n soen gegee het in plaas van my medeakteur! Vandag is dit makliker, veral danksy intimiteitskoördineerders wat seker maak almal voel veilig en gemaklik. Hulle is daar om perke te stel, te choreografeer hoe die toneel lyk, en te keer dat mens voel jy speel Twister met ’n medeakteur! Dit is baie meer professioneel en gesofistikeerd as toe ons net vir mekaar moes sê, ‘Uhm…okay, ek gaan nou maar jou gesig probeer soen, is dit oraait?’”

Sandi: “My eerste intieme toneel was in my eerste fliek. Ons het die toneel in ’n shack in die Namib-woestyn geskiet. Ek het die toneel saam met Jamie Bartlett geskiet en sonder ’n top. Jamie het op die bed gespring, my bene opgetel, aan beide kant van sy liggaam geplaas en dit nader aan hom getrek. Daar was beslis geen intimiteitskoördineerder of enige gedagte rondom dit nie. Ons telenovela word 18:00 uitgesaai en Diepe Waters is ’n familieprogram, so ’n intimiteitskoördineerder is nie regtig nodig nie. Ek en Justin is gemaklik met mekaar en werk lekker saam, maar op ons program is mense nooit kaal of super-intiem nie. Ek is wel baie bly dat daar vandag intimiteitskoördineerders is vir wanneer die inhoud meer intiem is.” 

Liefde is nie ’n kompetisie om te wen nie; dit is ’n plek waar jy iemand se grootste ondersteuner moet wees.

Justin Strydom

As jy so na Zelda en Gys se verhouding kyk, hoe dink jy sou jy daardie situasie hanteer? 

Sandi: “My instink sê vir my dat Sandi al lankal vir Gys onder sy gat sou geskop het. Soms verstaan ek nie haar beheptheid met hierdie man nie, maar dan onthou ek dat dit iemand is vir wie sy al sedert jaar tienerjare lief het.” 

Justin: “Ek is geneig om te sê dat as ’n verhouding jou siel opvreet, stap weg. Maar dan weer, as ek Gys is, is my antwoord, ‘Bly, baklei, en maak nog ’n paar foute, net vir die drama!’’

Met al jou lewenservaring, wat is een brokkie advies wat jy vir ’n jong paartjie sou gee?

Justin: “As ek my 20-jarige self kon raad gee, sou ek sê, moenie net probeer reg wees in ’n verhouding nie, probeer eerder reg wees vir mekaar. Liefde is nie ’n kompetisie om te wen nie; dit is ’n plek waar jy iemand se grootste ondersteuner moet wees. ’n Mens dink altyd groot gebare hou ’n verhouding aan die gang, maar dit is eintlik die klein dade van vriendelikheid wat ’n verhouding laat hou.”

Sandi: “Niemand gaan jou heel maak nie. Mense praat van jou beter helfte of twee mense wat een word en ek stem nie heeltemal saam nie. Jy moet eers vir jouself lief en heel wees, sodat jy die beste weergawe van jouself in ’n verhouding kan wees. Jy moet jouself liefhê, voordat jy liefde by iemand anders soek.” 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies