Menu terloops
In Lysie-lysie [7 Okt 2022]

Wie’s wie in ‘Diepe Waters’


Ontmoet die karakters van kykNET se splinternuwe telenovela, ‘Diepe Waters’.

Kyk nou

Wie’s wie in ‘Diepe Waters’
Kyk lokprent

kykNET se nuwe sepie-verhaal het dalk slegs ’n paar episodes agter die blad, maar daar blyk reeds hoogdrama in Diepe Waters se swembad te warrel. 

Die einde van Getroud met Rugby het plek gemaak vir ’n nuwe storiewêreld op ons kassies – die van ’n mededingende swemklub, en die swemmers en hul families wat almal hoop op goud. Hier volg ’n uiteensetting van die sepie se belangrikste karakters en die akteurs wat dié rolle vertolk. 

1

Justin Strydom as Gys Swarts 

Gys Diepe Waters

Gys is die sentrale karakter en die eienaar van Die Swartmarlyne-swemklub. Dis ’n familiebesigheid waarby albei Gys se seuns, Rossouw en Jacques, betrokke is. Sy droom is om ’n internasionale sportakademie op die been te bring. Hy plaas baie druk op sy kleinseun, Johan, om in swem te presteer. Dié geldgierige man lewe bo sy vermoëns en sy ambisie en gedrewenheid kan hom nog duur te staan kom. 

2

Werner Coetser as Jacques Swarts

Diepe Waters

Jacques is ’n baie aantreklike swemafrigter en ’n haan onder die henne. Hy is snaaks, sjarmant en ’n omgee-mens. Jacques staan nog altyd in sy pa, Gys, se skaduwee. 

Lees ook ons onderhoud met Werner oor sy nuwe rol.

3

Altus Theart as Rossouw Swarts

Diepe Waters

Rossouw is emosioneel afgestomp en hy verstaan nie die konsep van grys nie. Hy is die swemklub se boekhouer en Jacques se ernstige ouboet. Hy is baie beskermend teenoor sy kinders, Johan en Karla. Rossouw en sy vrou, Sanet, het nie juis ’n passievolle huwelik nie.

Lees ook ons onderhoud met Altus oor sy nuwe rol.

4

Nadia Valvekens as Sanet Swarts

Sanet is Rossouw Swarts se vrou en baie lief vir geld. Status en prestige is vir haar die belangrikste dinge in die lewe. Sy sit ongelooflik baie druk op haar dogter, Karla, om in die swembad te presteer. Haar hooffokus is dat Karla ’n beurs in die VSA kan kry sodat sy ook daar kan gaan bly. Sanet glo nog altyd sy is Rossouw se tweede keuse omdat hy iemand anders eerste liefgehad het.

5

Danielle Swanepoel as Karla Swarts

Karla kry enorme druk van haar familie om die beste swemmer in haar ouderdomsgroep te wees. Sy is haar oupa, Gys, se oogappel. In haar poging om almal anders te beïndruk, verloor sy haarself en weet nie meer wat sy regtig wil hê nie. Karla en haar pa, Rossouw, het ’n baie sterk band.

6

Liam Bosman as Johan Swarts

Johan is Gys Swarts se hormonale kleinseun en Karla se broer. Hy probeer sy bes om sy oupa in die swembad te beïndruk. Johan se grootste mededinger is Tshepo. Hy is uiters kompeterend en hou nie daarvan om tweede te kom nie. Johan is gewoond aan baie aandag van die meisies – en hy hou daarvan.

7

Lea Vivier as Meghan Swarts

Meghan is Gys se skouperd. Sy is eerbaar en beginselvas, maar Zelda manipuleer haar. Sy is ’n gedrewe vrou met ’n plan en smag na ’n vaderfiguur in haar lewe. Sy het al heelwat kêrels gehad, maar niemand permanent nie.

8

Reandi Grey as Anja Botha

Anja se familie was nie juis ryk nie en haar ma moes baie hard werk om brood op die tafel te sit. Sy was voorheen deel van die swemklub en haar afrigter, Gys, het groot drome gehad dat sy ’n Olimpiese medalje moes wen. Sy het ’n noue band met Gys se seun, Rossouw, by die klub gevorm.

9

Lizz Meiring as Tannie Bybie

Tannie Bybie is arm, maar eerlik. Sy draai nie doekies om nie en is ’n gesagsfiguur. Sy dra ’n groot geheim saam met haar. Bybie se oë mis niks nie. Sy was nog altyd enkellopend en het Meghan in pleegsorg geneem toe sy vyf jaar oud was en haar grootgemaak.

10

Sandi Schultz as Zelda Joubert

Zelda Diepe Waters

Zelda is die antagonis in die verhaal. Sy is ’n werkverslaafde en baie suksesvolle sakevrou. Zelda is gedrewe, ’n slim manipuleerder met ’n langtermynplan om op Gys wraak te neem. Sy konkel van begin tot einde om te kry wat sy wil hê.

11

Stephanie Baartman as Lettie Adonis

DIEPE WATERS Stephanie Baartman
Stephanie Baartman as Lettie in Diepe Waters. Foto: Verskaf/kykNET

Lettie is die eienaar van Lettie’s Keffie. Sy is ’n spontane mens met ’n aansteeklike lag. Sy is mal oor bak en om ander te bedien. 

Lees ook ons onderhoud met Stephanie oor haar nuwe rol as Lettie.

12

Eloise Cupido as Rose de Wet

Rose Diepe Waters

Rose is baie loopbaangedrewe. In die proses skeep sy haar dogter, Nina, af. Sy het arm grootgeword en hard gewerk om te kom waar sy is. Haar ouers het al hul spaargeld gebruik om haar universiteit toe te stuur. Sy het ’n passie om mense te help om geregtigheid te kry.

13

Neels van Jaarsveld as Wim de Wet

Wim Diepe Waters

Wim is Rose se man. Hulle het mekaar 23 jaar gelede op universiteit ontmoet toe hy ingenieurswese studeer het. Al wat hy wil hê, is ’n gelukkige gesin en om ’n goeie pa vir sy dogter, Nina, te wees. Rose dink Wim bederf Nina met te veel aandag.

14

Reze-Tiana Wessels as Nina de Wet

Nina Diepe Waters

Nina is ’n skaam, slim introvert met groot swemtalent. Sy en Karla word dadelik vriende. Sy hou daarvan om alleen te wees met haar neus in ’n boek. Omdat sy so ’n slimkop is, is sy bietjie van ’n randeier in die skool. Haar ma, Rose, is meestal te besig om aandag aan haar te gee.

15

Stiaan Bruwer as Henry Jakobus Puddu

Henry Diepe Waters

Henry is van gemengde Italiaanse, Afrikaner- en Engelse afkoms. Hy beskou homself as ’n pavement special. Hy is komieklik en baie simpatiek. Sy opgewekte karakter versteek die feit dat hy met baie onsekerhede worstel. Hy het nooit regtig iets groots in sy lewe bereik nie en het ’n baie swak selfbeeld. Hy het Tshepo ingeneem toe hy agt was en maak hom as sy eie seun groot.

16

Johnny Potsanyane as Tshepo Buti

Tsepho Diepe Waters

Tshepo is ’n steratleet met natuurlike talent. Hy straal stille selfvertroue uit. Hy is baie beskeie oor sy sporttalent. Tshepo het albei sy ouers verloor toe hy baie jonk was en Henry het hom ingeneem. Sy droom is om aan die Olimpiese Spele deel te neem sodat hy ’n huis vir hom en Henry kan koop.

17

Rika Sennet as Lydia Botha

Lydia Diepe Waters

Ouma Lydia is ’n tipiese ouma, al is sy net 65. Sy lewe vir haar kleinkinders, Karla en Johan. Ouma Lydia brei, hekel, doen werkies in en om die huis en probeer altyd oral uithelp waar sy kan. Sy bly saam met haar oudste dogter, Sanet, en skoonseun, Rossouw, in die huis.

18

Tracey-Lee Oliver as Pam Joubert

Pam Diepe Waters

Pam wil graag liefgehê word. Sy vind later ’n groot geheim uit. Sy is konstant op soek na iets nuuts om te probeer. Sy is bangom alleen oud te word en weet glad nie wie sy is nie. Sy oefen soos ’n besetene en bestee baie tyd in die swembad en gimnasium.

19

Jean Henry as Arno van der Westhuizen

Arno Diepe Waters

Arno is ’n aantreklike, fietse knaap. Hy het in Brandfort in die Vrystaat grootgeword. Hy is ietwat van ’n bleeksiel en besef nie hoe erg baie vroue (en mans) oor hom is nie. Hy het nie ’n slegte haar op sy kop nie, maar sy naïwiteit sal nog sy ondergang beteken.

Diepe Waters saai vanaf 3 Oktober, Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, uit. Ook op Catch Up en DStv Online beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies