Menu terloops
In Lysie-lysie [27 Sep 2022]

Ons groet ‘Getroud met Rugby’: 10 onvergeetlike oomblikke


Van die eerste gay rugbyspeler op TV tot die swaarste totsiens – ons kyk terug na tien goue oomblikke in ‘Getroud met Rugby’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

Ons groet ‘Getroud met Rugby’: 10 onvergeetlike oomblikke

Ná 14 jaar se lag, huil, naels byt, groei en bewusmaking rondom belangrike sosiale kwessies in Getroud met Rugby, word die eindfluitjie hierdie Vrydagaand (30 September) vir die Stryder-rugbygemeenskap geblaas. 

Oor die afgelope drie weke het dit vir my gevoel asof ek saam met dié sepie ’n emosionele langafstandwedloop hardloop. Ons het stadig begin en momentum gebou in afwagting van hierdie week se laaste sprint na die doellyn.

Getroud met Rugby is aanvanklik in 2009 as ’n dramareeks van 13 episodes op kykNET uitgesaai, maar sy sterk karakters en warm storielyne het vinnig diep in die harte van kykers gekruip. Ná vyf seisoene is dié reeks, geskep deur Deon Opperman en Hanli Rolfes, toe in 2016 in ’n daaglikse sepie omskep.

Sedertdien skakel kykers elke weeksaand klokslag in om te sien hoe die drama in die fiktiewe wêreld van die Stryders-rugbyspan ontvou. Daar was liefde, tragedie, drama, intrige, spanning en feesvieringe… En dié week is dit die einde van ’n era. 

Dit is dalk die einde van die Stryders-gemeenskap se tyd op ons kassies, maar die herinneringe en goue oomblikke sal vir altyd in ons harte bly. Dit was 14 jaar van TV-goud!

Van die eerste gay rugbyspeler op TV tot die swaarste totsiens, ons kyk terug na tien van die grootste, skokkendste en hartverwarmendste oomblikke saam met ons geliefde Stryders-familie. 

1

Die Stryders en mode

Getroud met Rugby
Bibi (Stephanie Baartman) se trourok het eksie-perfeksie by haar persoonlikheid gepas. Foto: Verskaf/kykNET

Van Kristien (Marlee van der Merwe) se boss mode power suits en Amanda (Natasja Jacobs) se sexy uitrustings, tot Lulu (Ansu Visser) se comfy chic-styl en Lienkie (Mandie du Plooy-Baard) se vrolike klerekas, die vroue op Getroud met Rugby weet hoe om die koppe te laat draai. Elke aand is ’n geleentheid om nuwe inspirasie vir jou klerekas te kry.

Die grootste mode-oomblikke op hierdie stel was egter as trouklokke gelui het. Wie kan nou vir Maryke (Marijke Coetser) in daardie kantrok vergeet of Amanda en Reitz (Sean van Noordwyk) by hul asemrowende kerktroue met dramatiese swart, wit en helder kleure. Maar wit is nie vir alle bruide nie, so daar was natuurlik ook uitstaanrokke soos Lienkie, Bibi (Stephanie Baartman) en Nesie (Melissa Massyn) se rokke wat almal perfek by die vroue se persoonlikhede gepas het.

2

Tweede kanse

Candice (Claudia Jones) en Liam (David Johnson) het – gelukkig – keer op keer hul pad terug na mekaar gevind. Foto: Verskaf/kykNET

Dit kan soms moeilik wees om te vergewe en te vergeet. Maar die Getroud met Rugby-span het dit reggekry om kykers te laat glo in tweede kanse. Ja, selfs in sepieland werk dinge nie altyd uit soos wat jy beplan het nie, maar ten minste het hul storielyne vir kykers hoop gegee. Uitstaan-storielyne is toe Candice (Claudia Jones) en Liam (David Johnson) hul pad keer na keer weer na mekaar toe gevind het. Dít selfs nadat Candice vir Liam verneuk het. Toe Magda (Elzabé Zietsman) vir Maryke verras het met enige dogtertjie se droom-verjaarsdagpartytjie met koek en ’n balloon arch omdat sy nie deel was van haar dogter se 31 vorige verjaarsdae nie, het dit gewys dat dit nooit te laat is om ’n verhouding te bou nie.

3

Lienkie se kanker-journey

Getroud met Rugby
Hierdie was een van die mooiste oomblikke sedert die ontstaan van Getroud met Rugby… Foto: Verskaf/kykNET

Lienkie en Blitz het amper nie ’n lewe saam gehad nie. Maar nadat Blitz weer sy verlore liefde gevind het, het hulle vir al die verlore tyd opgemaak. Hulle liefdesverhaal is een van my gunstelinge. Toe Blitz (Werner Coetser) vir die eerste keer met ’n matching kaalkop in ’n toneel saam met die beeldskone Lienkie verskyn het, was dit powerful. Daardie hele storielyn het aan baie kykers se hartsnare getrek, omdat ons almal iemand met kanker ken. Ek is seker almal het ewe hard saam met my in hul sitkamers gebid dat Lienkie moet oorleef en wat ’n wonderwerk toe sy wel herstel. Ongelukkig het sy dit nie ’n tweede keer oorleef nie, maar die Vermeulen-gesin sal nog vir jare in ons harte bly.

4

Die son in Amanda se wêreld

Die trane het geloop toe Amanda (Natasja Jacobs) vir Reitz moes groet. Foto: Verskaf/kykNET

Reitz Bekker (Sean van Noordwyk) was geliefd onder kykers en al het hy harte gewen met sy persoonlikheid en sin vir humor, was ek mal oor die feit dat hy die beste uit mense uit gebring het, veral Amanda! Amanda is slinks en weet net hoe om mense om te krap, maar ons het almal ’n sagter kant van haar leer ken toe sy saam met Reitz Bekker was. Ek sal nooit die gebrokenheid in haar oë vergeet die dag toe sy vir sy familie vertel dat hy breindood is nie. Ek sal ook nie vergeet hoe stukkend sy was toe sy vir Reitz in sy hospitaal bed soen en groet met die woorde: “Jy was die son in my wêreld.”

5

Simon sterf aan selfdood

Simon (David Louw) se afsterwe was moeilik – tog noodsaaklik – om op TV te aanskou. Foto: Verskaf/kykNET

Die Stryder-familie was in rou gedompel ná Simon (David Louw) se afsterwe. Kykers het ’n lang pad saam met Simon, Renate (Christel van den Bergh) en Lulu gestap. Al het hy sterk gebly en sy beste probeer om vir Renate ná haar ineenstorting te help, kon hy nie dieselfde vir homself doen nie. Sy laaste toneel was roerend en moeilik om te kyk. Maar sy begrafnis in Potties het my herinner aan Gerard Butler se karakter se begrafnisdiens in ’n Ierse kroeg in die 2007 trefferfliek PS.I love you. Dit was ’n belangrik en kragtige storielyn.

6

Henk ontvoer vir Kristien

Fantastiese toneelspel van beide Quentin Krog en Marlee van der Merwe het dié storielyn gravitas gegee. Foto: Verskaf/kykNET

Ons kon nie glo toe Henk (Quentin Krog) vir Kristien op ’n live stream wou doodmaak nie. Maar nes die karakters, kon ons nie wegkyk nie. Albei karakters se toneelspel was ongelooflik en jy kon die angs en desperaatheid deur die TV-skerm voel. Henk sal seker vir altyd as een van die mees siek TV-karakters onthou word.

7

Ivy word verkrag

Tené Minderon as Ivy in Getroud met Rugby
Tené Minderon as Ivy in Getroud met Rugby. Foto: Verskaf/kykNET

Hierdie storielyn het die hare op my arms laat opstaan, want dit is iets wat met enige persoon kan gebeur. Tené Minderon, wat die rol van Ivy vertolk, het hierdie storielyn met soveel oortuiging en gevoel vertolk dat haar pyn tasbaar was. Daar is baie tonele wat uitstaan. Vir my was die hoogtepunt die dag toe sy vir Henk in die tronk gaan besoek en vir hom in die oë gekyk het. In daardie toneel dink ek het sy vir baie mense hoop gegee en gewys dat jy selfs as ’n slagoffer sterk kan staan en jou krag terugeis.

Lees ook ons onderhoud met Tené oor hoe sy vir dié storielyn voorberei het.

8

Potties se kroeg

So baie het in die Stryders se watergat gebeur. Bekendes het in Potties kom optree, Lulu het in Potties gekraam, kompetisies soos die “Beste bene in Afrika” het als in hierdie ikoniese kroeg plaasgevind. Daar was nooit weer ’n lekker kuierplek soos Potties wees nie.

9

Bart gaan tronk toe

Ná jare se gekonkel en slinkse planne was almal verlig die dag toe Bart uiteindelik tronk toe is. Dit was ’n nuwe begin vir die Stryders met Schalk aan die stuur van die skip. Bart se liefdeslewe het ook vir tonne vermaak en tonele van passie gesorg. En wie sal nou ooit daai epiese cat fight kan vergeet waarin Kristien en Amanda op die vloer gestoei het? Als danksy Bart… Dit het lank gevat voordat hulle hom kon vastrek, maar dit was die wag werd.  

10

Stryders ondersteun LGBTQ-beweging

Ek het nooit gedink ek sou ooit ’n gay rugbyspeler op Afrikaanse TV sien nie, maar Getroud met Rugby het probeer om stereotipes af te breek. Hulle het sosiale kwessies met respek hanteer en was nie bang om moeilike storielyne aan te pak nie. Toe Ryno (Adrian Steyn) by die Stryders aansluit, het dit baie kykers op sosiale media ontstel. En selfs in die storie wou die ander spelers nie voor ’n gay man uittrek nie. Daar was later selfs ’n weddenskap om te sien wie van die dames hom straight kan maak… Maar ten spyte van ’n wankelrige begin, was dit ook ’n toneel om te onthou toe Bibi met haar pragtige stem vir Ryno en Thinus (Arno Marais) gesing het terwyl hulle trou aan mekaar voor die kansel sweer. Bibi en die manne het daardie aand die trane laat loop en harte gewen.  


Kyk Getroud met Rugby op DStv Online tot 30 September. Dit is reeds ook op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies