Menu terloops
In Onderhoude [30 Nov 2021]

‘Ek verstaan nou hoekom vroue stilbly oor verkragting’ sê ‘Getroud met Rugby’ se Tené


Dit was ’n donker en traumatiese week op ‘Getroud met Rugby’ nadat Ivy, gespeel deur Tené Minderon, in haar woonstel verkrag is. Die aktrise vertel oor die impak wat dié aktuele en emosionele storielyn op haar gehad het.

Deur Rozanne Els

Kyk nou

‘Ek verstaan nou hoekom vroue stilbly oor verkragting’ sê ‘Getroud met Rugby’ se Tené

Sy was senuweeagtig nadat sy van Ivy se roerende verkragtingstorielyn uitgevind het, vertel Tené Minderon. As ’n relevante en tydige storielyn in die konteks van Suid-Afrika se hemelshoë verkragting- en geslagsgebaseerde geweldvoorvalle, het sy besef hoe belangrik haar uitbeelding van Ivy se ervaring is. Boonop is die storielyn só beplan om met Suid-Afrika se 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders saam te val. Vanjaar se veldtog het op 25 November begin.

Op Vrydag, 19 November, het Getroud met Rugby se skrywers kykers geskok met ’n helse ommeswaai. Bibi (Stephanie Petersen) en Jordan (Theodore Jantjies) het pas troue gehou. Die glimlagte was groot en die gees jolig – en toe word Ivy in haar woonstel verkrag.

Sedertdien het ons die nagevolge van die haglike gebeurtenis sien uitspeel – van Ivy se aanvanklike skok, vrees en pyn, tot haar huiwerigheid om die voorval by die polisie aan te meld en later, hoe die nuus van haar trauma ander slagoffers aanmoedig om ook hul stories te vertel. En dan vind ons uit daar is ’n reeksverkragter in die rugbygemeenskap se midde.

Tené vertel hoe sy die storielyn benader het en hoe dit haar tot nuwe insigte gebring het.

Het die verkragting-storielyn as ’n verrassing gekom, of is dit iets wat die skrywers en vervaardigers vooraf met jou bespreek het?

Ek het vooraf geweet ek gaan ’n emosionele storielyn kry, maar ek het nooit hierdie verwag nie. Ek is so paar weke vooraf laat weet dat my karakter, Ivy, verkrag sal word. Dit was ’n skok, maar ek het dit as ’n geleentheid gesien.

Ek is net so dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om die storielyn te vertolk, en ek hoop iemand sien hierdie tonele en besef dat hulle nie alleen is nie, en dat daar hulp is en wat met jou gebeur het, bepaal nie wie jy is nie.

Dit klink na ’n aardige vraag, maar hoe het jy daarvoor voorberei? 

Ek het vooraf ’n bietjie navorsing gedoen oor reekse en films wat verkragting insluit, om ’n idee te kry oor hoe die karakters reageer en optree. Ek het ook, sodra ek my tekste gekry het, begin leer sodat ek vir die tonele voorbereid was.

Ek hoop iemand sien hierdie tonele en besef dat hulle nie alleen is nie, en dat daar hulp is en wat met jou gebeur het, bepaal nie wie jy is nie.

Tené Minderon

Hoe het jy gemaak om jou eie persoonlike ervarings en gevoelens met dié van jou karakter se ervaring te balanseer of te vereenselwig?

Ek is so dankbaar dat ek nog nooit in so ’n situasie was nie, en só kon ek met ’n oop kop hierdie rol vertolk. As ’n jong vrou in hierdie land kan ek vereenselwig met die feit dat teistering basies elke dag met ’n vrou gebeur. Voor hierdie storielyn het ek gedink ’n vrou sou dadelik ’n saak wou aanmeld, want dis wat ek gedink het ek sou doen. Maar ek het besef hoekom so min vrouens verdere stappe neem, en ’n ander persepktief gevind rakende verkragting. Dit het my in die slagoffer se sitplek gesit, en ek het besef hoe tragies dit moet wees.

Dit is natuurlik ’n baie relevante en tydige storielyn in die konteks van Suid-Afrika se hemelshoë verkragting- en gendergebasseerde geweldstatistieke – het jy ’n verantwoordelikheid gevoel, of dalk selfs ’n senuweeagtigheid, in terme van hoe jy en jou mede-akteurs die storielyn hanteer en vertolk?

Nadat ek uitgevind het dat my karakter verkrag gaan word, het ek baie senuweeagtig gevoel, omdat ek weet hoekom die skrywers hierdie baie belangrike storielyn geskryf het. Ek was skrikkerig, want ek het geweet ek sou dit reg moes doen, anders sou die erns van die saak nie oorgedra word nie. Ivy het deur ’n traumatiese ervaring gegaan en self besluit sy moet daardeur werk en daaroor praat. Ek dink elke vrou wat persoonlik deur so ’n situasie gegaan het, kan hierna kyk en vereenselwig met Ivy se gevoelens. Ek het verantwoordelik gevoel om die karakter uit te beeld presies hoe ek as jong vrou sou reageer om egtheid te behou. 

Wat van die storielyn het jou die hardste getref?

Die emosionele trauma waardeur vrouens gaan ná verkragting, of selfs teistering, het my oë oop gemaak. Ek het nooit besef wat die slagoffer se standpunt is nie, en hoekom hulle nie sou wou praat nie. My perspektief het verander en ek verstaan nou hoekom so baie vrouens stilbly en die redes wat hulle daarvoor het. Ek hoop hierdie storielyn laat hulle besef dat hulle kan uitkom en daaroor praat.

Het jy iets oor jouself deur die loop daarvan geleer?

Ek het as aktrise beslis baie gegroei en is al soveel gemakliker agter die kamera. Ek het geleer dat ’n mens vinnig is om situasies waarin jy nog nooit self was nie te oordeel, deur te glo vroue in dié situasies moet net polisie toe gaan en daarna gaan als beter gaan. Maar dit is nie waar nie – daar is soveel meer agter ‘n storie as wat jy kan sien. 

Hoe is jy op stel ondersteun?

My medeakteurs en die crew op stel was baie hulpvaardig en het seker gemaak ek voel gemaklik en was heeltyd stil op stel sodat ek nie gesteur sou word terwyl ek vir die tonele voorberei het nie. Marissa Drummond was die regisseur vir sommige tonele en sy het my ongelooflik baie gehelp om meer van die karakter se ervarings te verstaan. Ek dink omdat sy ook ‘n vrou is, kon sy direk met my praat, en só kon sy my help om die karakter se seer en kwesbaarheid te verstaan.

Hoe het jy en die akteur wat die verkragter vertolk saamgewerk om die storielyn gestand te doen?

Ek was baie verbaas dat *** die verkragter is. Dit was so ’n skok, want ek het ook eers halfpad deur die skiet van die tonele gehoor wie dit is. *** is ’n ongelooflike akteur en ek was so op my senuwees, so amper asof ek regtig in die situasie was. Ek het regtig geskrik en amper begin huil toe ons die toneel gedoen het, omdat sy toneelspel so goed was.

Was dit vir jou moeilik om jou karakter en haar ervaring op stel te los wanneer jy huis toe gegaan het?

Ja, beslis. Ek het lank vooraf my tekste begin leer om seker te maak ek is voorbereid vir wanneer ons begin skiet, en ek het selfs my tonele opgeneem en dit oor en oor geluister, maar dit het my nagmerries gegee! Ek het moeilik geslaap rondom die tyd van die storielyn (se verfilming), en ek dink dit is omdat ek myself só ingeleef het dat ek die gebeurtenis met die woorde van die tekste in my kop afgespeel het. Dit het my ’n bietjie gevang, maar dit was presies wat ek moes doen om so eg as moontlik te speel.

Watter terugvoer het jy van kykers, vriende en familie gekry?

Ek is so dankbaar vir my familie en vriende! Ek het baie goeie terugvoer gekry en dit maak my bly, want dit voel of ek die storielyn gestand gedoen het. Ek wou dit tot die beste van my vermoë doen omdat die storielyn so ’n belangrike onderwerp is, en ek dink die terugvoer is beter as wat ek verwag het. 

Kyk Getroud met Rugby op DStv en DStv aanlyn. Episodes is ook op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies