Kykers het onlangs die Stryders-rugbygemeenskap in Getroud met Rugby ná 14 jaar op die kassie gegroet. Van die gewildste Getroud met Rugby-gesigte is egter nou deel van die Swartmarlyne-swemklub – die spil waarom die intrige in Diepe Waters draai.
Diepe Waters vertel oor die wel en weë van die Swarts-familie. Gys Swarts, vertolk deur Justin Strydom, is die patriarg van die familie. Hy lewe bo sy vermoëns en is baie geldgierig. Sy ambisie en gedrewenheid maak dat hy mense naby aan hom seermaak.
Die gesoute akteurs Werner Coetser en Altus Theart, bekend vir hul onderskeie rolle as rugbyspeler Blitz Vermeulen en afrigter Fafa Beltrami in Getroud met Rugby, vertolk die rolle van Gys se seuns, Jacques en Rossouw.
Jacques se smeulende lyf langs die swembad kan enige vrou se hart vinniger laat klop, maar hy is ook snaaks, sjarmant en ’n regte omgee-mens. Jacques lewe al vir jare in sy pa se skaduwee. Pa en seun is uiters kompeterend en die emosies tussen hulle loop hoog.
Rossouw is die Swartmarlyne se boekhouer en Jacques se ernstige ouboet wat altyd vir hom opkom. Hy is emosioneel afgestomp en alles is swart en wit in sy wêreld. Rossouw is baie beskermend teenoor sy kinders Johan (Liam Bosman) en Karla (Daniélle Swanepoel), maar hy en sy vrou, Sanet (Nadia Valvekens), het nie juis ’n passievolle huwelik nie.
Ons weet dat elke gemeenskap op die kassie ’n saamkomplek nodig het en in Diepe Waters is daardie plek Lettie’s Keffie. Die geliefde aktrise Stephanie Baartman, wat die rol van Bibi in Getroud met Rugby vertolk het, is die spontane Lettie Adonis. Sy besit dié gewilde koffiewinkel en is ook die skouer vir ieder en elk se trane. Lettie het ’n aansteeklike lag, en hart wat altyd regstaan om ander te dien.
Hoewel al drie akteurs baie opgewonde oor dié nuwe hoofstuk, was dit maar die afgelope paar maande bittersoet om die emosies van ’n opwindende begin en die einde van ’n ander TV-familie te balanseer.
terloops het met Stephanie, Werner en Altus gesels oor hul tyd op die stel van Getroud met Rugby en hul nuwe karakters in Diepe Waters.
Wanneer jy so lank op ’n produksie se stel werk, is dit nie meer werk nie en word kollegas soos familie. Vat ons terug na jou eerste en laaste dag op die stel van Getroud met Rugby.
Stephanie: “Die eerste dag op stel was absoluut oorweldigend. Ek kon nie glo ek het ’n rol in ’n sepie losgeslaan nie. En dít nogal saam met mense wat ek as lewende legendes beskou het. Marijke Coetser was in my eerste toneel, en sy is vandag nog een van my naaste vriendinne. My toneelspel was natuurlik heeltemal oordrewe, maar dis oukei. My laaste toneel was, heel gepas, ook saam met Marijke. Ek was ongelooflik hartseer en nostalgies op my laaste dag. Trouens, ons almal was. Ons het op die laaste dag van verfilming darem ’n heerlike afskeidspartytjie gehad. Dit het gehelp om ons almal se gemoedere ’n bietjie te lig. Gelukkig is die bedryf relatief klein, en sien ons mekaar nog gereeld.”
Werner: “Dit is altyd ’n vreemde gevoel om met ’n nuwe projek te begin, maar ek kan onthou dat ek dadelik tuis gevoel het by Getroud met Rugby. My eerste toneel was my aankoms by die stadion. Ek het so te sê in Marijke (nou sy vrou) vasgeloop en Blitz het vol van homself vir haar gevra waarheen om te gaan. Min het ek geweet dat dié einste aktrise eendag my vrou en ma van my kind sal wees. Getroud met Rugby het vir my baie gegee. ’n Gesin, asook ’n nuwe familie. Die laaste toneel was in Pottie’s saam met die hele familie. Dit was ’n moeilike toneel, want almal het geweet dat wanneer die span ‘cut’ roep, dit die laaste keer sou wees.”
Altus: “Daar was nogal ’n (groot) verskil tussen my eerste en laaste dag op stel. Dag een was ek nog baie nuut in die game. Ek het groot skoene gehad om vol te staan teenoor legends soos Louis van Niekerk en André Odendaal. Obviously was dit ook ’n eer om saam met Deon Opperman en Cobus Rossouw te kan werk. Die eerste dag was letterlik scene one take one met Fafa se reveal waar hy by die spiral trappe van die stadion afstap, met duisende girls wat skree en vir handtekeninge vra. Dan stap hy kar toe en daar sit Kiki op die kar, waar hy natuurlik die liefde van sy lewe ontmoet.
“Die laaste dag was ons almal saam in Pottie’s. Ek het oor die afgelope 14 jaar soveel vriende gemaak en soveel familie gemaak. Dit was baie exciting op die eerste dag en baie, baie sad en bittersoet op die laaste dag. Ek het uitgesien na wat voorlê, maar was ook baie hartseer oor 14 jaar van my lewe wat tot ’n einde gekom het.”
As jy dink aan wie jy was toe jy by Getroud met Rugby begin het en wie jy nou is, hoe het jou tyd by Getroud met Rugby jou as persoon en akteur help groei?
Stephanie: “Wel, die mees opsigtelike verandering is seker my gewig. Ek is 35kg ligter as toe ek by Getroud met Rugby begin het. Nie net het ek vriende gemaak wat ek nou as familie tel nie, ek het ook as aktrise en mens verander. Ek is, uit die aard van die saak, dan ook nou ses jaar ouer. Om vir ses jaar in so ’n intieme mikrokosmos te leef, laat jou elke aspek van jou persoonlikheid ontwikkel. Ek dink ek is nou meer volwasse, meer verdraagsaam, en ek het groter begrip en deernis vir my medemens.”
Werner: “Ek het begin as ’n jong man wat selfsugtig geleef het. Al waaroor ek moes worry was myself. Jy neem besluite sonder om twee keer te dink. Nou is ek ’n pappa en ’n man van ’n ongelooflike vrou. Die uitkyk op ’n mens se lewe het heeltemal verander.”
Altus: “Dit was iets anders destyds, maar ek het oor die jare soveel by die produksie en akteurs geleer. Dit wat ek by hulle kon steel en leer het my gehelp om baie vinnig groot te word in die bedryf, as gevolg van die magdom kennis wat rondom my was. Ek sal altyd dankbaar wees vir dit wat hulle vir my geleer het. Dit het my gemaak wie ek vandag is.”
Hoe het jy gevoel die dag toe jy uitvind Getroud met Rugby gaan klaarmaak?
Stephanie: “Ons was almal maar redelik geskok. Nie net het dit ’n geweldige emosionele impak op ons gehad nie, maar elkeen van ons het ook die finansiële implikasies vinnig besef. Ons moes bitter vinnig innoverend en kreatief begin dink en vir onsself werk skep. Ek was baie dankbaar vir die rol in Diepe Waters, maar moes myself ook vinnig in ander en nuwe waters begewe. Ek is nou ’n regisseur by MultiChoice, wat die regie vir ’n Turkse telenovela behartig. Dan speel ek ook ’n rol in ’n ander Turkse telenovela en natuurlik gaan my singery ook nog voort. So ja, die einde van Getroud met Rugby het my beslis uit my gemaksone geruk. Dit het my laat besef dat niks vir ewig is nie, en dat werk nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.”
Werner: “Dit was vir ons almal ’n skok toe ons uitvind dat dit klaarmaak. As akteur weet jy ook dat geen produksie vir altyd kan aangaan nie. Ek het saam met vriende van my gekuier toe ek die oproep kry dat ek die rol in Diepe Waters gekry het. As dit nie was dat ons in ’n publieke plek was nie, sou ek verseker ’n wawiel gemaak het. Dit is wel moeilik om te weet jy het werk gekry, maar van jou vriende het nog nie. Al wat jy kan doen, is om op jou knieë te gaan en dankie te sê. En ook te bid vir almal om ook weer hulle plek in ʼn nuwe produksie te vind.”
Altus: “Dit was baie sad, maar ek het snaaks genoeg vrede gehad met Getroud wat klaarmaak. Dit is ’n hoofstuk in ’n mens se lewe wat sluit en ’n nuwe seisoen wat begin. Ná 14 jaar was Getroud baie close to home vir my en dit waar my loopbaan eintlik begin het. Maar elke boek maak een of ander tyd toe. Ek onthou ons was op die rugbyveld die dag toe ek hoor ek het die rol in Diepe Waters gekry. Ek het na Werner gestap en gevra of hy al enige nuus gehoor het. Hy het toe vir my gesê, ‘wel as jy Rossouw speel, dan is ek Jacques’. Dit was nogal ’n cool oomblik. Die beste manier om daardie laaste rukkie tussen die twee te beskryf is een voet in die graf en die ander in die kraamsaal.”
Dit is lekker dat kykers steeds weekliks vir jou op dieselfde tyd en plek sal kan sien, maar hoe het jy seker gemaak dat jou nuwe karakter heeltemal anders is?
Stephanie: “Dit was moeilik, want waar Bibi ’n salon gehad het, het Lettie nou ’n kafee. Beide is ook sulke regte biegmoeder-karakters. Lettie trek gelukkig nie so flambojant aan soos Bibi nie, en is ook nie so melodramaties nie. Gelukkig het Diepe Waters nie dieselfde skrywers as Getroud met Rugby nie, so Lettie is nie ’n voortsetting van Bibi nie. Ek glo ek is teen dié tyd al heel tuis in Lettie se vel. Dit is natuurlik verstaanbaar dat die kykers parallelle sal trek tussen die twee karakters. Ek glo hulle sal gou genoeg agterkom dat Bibi en Lettie bitter min in gemeen het.”
Werner: “Daar sal seker altyd ’n stukkie van Blitz in my wees… MaarJacques is vol lewenslus en hy vat die lewe ook een dag op ’n slag. Dit is presies wat ek probeer doen om die karakter lewe te gee: een toneel op ’n slag. Daar is wel baie dinge wat ooreenstem met Blitz, maar daar is ook baie verskille.”
Altus: “Dit het in ’n stadium gevoel ek kan nie meer act nie, omdat Fafa so deel van my is. Om hom af te skud, was baie challenging. Dit was hartseer om Fafa te groet, maar ons is creative beings en ons kan nie te lank aan dieselfde painting verf nie. Dit was refreshing en lekker om weer in die dieptes van ’n nuwe karakter te klim. Om te voel waar hy in jou lyf sit. Dit laat ’n mens regtig net dankbaar en geseënd voel.”
Diepe Waters saai vanaf 3 Oktober, Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, uit.